Politieke oorsig: Ramaforie, grond en ʼn taai jaar vir politieke partye

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

2018 het polities beter geëindig as wat dit begin het, maar dit was ook ’n jaar waarin baie lede van die algemene publiek moedeloser geraak het namate die omvang van die land se uitdagings duideliker geword het.

ʼn Jaar gelede was oudpres. Jacob Zuma nog aan die stuur van sake en die onbeholpe Malusi Gigaba – wat sedertdien deur die hof uitgewys is as bedrieër en ondermyner van die Grondwet – was minister van finansies.

Die ANC het vir Cyril Ramaphosa as partyleier aangewys, maar Zuma het aan die presidentskap geklou soos ʼn neet aan ʼn kombers, ondersteun deur magtige rolspelers soos die sekretaris-generaal van die ANC en destydse premier van die Vrystaat, Ace Magashule, en die destydse premier van Noordwes, Supra Mahumapelo.

Dit het meer as ʼn maand se morsige politieke toutrekkery gekos voordat Zuma as president bedank het. Die opening van die parlement en die gepaardgaande staatsrede moes selfs uitgestel word.

Pres. Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Toe die staatsrede wel plaasvind, was dit Ramaphosa se grootste sukses. Sy belangrikste boodskap was een van dienswilligheid aan die land, wat hy bewoord het uit ʼn toentertydse treffer van Hugh Masakhela, “Thula Mina” (stuur my). Só suksesvol was die staatsrede dat die rand skielik in waarde toegeneem het en ʼn deel van die landsbevolking self ʼn sogenaamde “Ramaforie” – ʼn euforie gegrond op opwinding oor Ramaphosa – ten prooi geval het.

Sommige Suid-Afrikaners het steeds die Ramaoforie onder lede – dit het nou gemuteer tot die vreemde argument dat mens vir die ANC moet stem in aanstaande jaar se verkiesing sodat Ramaphosa se hand gesterk kan word – so asof jy nie die res van die ANC dan op die koop toe kry nie.

Die meeste Suid-Afrikaners het egter sedertdien hul Ramaforie afgeskud, veral omdat hy berugte politici soos Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini in sy kabinet behou het, al het hy ʼn oorlog teen korrupsie en wanbestuur beloof.

malusi-gigaba-ANA

Malusi Gigaba. Foto: ANA

Hy het wel vir Gigaba verskuif van finansies na binnelandse sake, vir Mokonyane van water en sanitasie na kommunikasie en vandaar na omgewingsake, en vir Dlamini van maatskaplike ontwikkeling na vrouesake. Gigaba het uiteindelik, na vele verdere verleenthede, uit die kabinet bedank.

Ramaphosa het ook ander omstrede figure soos oudministers Lynne Brown (openbare ondernemings), David Mahlobo (energie), Bongani Bongo (staatsekerheid) en Mosebenzi Zwane (minerale hulpbronne) uit die kabinet gelaat.

Sy beste aanstelling was Pravin Gordhan (openbare ondernemings) wat dadelik begin het om die grootskaalse wanbestuur en korrupsie by staatsbeheerde ondernemings in die bek te ruk.

Minder gelukkig was Ramaphosa se keuses as ministers van finansies, hoewel albei by hul aanstelling baie gewild was. Oudminister Nhlanhla Nene het bedank nadat sy hegte verhouding met die Gupta-familie op die lappe gekom het, en minister Tito Mboweni is weliswaar steeds in die tuig, maar hy het die soveelste politikus geword wie se twiets sy loopbaan tot verleentheid is.

Ramaphosa was meer suksesvol met die inbring van regstreekse beleggings as met die versterking van die makro-ekonomie. Hy het beleggings gewerf in verskeie welvarende lande van China tot Saoedi-Arabië, maar die land het ʼn resessie betree waaruit eers teen die einde van 2018 ontsnap is.

Ace Magashule. Foto: ANC/Facebook

Twee provinsies het van premier verwissel in 2018. Met Magashule se verkiesing tot sekretaris-generaal van die ANC het Sisi Ntombela haar intrek geneem in die premierswoning neffens Oranje Meisieskool in Bloemfontein, en in Noordwes is Mahumapelo op morsige en tydrowende manier vervang deur Job Mokgoro, met die provinsiale bestuur steeds onder nasionale administrasie.

Die grootste politieke vraagstuk van 2018 was ongetwyfeld die grondkwessie, waarvan die gevaarlike oplossing (omvattende onteiening sonder vergoeding) teen die einde van verlede jaar grootliks afgeslaan is, maar waarop geen werkbare oplossing nog gevind is nie.

Emosiebelaaide openbare voorleggings en honderde duisende skriftelike terugvoere is deur die parlement beleef en ontvang, met ʼn besluit teen die einde van verlede jaar dat ʼn grondwetlike wysiging wel nodig is, hoewel die inhoud nog onbekend, maar na bewering redelik skadeloos is.

Vir die res het die parlement nie ʼn besonder produktiewe jaar gehad nie, met ʼn uiters lang winterreses (glo grootliks weens ANC-binnegevegte) en net 23 wetsontwerpe wat aanvaar is. Hiervan was die Wetsontwerp op die Nasionale Minimumloon waarskynlik die belangrikste.

ʼn Belangrike veer in die parlement se hoed was die ondersoeke na staatskaping, met veral die een oor Eskom wat baie goed hanteer is.

Vir die ANC was 2018 ʼn uiters taai jaar. Nie net het die regerende party die president teruggeroep nie, maar dis duidelik dat die nasionale partyleierskap min tot geen beheer het nie in minstens drie provinsies – Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Terwyl ANC-steun in tussenverkiesings in laasgenoemde en Gauteng steeds daal, is die party op die herstelpad in die Wes-Kaap, waar hulle verskeie wyke by die DA afgeneem het.

Patricia de Lille. Foto: ANA

Vir die DA was 2018 ʼn verskriklike jaar. Alle aanduidings is dat die party se glans aan’t taan is, met ʼn uitvloei van talent en kundigheid, veral weens ʼn onvermoë om meningsverskille te hanteer. Hiervan was die Patricia de Lille-gekkespul in die Wes-Kaap die ergste voorbeeld, soos verkiesingsuitslae uit die provinsie wys.

Waar die DA wel suksesvol is, is in die regruk van munisipaliteite in die noorde van die land, asook om politici soos Zuma deur oordeelkundig gekose hofsake tot verantwoording te roep.

Die EFF gaan tans die kreeftegang. Die party het te naby aan die ANC begin beweeg, met ʼn gevolglike daling in kiesersteun. Hulle het dus teen die einde van die jaar die afstand tussen hulle en die ANC drasties verhoog. Die VBS‑bankskandaal sal egter vir hul geen stemme wen nie, en kan hulle noemenswaardige steun kos.

Die een groot party wat ʼn toename in steun toon is die IVP. Maar die toets is by die stembus, en daardie toets lê vanjaar voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.