Politieke partye begin hul Wes-Kaapse veldtogte afsluit

Mmusi Maimane, leier van die DA. Foto: DA/Twitter

Die sterkste politieke partye in die Wes-Kaap is besig om hul veldtogte af te sluit namate stemdag nader kom – dis nou net agt dae weg.

Die provinsie se regerende party, die DA, sal Woensdag by die Hillside-kerk in Goodwood in die Kaapse noordelike stadsgebiede ’n massa-saamtrek hou. Die reusagtige kerk is ’n gemeente waar verskeie leidende DA-lede lidmate is, en die hoofsprekers is die DA-leier, Mmusi Maimane, en die provinsiale premierskandidaat, Alan Winde.

Winde was die afgelope paar dae aan’t stemme werf op die Kaapse Vlakte nadat hy verlede week en die afgelope naweek die Karoo en die Suid-Kaap deurkruis het, met openbare vergaderings in Laingsburg, Prins Albert en George.

Die jongste peilings deur die Instituut vir Rasseverhoudinge toon dat die DA heelwat steun aan veral die ACDP afstaan, en dat ’n koalisieregering vir die eerste keer sedert 2005 in die Wes-Kaap moontlik is.

Die ANC se provinsiale veldtog het vanjaar geheel en al op die rug van pres. Cyril Ramaphosa gery, met geen provinsiale gesig vir die veldtog nie, hoewel oudpremier Ebrahim Rasool prominent was.

Die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, het Dinsdag stemme in Khayelitsha gewerf in ’n poging om die afgelope paar verkiesings se swak stempersentasies in die ANC-bakermat te laat verbeter.

Patricia de Lille sit verkiesingplakkate op. (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency)

Die EFF het in hierdie verkiesing nie veel van ’n poging in die Wes-Kaap aangewend nie. EFF-plakkate is grootliks afwesig, en daar was net een EFF-massasaamtrek wat in Philippi buite Kaapstad gehou is.

Die verrassing van vanjaar se Wes-Kaapse verkiesing kan moontlik die ACDP wees. Die party het sy profiel en sy poging heelwat verskerp vergeleke met vorige veldtogte, veral na ’n reeks sterk vertonings in tussenverkiesings in oorwegend bruin gebiede vanjaar.

Die ACDP, wat tans een setel in die provinsiale wetgewer het, het vandeesweek sy stemwerwery op die Kaapse Vlakte volstoom voortgesit in die hoop om sy posisie te verbeter.

Patricia de Lille se Good-party trek groot gehore op die Kaapse Vlakte en hoop om die magsbalans te hou indien die DA genoeg steun inboet.

Die VF Plus het in 1994 laas ’n setel in die provinsiale wetgewer gewen. Sedert 1999 kon hulle dit nie regkry nie, maar vanjaar hoop hulle op beter uitslae met oudpremier Peter Marais as vaandeldraer.

Dinsdag was die nasionale leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, in die provinsie aan’t stemme werf, en wel in Kuilsrivier en Worcester. Hy is op sy Kaapse besoek vergesel deur Marais en die Wes-Kaapse partyleier van die VF Plus, dr. Corné Mulder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nick ·

Die Kaap is weer Hollands…… bwahahahahah !!! Nie na die 8 ste nie, dan is dit net ANC !!

Boesman ·

Ja, met hospitale wat in duie stort, skole sonder handboeke, paaie wat onbegaanbaar is, riool wat in die strate afspoel, bankrot munisipaliteite…….Lekker nan, lekker.

Johan ·

Hopenlik mors mense in die Wes-Kaap nie hul stemme op klein partye nie want dit gaan net die ANC baat

Jack Sadie ·

@Johan. Vriend, ek stem nie saam dat klein partye vermorste stemme is nie. Ekself en my vriende oorweeg om DA provinsiaal en om VF+ nasionaal te ondersteun. DA bestuur die Weskaap goed en kry daarom hier ons ondersteuning. Nasionaal is dit egter die kleiner VF+ wat ons belange verteenwoordig. Die teenwoordigheid van klein partye in die praathuis, glo ek, sal die demokrasie sterker maak. Koalisie regerings sal RSA hopelik eendag regeer. Demokrasie is wigte en teenwigte, nie magsoorwig nie. Veral nie in Afrika nie…..

Johan ·

@Jack, ek verstaan dit op nasionale vlak maar ek vrees op provinsiale vlak dat as die DA hul meerderheid verloor die Wes-Kaap in totaal en al verkeerde hande gaan beland.Dink baie mense mag dalk soos jy maak in terme van hoe hul gaan stem

Ella ·

Stem saam met jou, Jack Sadie, oor hoe ek gaan stem.
Eintlik weet ek nie hoe n verkiesing kan plaasvind met OVK wat nie hulle werk ordentlik gedoen het maar as ek my kruisie teen hulle kan trek, dan gaan ek

Annie Webb ·

DA vir my. As daar dan koalisie moet wees, ACDP. Tog asseblief net nie Good of VF+ nie. Die mense wat so vir hulle oom of antie stem, begryp duidelik nie dat die ANC ons almal se vyand is en dat net die DA sterk genoeg is om hulle in toom te hou nie. Die DA se bestuur van die Kaap (stad en provinsie) spreek vanself.

Mieliestronk ·

Die DA grawe hulle eie grafte . Hulle veg nie teen die anc nie maar veg teen hulle eie mense in die hof. DA en die VF Plus nou weer oor die die Afrikaanse ding . Beveg die anc Staan saam en beveg die anc

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.