Politieke ontleders: ‘Dít is wat ons by Ramaphosa wil hoor’

staatsrede-2019-06-voorbereidings-in-kaapstad

Voorbereidings word getref vir die staatsrede wat Donderdagaand by die parlement in Kaapstad sal plaasvind. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdagaand die eerste staatsrede van die sesde parlement lewer. Dié geleentheid vind om 19:00 in die parlement in Kaapstad plaas.

Suid-Afrikaners het hoë verwagtinge van hierdie toespraak, noudat die president ʼn mandaat het nadat die ANC die algemene verkiesing in Mei gewen het. Nietemin is die talle ekonomiese uitdagings wat die land nou in die gesig staar in ʼn sekere sin erger as toe Ramaphosa sy staatsrede in Februarie gelewer het.

Gaan Suid-Afrikaners meer inligting kry oor hoe die groeiende skuld by Eskom bestuur gaan word? Sal die kwessie van grondhervorming aandag kry en beleidsekerheid verskaf word? Hoe beplan Ramaphosa om die wankelende ekonomie om te swaai?

Maroela Media het met drie politieke ontleders gesels om te hoor wat hulle van hierdie staatsrede verwag:

prof-andre-duvenhage-sakeliga-2019-05-28-verwerk

Prof. André Duvenhage van die NWU. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Ramaphosa, die ewige diplomaat

“Ek verwag Ramaphosa sal met Donderdagaand se staatsrede ʼn sagte, diplomatiese aanslag volg. Hy sal poog om twee pole van absolute uiterstes – ʼn vryemarkstelsel en ʼn sentralisties-sosialistiese beskouing – in sy toespraak te versoen,” het André Duvenhage ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

“Die president kry populistiese druk vanuit die ANC maar realisme rondom die ekonomie, politiek en maatskaplike werklikhede druk hom na ʼn anderkant.”

Hy hoop Ramaphosa slaan ʼn rigting van groter steun aan die vryemark in om ʼn stabiele omgewing vir buitelandse investering te skep.

“Ek weet egter nie of sy party hom dit gaan toelaat en of hy sterk genoeg is om die druk van binne die ANC te weerstaan nie.”

Duvenhage het gesê as Ramaphosa in die staatsrede enige aanduiding gee dat hy ʼn meer sentralistiese en sosialistiese koers wil inslaan is die kanse goed dat die ekonomie nie net ʼn resessie nie, maar ook ʼn depressie kan binnegaan.

“Ramaphosa moet iets sê oor hoe sy regering ekonomiese groei gaan stimuleer. Die negatiewe siklus waarin dit verval het moet eenvoudig omgedraai word. Hy sal beperkend teenoor die vakbonde moet optree, ʼn klimaat vir stabiliteit skep en kan nie verder peuter rondom grondonteiening nie, maar ek vermoed dit druis te diep in teen die politieke populisme van die dag.”

Duvenhage meen ook Ramaphosa sal homself sterk uitlaat teen korrupsie en staatskaping.

“Ek verwag ʼn aankondiging van regsprosesse wat ingestel sal word as ʼn uitvloeisel van die Zondo-kommissie, maar dit sal baie sag verpak word.”

Nog ʼn uitdaging wat aangepak moet word, is die staatsdiens wat net te groot, te lomp en onbekostigbaar geword het.

“Dit moet herstruktureer word en kan nou gedoen word met van die staatsdepartemente wat saamgesmelt het. Die krisis binne die staatsdiens simboliseer ook die krisis by semi-staatsinstellings soos Eskom, SAL en die SAUK. Ramaphosa sal hier leiding moet gee oor die bestuursrigting van Eskom.”

Duvenhage verwag ook dat Ramaphosa iets sal sê oor die talle uitdagings in die onderwyssektor. Hy het gesê dit sal ook vir hom interessant wees om te sien hoe Ramaphosa die Nasionale Gesondheidversekering wil instel en finansier.

“Nog ʼn belangrike aspek wat hy sal moet aanraak is Suid-Afrika se posisionering rondom internasionale politiek. Hier is talle konflikte aan’t ontwikkel wat die land gaan dwing om keuses te maak.

“Suid-Afrika het in die laaste paar jaar ʼn sterk verbintenis met Afrika, die Russe, China, Iran en Kuba gevorm. As ons nou verkeerd kies kan dit ʼn direkte impak op buitelandse investering hê.

“My gevoel is die befondsing wat ons land benodig lê eerder in die Weste as by die sosialistiese state, maar ek vermoed daar sal ʼn soort onverbondenheid uitspeel en Ramaphosa sal Suid-Afrika nie verbind tot ʼn spesifieke blok van lande nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa rond sy staatsrede-toespraak af. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Staatsrede lewer nooit veel om oor te praat

Prof. Dirk Kotzé, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, het benadruk dat iets soos ʼn staatsrede nie veronderstel is om opspraakwekkend te wees nie.

“Die staatsrede verskaf maar net bloot die program vir een van die volgende vyf jaar van die president se ampstermyn. Iets soos die mediumtermynbegroting sal veel meer inligting oor die langtermynplanne van die staat verskaf omdat dit op die volgende drie jaar fokus.

“ʼn Staatsrede bevat dus nooit veel besonderhede nie en dit is waarom mense gewoonlik teleurgesteld is. Dit is egter die aard van hierdie toespraak en mense moet begrip daarvoor hê.”

