Politieke moorde in KZN sterk veroordeel

Argieffoto

Die ANC en die Inkatha Vryheidsparty (IVP) in KwaZulu-Natal het die twee onlangse “politieke moorde” in dié provinsie ten sterkste veroordeel.

Dit kom nadat ʼn bekende ANC-aktivis en ʼn munisipale raadslid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) Vrydagaand in twee afsonderlike voorvalle vermoor is. Die name van Musawenkosi Maqatha Mchunu van die ANC en dié van Samkelo Dlamini van die IVP is nou deel van die lang lys leiers wat onlangs in dié provinsie vermoor is.

Mchunu is doodgeskiet toe hy Vrydagaand uit sy motor geklim het pas nadat hy by die huis stilgehou het. Dlamini is in ʼn afsonderlike voorval, na bewering in Ulundi in sy motor, doodgeskiet. Sy dood kom aan die vooraand van dié party se nasionale raadsvergadering wat gaan fokus op kwessies oor gereedheid vir die nasionale konferensie.

“Die ANC veroordeel die wrede, koelbloedige en sinnelose moord van politieke leiers in KwaZulu-Natal,” het die party in ʼn verklaring gesê. “Die party is geweldig geskok oor dié voorvalle waarin drie politieke leiers in een week dood is.”

Die ANC het ook verwys na Sifiso Cele (42), ʼn tesourier van die Oshabeni-tak in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, wat op 8 Mei voor sy lewensmaat en kinders doodgeskiet is.

“Die dood van die KwaZulu-Natalse gemeenskapsleiers is geweldig traumaties en die ANC doen ʼn beroep op die wetstoepassingsagentskappe om hierdie moorde te ondersoek.”

Die ANC het ook ʼn beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om ondersoek in te stel na dié beweerde politieke moorde in die provinsie aangesien dit volgens die party duidelik geword het dat “dit [die moorde] ʼn manier geword het om leiers uit te skakel vir die volgende demokratiese verkiesing”.

Mkhuleko Hlengwa van die Inkatha Vryheidsparty het ook in ʼn aparte verklaring sy skok oor die dood van Dlamini uitgespreek.

“Sy ontydige dood het ons beroof van ʼn belowende en ontluikende leier wat deur sy leierskap, insig en intellek baie aan [die politieke landskap] gebied het. Ons verwag dat wetstoepassingsagentskappe die moord deeglik sal ondersoek en die moordenaars sal vastrek. Hy is koelbloedig vermoor en ons sal slegs afsluiting kry as die skuldiges vasgetrek word.”

Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het vroeër bevestig dat die polisie die moorde ondersoek en ook ondersoek instel na bewerings van “politieke moorde”.

Meer as 80 politieke leiers is sedert 2011 in KwaZulu-Natal afgemaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

elba muller ·

Ek stem honderd persent saam. Wanneer oordeel hulle die wrede moorde op wittes? Maar kerm gou as hulle soort ook deurloop.

Oom Kalahari ·

Dit is hartseer dat families hierdie tipe van moorde moet mee maak, maar dit gaan alles net oor geld en mag. Sterkte en medelye aan die families en vriende vir hierdie sinnelose dade op IVP en ANC leiers in Kwa-Zulu in Natal.

dom ·

Wat van die POLITIEKE plaas moorde en die politieke uitwisting van die wit mens!

GEWOON ·

Daar is nie POLITIEKE moorde nie soos daar nie PLAASMOORDE Is volgens julle nie . dit is alles GEWONE MISDAAD wat ONDER BEHEER IS .. so ja .. deal with it.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.