Politieke partye eis onafhanklike oudit van stembriewe

Stembokse. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Altesaam 27 politieke partye het formeel beswaar by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien oor die 2019 algemene verkiesing en eis dat ʼn onafhanklike oudit van die uitslae gedoen word.

Die partye het in ʼn brief gesê hulle het kennis geneem dat die OVK bereid is om “’n oudit van sy eie te doen, op grond van die geloofwaardigheid van die klagtes wat ontvang is”.

Die partye sê in die brief die klagtes wat ontvang is oor die stemproses plaas die geloofwaardigheid van die hele verkiesingsproses en die uitslae in ernstige twyfel. “Daar was verskeie gevalle waar mense meer as een keer gestem het. Die volle omvang hiervan sal nooit bekend wees nie, maak nie saak hoeveel steekproewe gedoen word nie,” lui die brief.

“Die mense wat hiervan aangekla word en in hegtenis geneem is, is waarskynlik eerder slagoffers van politieke boelies en afknouery. Verskeie stemlokale het eers laat geopen en minstens een het glad nie oopgemaak nie.”

Ander besware van die partye sluit in stemlokale waar stembriewe opgeraak het en kiesers gevra is om later terug te kom of na ʼn ander stemlokaal te gaan, onuitwisbare inkmerkers wat nie behoorlike gewerk het nie en waarvan die ink maklik verwyder kon word, en stemdistrikte wat geen skandeerders gehad het nie of waar die skandeerders glad nie gewerk het nie.

Volgens die partye was alle stembriewe nie agterop gestempel nie, mense is die verkeerde hoeveelheid stembriewe gegee, voorsittende beamptes het aangebied om mense te help sonder dat daar ʼn derde party teenwoordig was en spesiale stemme is soms in twee en ander kere drie of vier koeverte geplaas.

Die partye wat die brief geskryf het, sluit in Forum 4 Service Delivery; African Content Movement; International Revelation Congress; African People’s Convention; Ecoforum; Better Residents Association; CPM; SA National Congress of Traditional Authorities; Women Forward; Land Party; ATM; PAU; SRWP; Alliance for Transformation; Cope; African Renaissance Unity; African Security Congress; Sancota; AASD; Compatriots of South Africa; NPA; IRC; NAPF; PAC; PRM; en die African Covenant.

“Ons verneem hierdie klagtes is ook formeel onder die OVK se aandag gebring via duisende formele klagtes oor die lengte en breedte van Suid-Afrika,” lui die brief.

Die OVK het gesê na aanleiding van die klagtes sal hy ʼn vinnige oudit doen.

Die partye is egter nie tevrede met die “vinnige oudit” nie. In die brief dui hulle aan dat aangesien die geloofwaardigheid van die OVK reeds deur hierdie klagtes ondermyn is, daar vrae ontstaan oor enige ouditproses wat deur die OVK gedoen word. Die partye dring daarop aan dat ʼn onafhanklike ouditeursfirma aangestel word om die oudit te doen.

“Sou die OVK nie instem tot ʼn onafhanklike oudit nie, sal ons die Kieshof nader om onder meer die OVK te verplig om ʼn onafhanklike ouditeursfirma aan te stel om die oudit te doen, asook om hom daarvan te weerhou om die finale uitslae van die verkiesing bekend te maak.”

Teen 07:00 Saterdagoggend was 99,78% van stemme getel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Strand looper ·

Hallllloooooo…. hul gaan net ons belasting geld verder vermors op n OVK kaaping….

Julie Jansen van Rensburg ·

Sal my glad nie verbaas as daar – soos dikwels in die verlede – weer verneukery tydens die verkiesing plaasgevind het nie. My grootste klag is hierdie kartonbokse waarin stembriewe geplaas word – kiesers kan nie sien of hulle reeds vol
“stembriewe” vir die regerende party bevat nie – dit het glo in die verlede gebeur… ek hou vol dat kartonbokse met deurskynende “PERSPEX” vervang word wat geskarnier is sodat hulle na ‘n verkiesing opgevou en tot die volgende verkiesing gestoor word – so kan die eerste kiesers by ‘n stemlokaal sien of daar reeds op ‘n skelm wyse kiesvorms ingegooi is…hierdie huidige spul aasvoëls sal enigiets doen om nie uitgeskop te word en ‘n meer eerlike regering aan bewind kom nie…

Anoniem ·

Dit sal nie werk nie. Hulle kan nog steeds agterna stembriewe ingooi nadat almal weg is. Ook nie ‘n goeie idee om die bokse te stoor nie, dan kan die bokse baie meer mee gepeuter word.
Ek dink elke verkiesing moet onafhanklik geoudit word, nou en ook in die toekoms. Ek vermoed egter dit sal geen verskil maak aan wie die voorlopers en wie die opposisie is nie, miskien net aan hoeveelheid setels?

Martin ·

Ons stem stasie in Hercules het ook nie scanners gebruik nie, algemene klagtes reg oor die land, geen scanners, scanners werk nie, geen SAPS teenwoordigheid nie, talle stem meer as eenkeer, stembrief bokse word sonder toesig verwyder. KORRUPSIE VERKIESING.

Spook ·

Ook in Hercules gestem …. Daar was geen skandering van my ID nie

Lerato ·

Die onafhanklikheid van die OVK, moet gehandhaaf en deurentyd getoets word. Oortreding van die mandaat behoort met lang tronkstraf gestraf te word.

Neels ·

Jammer om te se maar as ek die lys so kyk is dit net n klomp politieke oppertuniste wat kla, want nou verloor hulle, hulke deposito en n plek op die sous trein. Om verkiesings brdrog te roep is deel van Afrika demokrasie. Om verkiesings bedrog te pleeg is ook deel van Afrika demokrasie. Daar is nog nie en verkiesing in Afrika gehou waar nie gekonkel is met die stemproses

JJP ·

Dis afrika die…. die anc sal NOOIT mag opgee as hulle ‘n verkiesing sou verloor nie – dan is dit oorlog. Dis net die dom blanke NP regering wat destyds sommer net alle mag opgegee het en kyk waar sit ons nie.

Frikkie Geld en huis ·

Vir seker sal die verkiesing vry en regverdig verklaar word, want die OVK is maar net nog ‘n ANC orgaan. Een van my werkers en sy ” Gielfrênd ” bly eintlik in Vryburg, maar het sonder enige probleme in Vredenburg in die Wes Kaap gaan stem. Gevra hoe hy dit reggekry het, antwoord hy dat sy broer daar bly. Die verkiesing is maar net nog ‘n Afrika-klug.

humor ·

n Tipiese vraag wat in Afrika gevra behoort te word…………….”. Bestaan die stembusse dan nog?”

Jerry ·

N onafhanklike oudit kan geen skade aanrig nie, dit kan net vrese bewaarheid of besweer. As daar ooit n goeie tyd was vir n oudit, dan is dit nou daardie tyd!

John ·

Hallo! Unreasonable and unlawful… enigeen wat durf kla… Ons bly in Kuba, onthou! Geen moderatore net AU-kaders in vyfsterhotelle. (Onthou toe julle gestem het, het ons gesè alles is reg. Nou moet julle ok so sè.) Waarom is daar nie van die begin af gevra vir ‘n buite-ouditgroep nie. Ons het geweet dit gaan kom. En die groen pilaar blom soos ‘n bom wat wil opstyg of uitspruit in bloeisels ter viering van die 25 jaar van skelmstreke. Ons kan nie wag dat die parlement weer in sitting is nie. Dit gaan vanjaar so rustig gaan. Dankie tog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.