Kotzé meen ook Ramaphosa se staatsrede sal fokus op Eskom en die Reserwebank, asook hoe om meer buitelandse belegging te lok.

“Ek verwag dat die ekonomie sy toespraak sal domineer. Hy sal ook praat oor werkskepping en infrastruktuurontwikkeling.”

Kotzé het gesê Ramaphosa sal sy ekonomiese en stimulusplan tot ʼn groot mate herhaal, maar hy verwag ook dat daar meer besonderhede verskaf sal word oor Eskom en die ander staatsbeheerde instellings in die nabye toekoms se bestuur.

“Ek verwag egter nie dat die grondkwessie in groot detail bespreek sal word nie. Daar sal wel duidelikheid gegee word oor die proses wat die parlement nou sal volg hieroor.”

Kotzé het verder gesê hoewel daar nou op die ekonomie gefokus word, is daar talle ander sake wat ook dringend aandag verdien. “Dit is veral sake soos die regering op plaaslike owerheidsvlak met talle munisipaliteite onder administrasie en kwessies soos water en sanitasie wat ook onmiddellik aandag moet kry.”

roland-henwood

Roland Henwood, ‘n politieke ontleder verbonde aan die UP.. Foto: Die Groot Ontbyt.

Tyd om op eiers te loop is nou verby

“Daar is net te veel kwessies wat daadwerklike optrede vereis. Die ekonomie is in ʼn benarde situasie en daar is ʼn toename in geweldsmisdade. Ramaphosa se tyd om versigtig wees, is verby en hy moet nou reageer,” het Roland Henwood, ʼn politieke ontleder van die Universiteit van Pretoria, gesê.

Henwood meen die president kan nie net meer praat oor ekonomiese groei en investering nie want in ʼn sekere sin is Suid-Afrika nou slegter daaraan toe as vroeër hierdie jaar.

“Ons almal weet egter dit gaan nie goed binne die ANC nie. Dit was ook duidelik toe die voorsitters van die komitees binne die parlement bekendgemaak is. Ou skelms het nou die oorsigfunksie oor Ramaphosa en sy regering gekry.

“Die vraag is hoe gaan die regering homself teenoor die ANC posisioneer? Die twee is aparte entiteite ten spyte van wat oudpres. Jacob Zuma in sy termyn gesê het.”

Henwood het gesê Ramaphosa kan nie net die staatsrede as die president van die ANC lewer nie.

“Wat gaan hy sê vir die bykans 50% kiesers wat nie vir die ANC gestem het nie en die groot meerderheid van burgers wat glad nie eers in die verkiesing gestem het nie?

“Gaan hy aandag gee en inhoud verskaf aan sy opmerking dat hierdie ʼn land is wat aan alle Suid-Afrikaners behoort en waarin almal tuis moet voel? Dit kan die verskil maak van hoe mense die pad vorentoe vir hierdie land sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andreas ·

Sal dit nou nie wonderlik wees as Cyril so effe die ewige diplomaathoed vir ‘n twee uur kon afhaal terwyl sy Damaskusoomblik vanaand oor hom spoel en hy ‘n mengelmoes van al drie here hier bo se goeie raad volg nie, as hy dan nou in die proses die kaders en die ANC té knorrig maak, het hy darem vyf jaar waarin hy hulle kan paai.

Markus ·

Wat ons die afrikaanse mense wil hoor is wanneer gaan diskriminerende wette teen ons geskrap word ek is 24 jaar oud en daar word vanaf my geboorte teen my gediskrimineer omrede ek wit is,ek kon nie medies studeer nie oor kwotas al was my punte bo gemiddeld sê net wanneer dan weet ek of ek verder moet tyd mors of loop.

Dirk ·

CR sal se wat die ANC se hy moet se. Dit sal basies n balans wees tussen wat beleggers wil hoor en wat die res wil hoor. Dit sal nie eerlik wees nie, maar erg misleidend! Almal weet dat nie CR of die ANC n vryemarkstelsel voorstaan nie, maar wel n sosialistiese welsynstaat, maar dat hy tans nie veel van n keuse het as om meer vryemark vriendelik te wees vir noodsaaklike investering. Ek dink egter dat beleggersvertroue om in SA te bele nie sal herstel nie, of CR die goeie of die slegte voorhou.

Andreas ·

Waagmoed, Waagmoed lê voor die deur vir hom en wag, hy kan hom in die geskiedenis verewig naas die groot Suid-Afrikaanse leiers van weleer, of ons sal moet wag tot ‘n volgende of volgende geslag.

Bertie ·

Ek wonder watter juniortjie het die toespraak geskryf? Toe ek sulke skryfwerk help doen het, het ek nie eens ‘n duisend Rand per maand verdien nie. Selfs toe was dit ‘n klein salarissie. So ‘n jongetjie word ontleed deur koning-guru’s wat dan “belangrike uitsprake” maak. En almal hang aan hulle lippe.

Die toespraakskrywertjie neem sy vrou uit en vier sy eie stille “groot oomblik” met amperlewendige steak en ‘n bekwame shiraz. En ego’s word mildelik gestreel. Hoe stupid is die narremanewales tog nie agter die skerms nie?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.