Politieke omwenteling kom ná verkiesing

(Argieffoto: Megan Swart/Maroela Media)

Steun vir twee van Suid-Afrika se grootste partye het tydens die onlangse munisipale verkiesing gekrimp en kenners voorspel ʼn politieke omwenteling, veral indien die ANC enigsins wil voortbestaan.

Die landwye daling in die ANC se steun tot onder 50% is ʼn “groot pak slae” wat ʼn lang aanloop het, maar dit is ook die sielkundige uitwerking daarvan op die ANC wat noemenswaardig is.

Prof. Pieter Duvenage, onafhanklike politieke ontleder en Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, sê Suid-Afrika gaan ná hierdie verkiesing ʼn nuwe politieke sone binne en ʼn magsrekonfigurasie is besig om plaas te vind.

Die ANC ondervind ʼn verswakking “tot voordeel van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel”, terwyl die DA nie in die pas afgelope verkiesing sy potensiaal bereik het nie, sê Duvenage.

DA groei nie

“Die DA het nie werklik sy posisie verbeter nie – en die skuld daarvoor is die partyleiding sʼn. Nie Helen Zille [voorsitter van die DA se federale raad] óf John Steenhuisen [DA-leier] kon die DA laat groei nie.”

Hy meen die situasie kan egter nie net aan die partyleierskap toegeskryf word nie, maar ook aan politieke redes. “Ek dink die DA kan in die toekoms groei, maar op een of ander manier het hulle nou die bus gemis. Dit bly egter ʼn belangrike party.

“Die DA is ʼn goeie party en Suid-Afrika het sy liberaal-demokratiese waardes nodig.”

Duvenage sê dit is moontlik dat baie mense die DA steeds nie vergewe het vir die voorval in Januarie 2019 op Schweizer-Reneke waarin ʼn onderwyseres summier van rassisme beskuldig is nie.

Sommige DA-lede het destyds die rasvlamme help stook en die party het hom die gramskap van talle kiesers op die hals gehaal.

Op sy beurt het die VF Plus met baie “besonne politiek” inbeweeg, sê Duvenage.

“Die sogenaamde Afrikanerstem was sowat 75% vir die DA tot naastenby 2016. Dié scenario het intussen verander en naastenby 55% van dié groep mense stem nou vir DA en rofweg 45% vir die VF Plus.”

Steun vir die VF Plus, wat bestempel word as ʼn nisparty, het in die verkiesing met 242% gegroei en op sommige plekke kan die VF Plus ʼn deurslaggewende rol in regerings speel.

 Koalisies skop ANC, EFF uit

Duvenage sê dit is nou ʼn moontlikheid om ʼn metro soos Tshwane met ʼn koalisie van die DA, Action SA en die VF Plus te regeer – met geen betrokkenheid deur die EFF of die ANC nie. “Dit kan ʼn werklikheid word.

“Die blou/groen/groen-koalisie bus kan nou deur Pretoria jaag ter wille van die stad en sy inwoners,” sê Duvenage oor ʼn moontlike samewerkingsooreenkoms tussen die DA, Action SA en VF Plus.

“Dit moet ʼn goedbestuurde regering vir elke inwoner wees; van die sakelui tot die armes.”

 ANC kan verbrokkel

Pres. Cyril Ramaphosa Maandag tydens die munisipale verkiesing. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die ANC sal homself op sy beurt ʼn paar moeilike vrae moet vra. Roland Henwood, ʼn politieke ontleder van die Universiteit van Pretoria, sê die ANC is op ʼn “onomkeerbare pad na selfvernietiging of marginalisering”.

Henwood meen die ANC neem dalk kennis van die boodskap wat kiesers gestuur het, maar verstaan dit nie of het nie die vermoë om iets daaromtrent te doen nie.

Die stemopkoms – net 12,3 miljoen uit meer as 26 miljoen geregistreerde kiesers het gestem – het implikasies vir legitimiteit omdat die “meerderheid mense in Suid-Afrika nie meer deelneem aan demokratiese prosesse nie”.

