Politieke partye kasty Ramaphosa oor plaasmoord-swye

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die nasionale leiers van die DA, VF Plus en ACDP het elkeen Woensdag in hul parlementêre toesprake oor die presidensie se begrotingspos vir pres. Cyril Ramaphosa gekasty oor sy ontkenning van plaasmoorde en sy gebrek aan meelewing met plaasmoord-slagoffers.

Mmusi Maimane (DA), dr. Pieter Groenewald (VF Plus) en eerw. Kenneth Meshoe (ACDP) het al drie Ramaphosa uitgedaag om ʼn plan deur die staat te dryf teen die plaasmoord-euwel.

Op die keper beskou was die debat van sowat ses uur (veral die eerste deel, toe partyleiers aan die woord was) van ʼn aansienlik hoër standaard as die norm in die Suid-Afrikaanse parlement. Die partye het hul ondersteuners se beleidsvoorkeure en kwellings nie net vasgevat nie, maar ook hoflik na mekaar se standpunte geluister.

In ʼn ongewone wending het ANC-sprekers deur die bank gefokus op die noodsaak van nie-rassigheid en versoening, en baie min gehamer op die onregte van die verlede. In ʼn sterk aanduiding van die wyse waarop die ANC die afgelope twee weke in verskeie stadsrade, onder meer Johannesburg en Tshwane, toenadering tot die DA-geleide opposisie eerder as die EFF te soek, het die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, ʼn striemende aanval op die EFF gedoen oor dié party se assosiasie met korrupsie en wat hy prontuit as hul rassisme bestempel het.

Ramaphosa het in sy toespraak sterk gefokus op konkrete voorstelle om die ekonomie te verbeter. Hy het omvattende en gedetailleerde planne teen jeugwerkloosheid onderneem, en het daarin, soos in die res van sy toespraak, markgedrewe eerder as staatsgedrewe oplossings gepredik.

Van die praktiese stappe tot ekonomiese verbetering sluit in die verandering van visumregulasies sodat hoogs geskoolde immigrante en toeriste makliker na Suid-Afrika kan kom en aktief gewerf kan word – nie net ongeskoolde en dikwels onwettige immigrante nie.

Oor die verval van munisipale dienste het die staatshoof aangekondig die presidensie gaan op die vlak van distriksmunisipaliteite steun verskaf sodat goed gekwalifiseerde amptenare meer as een munisipaliteit tegelyk kan bedien, en dat ontwikkeling meer holisties en samehangend uitgevoer kan word.

Hy het onderneem dat ministers meer gereeld in die parlement verantwoordbaar gehou sal word deur die bywoon van vraetyd en vergaderings van portefeuljekomitees, asook deur die tydige beantwoording van skriftelike parlementêre vrae.

Die presidensie is volgens Ramaphosa goed op pad om sy doelwit te bereik om binne die volgende vyf jaar R1,3 triljoen se nuwe beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie te werf. Streng prestasie-ooreenkomste sal teen 1 September met alle nasionale ministers onderteken word. In reaksie hierop het Maimane namens die DA versoek dat die ooreenkomste openbaar gemaak word sodat die prestasie van ministers openlik gemonitor kan word.

Ramaphosa het ʼn aksieplan vir ekonomiese groei aangekondig met die volgende fokuspunte:

* Kleinsake-ontwikkeling;
* Die ontginning van noemenswaardige, onlangs ontdekte olie- en gasbronne aan die Suid-Afrikaanse kus;
* Toerismebevordering;
* ʼn Nuwe oorkoepelende industrialisasie-strategie;
* Die uitskakel van rompslomp sodat Suid-Afrika in die top-50 van die Wêreldbank se “Ease of doing business”-ranglys opgeneem sal word;
* Hulp van kundiges om maatskappye te help om minder mense af te dank;
* Vermeerdering van spektrum om internettoegang uit te brei en te versnel;
* ʼn Daadwerklike regeringsplan om spesifiek werkers op konstruksieterreine te beskerm teen geweld en afpersing;
* Die dringende afhandeling van die departement van energie se geïntegreerde hulpbronneplan;
* Ontwikkeling van township-entrepreneurs;
* Die stabilisering van Eskom en
* Die finalisering van die grondhervormingsbeleid met die fokus op die herverdeling van staatsgrond vir individue se eienaarskap – ʼn voorkeurprogram onder regstreekse aanvoering van adj.pres. David Mabuza.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy adjunk, David Mabuza, tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Ramaphosa het gesê elkeen wat skuldig is of was aan wanbestuur van of korrupsie by staatsbeheerde ondernemings sal gearresteer word.

In ʼn openlike breuk met die Zuma-jare het Ramaphosa onderneem dat die regering weer sal begin om met die land se intellektuele te onderhandel oor die oplossing van landsprobleme.

