Politieke naels kom uit oor belastingwet

Tito Mboweni lewer Woensdag sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: Siyabulela Duda)

Die politieke naels is Dinsdag in die Nasionale Vergadering geslyp en wedersyds diep ingeslaan – en dit nogal in ’n debat oor ’n wetsontwerp wat eenparig deur alle partye aanvaar is.

Ter sprake is die Wetsontwerp op Belasting tydens Rampbestuur, wat belastingverligting bring vir ondernemings wat finansieel swaar trek wens die koronavirus en die grendelstaat. Die wetgewing wettig stappe wat eintlik grootliks reeds deur die regering gedoen is, soos aftrekkings vir donasies aan die regering se solidariteitsfonds en die uitbreiding van indiensnemingsvoordele vir mense ouer as 29 jaar.

Die DA het gesê die wetsontwerp gaan glad nie ver genoeg nie. Die DA-LP Geordin Hill-Lewis het gesê die landsgrense moet so gou moontlik heropen vir internasionale toerisme, en sy mede-LP van die DA, dr. Dion George, het gesê verdere belastingaftrekkings is noodsaaklik vir mense wat van die huis af moes werk.

Hill-Lewis het voorts gesê die vraag is of die belastingaftrekkings genoeg gaan wees om die ekonomie darem oorlewingskans te gee en ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om weer op hul voete te kom.

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Verskaf)

“Ons is in ’n erge finansiële krisis, en die ergste kom nog. Ons moet ondernemings oop hou, en mense aan die werk hou. Die regering is te stadig, met die gevolg dat 2,5 miljoen Suid-Afrikaners die afgelope paar maande hul werk verloor het,” het Hill-Lewis uitgewys.

Die EFF het gesê die belastingbasis – die aantal Suid-Afrikaners wat belasting betaal – raak al kleiner en dus neem belastings toe.

In ’n stukkie logika-gimnastiek het die EFF-spreker Omphile Maotwe dus daarop aangedring dat alle eienaarskap aan die hele bevolking oorgedra word deur nasionalisering.

Namens die VF Plus het Wouter Wessels die wetgewing verwelkom, maar gesê dit gaan nie ver genoeg nie. Hy het gevra dat ondernemings bygestaan word, en die EFF gemaan dat werkgeleenthede nie net uit die blou lug val nie.

Zanele Nkomo (ANC) het gevra vir die instel van ’n welvaartbelasting sonder om te sê hoe dit gestruktureer moet word.

Die debat is afgesluit deur die minister van finansies, Tito Mboweni, wat hierdie week voor stok gekry is deur pres. Cyril Ramaphosa weens nog ’n omstrede twiet.

Mboweni het nie veel oor die wetgewing gesê nie, maar ’n paar meewarige opmerkings gemaak oor hoe belangrik dit is om in ’n ope demokrasie openlik en gemaklik verskillende menings te kan wissel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hoekom ·

EFF het nog nooit enige waarde aan enige iemand besorg nie. Net daar om soos die ANC hulle sakke vol geld te druk…

Johan ·

Hulle probeer punte kry maar die vergunning gaan verhaal word met die verhoging van btw en petrolprys . Ons is ook nie baie ver van n pre-paid meter vir suurstof want op die stadium is dit al wat nie belas word nie.

Scalla ·

Terwyl hul nou besig is met die belastingwet moet hul ook kyk dat alle uitgawes tov sekuriteitskostes ens afgetrek kan word van persoonlike belasting aangesien die saps nie hul werk doen nie en jy self moet opdok.

Cornelius ·

Ek kan nie sien hoe hulle die ekonomies groeikoers gaan herstel teen die huidige politieke agtergrond nie. Die handjievol wat nog belasting betaal gaan al hoe meer belas word.
Soos a Trever Manuel tereg sê, die land is n mislukking onder die ANC.

henndrik ·

Ek stem saam oor welvaart belasting, hulle kan sommer begin deur al die ANC parlementslede 75% belas sowel as al die voordeeltrekkers van staatstenders en alle BEE senior amptenare in semi staat instansies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.