“Ons het ʼn minderheidsregering in die ware sin van die woord.”

Hy sê dit geld veral vir die ANC. “Hy het nie soveel stemme verloor aan ander politieke partye nie; die ANC se mense het nie vir hom gestem nie. Die party is gestraf deur mense wat hul betrokkenheid by die regering afskaal.”

Henwood sê die ANC sal moet begin optree soos ʼn verantwoordelike politieke party wat kiesers se belange op die hart dra en nie dié van die politieke elite nie. Die ander opsie is dat die ANC in sy huidige vorm in duie kan stort.

“Die onomkeerbare werklikheid is dat die ANC soos ons hom ken, op pad uit is.

“Dit is ʼn party van die elite wat klaarblyklik nie oor die kundigheid beskik om nasionaal, provinsiaal en op plaaslike vlak modern te bestuur nie. Die ANC het net nie die vermoë nie.”

Hy sê vir baie kiesers was die ANC jare lank ʼn simbool van bevryding en die party het ʼn emosionele houvas op mense gehad. Dit was die party van Nelson Mandela. Met die uitbetaling van miljoene toelae het die ANC minstens nog ʼn paar stemme verseker.

Hy sê pres. Cyril Ramaphosa is ʼn intelligente man, maar is in beheer van ʼn party wat nie bestuursvermoëns het nie. Duvenage sê die ANC is in ʼn “afwaartse spiraal” en gaan verder verswak of Ramaphosa nou die party lei of nie. Hy meen radikales in die ANC kan in die rigting van die EFF dryf, terwyl meer gematigdes in die rigting van Herman Mashaba se Action SA of die DA kan skuif.

“Ek dink die faksiegevegte is te veel en nie eens Ramaphosa met sy charisma gaan die trein op die spoor kan hou nie. Dit is ʼn gesonde verwikkeling, want dit maak kreatiewe energie vry.”

 ‘Kreatiewe koalisiepolitiek’

Waar lê die oplossing dus? Duvenage meen ʼn enkele party sal nie al die oplossings kan bied nie, maar dat die oplossing lê in wat hy as “kreatiewe koalisiepolitiek” bestempel.

“Die antwoord lê by daardie groep Suid-Afrikaners wat goed opgelei is en kan bestuur. Ons het enorme talent in Suid-Afrika en ons moet daardie mense in die staatsdiens en in die bestuur van die land en politieke partye kry. Ons staatsdiens moet werk volgens die beste sake- en bestuursmodelle.”

Henwood sê partye sal voordat hulle koalisies aangaan, fyn kyk watter party het watter aantal raadslede. Hulle sal so min as moontlik lede van ander partye wil betrek omdat die meeste mag op dié manier behou word. Individue, veral in kleiner munisipaliteite, kan egter ʼn raad maak of breek, waarsku hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Die ANC is hulle eie grootste vyand.Hulle wou stemme werf met SEB en transformasie waarby die gewone man op straat nie gebaat het nie.Duisende mense veral in die toerisme bedryf is hulle werk kwyt omdat die WVF net besighede gehelp het waarvan 51% in swart besit was.Die ANC het nog nooit as dienaars van die land opgetree nie maar hulle self verryk.Zuma en Ramaphisa het gesê die ANC kom eerste en dan SA.Dienslewering in sy geheel het misluk onder die ANC regering,kragvoorsiening kan nie geskied sonder bedryfskapitaal nie en munisipaliteite kom nie ooreenkomste met escom na nie.Daar moet een strafregstelsel… Lees meer »

Samuel

Wat koalisies betref, moet ons kyk hoe die Duitsers dit doen en laat werk.

Dries

Ons bid al jare lank vir die val van die ANC. Maar ons is nog nie daar nie. Daardie dag wanneer dit gebeur moet ons n vakansiedag proklameer. Die WERKLIKE VRYHEIDSDAG

JohanR

Dankie tog. Kan die ANC nie al more @Voertsak nie!

gatgogga

Ramaphosa het mos laat weet dat die ANC eerste kom, dan Suid Afrika.
Wel, hy het altwee opgedons.