Die volgende spreker was die ANC se adjunkhoofsweep, Dorries Dlakude, wat bykans haar hele toespraak gewy het aan die noodsaak van nie-rassigheid, versoening en wedersydse respek vir mekaar se eiesoortigheid. Sy het trouens aangevoer dat eenheid in Suid-Afrika slegs bereik kan word deur respek vir eiesoortigheid.

Maimane het vervolgens die DA se inset gelei. Hy het gesê eenheid en nie-rassigheid is noodsaaklik in Suid-Afrika – mense moet ophou om rasseverdeeldheid te saai of hulle in rasgebaseerde hoekies terug te trek.

Hy het voorgestel dat meer beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie getrek kan word as maatskappybelasting verlaag word tot 15%.

Hy het Ramaphosa ook ernstig versoek om meer aandag te gee aan moorde op boere en plaaswerkers, en plaasmoorde openlik en deurgaans te veroordeel.

Maimane het reguit gesê die regering se beleid van swart ekonomiese bemagtiging het misluk en moet geskrap word. Die DA glo bemagtiging moet geskied deur die toestaan van aandele in die huidige staatsbestuurde ondernemings aan die algemene bevolking, die toestaan van titelaktes vir private eienaarskap van eiendom oral in die land – ook in gebiede wat tans kommunaal deur tradisionele leiers beheer word – waarborge vir pensioenbeleggings en spaargeld, en oor die algemeen die wegbeweeg van die idee van ʼn staatgedrewe ekonomie.

Maimane het aangevoer Ramaphosa praat te veel en doen te min, en formuleer meer beleid as wat hy prakties uitvoer. Niemand is byvoorbeeld al vervolg vir korrupsie weens staatskaping nie.

Hy het gesê Ramaphosa behoort self die regskoste van sy stryd teen die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, te betaal eerder as om die belastingbetaler te laat opdok, en hy het die president gevra om Donderdag in sy repliek volledig te antwoord op oudpres. Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping dat Ramaphosa die ontplooiing van politici en amptenare gekoördineer het tydens die Zuma-bewind. “U was mos Nommer Een se Nommer Twee,” het Maimane gesê.

Julius Malema, EFF-leier, het beelde uit die Ierse digter WB Yeats se gedig “The Second Coming” aangehaal om aan te voer onder Ramaphosa val die staat uitmekaar want elkeen trek in sy eie rigting sonder behoorlike leiding.

“Eskom raak al erger, en dit help nie om Eskom se funksies te onderverdeel nie, want al wie daaruit gaan voordeel trek is die konsultante van Investec, Goldman Sachs en Rothschild’s wat daardie planne opgetrek het sodat hulle ʼn fortuin as konsultante kan verdien,” het Malema aangevoer.

“Transnet verswak, SAL gaan agteruit, Denel sukkel om salarisse te betaal en die grootste gemors is by die Openbare Beleggingskorporasie wat u oorgelaat het aan ʼn kapitalistiese kliek insluitend oudminister Trevor Manuel en sy vrou, Maria Ramos,” was Malema se interpretasie.

Die EFF-leier wou ook weet waarom Ramaphosa die konvensie laat vaar het om die dienende adjunkminister van finansies op die raad van die Openbare Beleggingskorporasie te laat dien. Volgens Malema is dit waarskynlik omdat die nuwe adjunkminister, dr. David Masondo, te ingelig, intelligent, gekwalifiseerd en selfstandig is om deur Ramaphosa en Manuel geboelie te word, “want hy is nie ʼn jabroer nie”.

“U is nie in beheer van die land nie. U dra u verantwoordelikhede oor aan daardie kapitalistiese kliek. So byvoorbeeld is Edward Kieswetter, die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, ʼn hegte vriend van Trevor Manuel,” aldus Malema.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Malema het die nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shamila Batohi, veroordeel dat sy ten gunste van geldelike steun uit die private sektor vir die werk van die nasionale vervolgingsgesag is, omdat dit volgens Malema tot omkopery kan lei.

Laastens het ʼn opgeklitste Malema verduidelik hoekom sy party so vurig teen die kabinetsaanstelling van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, is. Malema voer aan Gordhan en sy beweerde medewerkers teiken hom (Malema) al sedert 2010 omdat hy wanbestuur by die Inkomstediens aangemeld het. Hy het gesê die Gordhan-groep se volgende teiken is die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu.

Die EFF-leier meen Gordhan het geen respek vir swart mense nie en dat hy moes maak soos die adjunkpresident en gewag het tot sy naam skoon is voor hy ʼn kabinetspos aanvaar. “Ons het niks teen Gordhan persoonlik nie, maar ons beswaar teen u (Ramaphosa se) optrede is dieselfde as die rede waarom ons vir Zuma beveg het – ons sal nie die ondermyning van die openbare beskermer as instelling duld nie, ongeag wie die pos beklee.”

Malema het afgesluit met die onderneming dat die EFF binnekort wetgewing gaan indien vir onteiening sonder vergoeding, die permanente aanstelling van alle tydelike werkers en die nasionalisering van die Reserwebank.

Adjunkpres. David Mabuza tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Op sy beurt het adjunkpresident Mabuza se toespraak gefokus op die onwenslikheid van rasverdelende uitsprake op sosiale media deur mense van alle rasse, die verligting van armoede en die bestryding van MIV/vigs.

Hy het sy toespraak afgesluit met ʼn  ongewoon innige betuiging van sy bewondering vir Ramaphosa, en het die president verseker dat hy altyd op hom as adjunk se steun kan staatmaak – in tye van voorspoed én teenspoed. Dit was ʼn klaarblyklike poging van Mabuza om sy politieke kleure te wys te midde van bewerings dat hy en Ramaphosa se politieke vennootskap wankel.

Namens Inkatha het die IVP-leier, prins Mangosuthu Buthelezi, op probleme binne die presidensie se begrotingstoewysing gewys en gesê ʼn parlementêre portefeuljekomitee is nodig vir oorsig oor die presidensie, want dis onmoontlik vir LP’s om daarsonder ʼn ingeligte mening te hê oor die tersaaklike begroting.

Buthelezi het gewys op skerp toenames in die kostes van konsultante, spyseniering en reise, en dat daar 49 mense meer werk in die presidensie as wat die begroting toelaat.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gevra dat twee Suid-Afrikaanse ambassadeurs, Bruce Koloane in Den Haag en Zindzi Mandela in Kopenhagen, teruggeroep word weens betrokkenheid by onderskeidelik staatskaping en rassisme. Terwyl LP’s van die ANC en EFF doodstil was oor Koloane se terugroeping het hulle luidrugtig vir Groenewald uitgejou oor sy mening rakende Mandela.

Groenewald het Ramaphosa baie ernstig versoek om plaasmoorde in die openbaar te veroordeel soos twee ANC-premiers, David Makhura van Gauteng en Job Mokgoro van Noordwes, reeds gedoen het. “Waarom doen u dit nie?”  het Groenewald gedemp aan Ramaphosa gevra.

Die VF Plus-leier het ook voorgestel dat misdaad beter bekamp kan word as die polisie toegang verkry tot die vingerafdruk-databasis van die departement van binnelandse sake.

Groenewald het gesê rassediskriminasie moet afgeskaf word en verbruikers moet vir munisipale dienste betaal.

Vir die ACDP het eerw. Kenneth Meshoe ook gevra Ramaphosa moet optree teen plaasmoorde. Die ACDP-leier het sy kommer oor stygende staatskuld uitgespreek.

Toe was dit Jackson Mthembu se beurt as minister in die presidensie, en hy het die roede nie gespaar teen die EFF nie. Hy het gesê sy waarskuwing aan sy dogter is om so vinnig moontlik weg te hardloop as iemand in EFF-drag enige belangstelling in haar toon.

Mthembu het die EFF as anargiste uitgekryt betreffend hul stryd teen Gordhan. Hy het daaraan toegevoeg dat die EFF Indiërs haat en rassisties is. “Waarom is die EFF eintlik so erg teen minister Gordhan gekant? Omdat hy staatsbestuurde ondernemings wil skoonmaak en dus trap op die korrupte tone van EFF-meeloper.

“Die EFF word gefinansier deur tabak- en sigaretsmokkelaars teen wie die Inkomstediens nou optree, maar die Inkomstediens is soos ʼn bewegende trein wat nie sal stop omdat die honde daarvoor blaf nie,” aldus Mthembu.

Ramaphosa sal vandag sy repliek op die debat lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

Stel dit aan hom dat daar kennis geneem word dat sy voortdurende stilswye as goedkeuring beskou word . As hy dan wil omswaai moet hy geignoreer word . Punt

Johan Swart

Ai…hoe lekker lag ek nou…die vetrolle skud sommer so.

Lee

Natuurlik sal hy niks sê nie want hy wil die boere se grond vat om vir sy mense te gee. Sal my ook gladnie verbaas as hulle kop-in-een mis is met die aanvallers van plaasmoorde nie. Swart Polisie beamptes help ook nie eintlik om die sake op te los nie. Dis mos nie hulle mense nie.

jean

Visums of nie,,,,,as die slim manne wil kom sal hulle…….wil hulle egter?

Spike

Hy sal nie teen plaasmoorde praat nie. Dan praat hy teen sy eff, blf broers.