‘Politieke partye moet alle skenkings verklaar’

Matthew Parkshet

Die eerste dag van voorleggings oor die finansiering van politieke partye het net twee voorleggings ingesluit – ’n mondelinge voorlegging deur die vakbondfederasie Cosatu, en ’n skriftelike voorlegging deur die Inkatha Vryheidsparty (IVP).

Cosatu se voorlegging deur sy parlementêre verteenwoordiger, Matthew Parkshet, begin met ’n uitdrukking van skok en afgryse dat politieke partye kragtens die nuwe betalings selfs meer geld van die belastingbetaler gaan ontvang, en dit in ’n tyd van groeiende werkloosheid, besuiniging en armoede.

Cosatu het toegegee dat die openbaring van donateurs aan politieke opposisiepartye wel die geleentheid vir die teikening en intimidasie deur magshebbers kan skep, maar meen dat dit nie kan opweeg teen die omvang van korrupsie en nepotisme waardeur politieke partye aan die neus gelei word nie.

Cosatu meen alle skenkings aan politieke partye moet openbaar gemaak word; nie net skenkings van meer as R100 000 nie. Die vakbonde meen voorts dus dat geen skenkings anonimiteit moet geniet nie.

Voorts meen Cosatu die strawwe vir oortredings van die beplande regulasies is te lig.

Inkatha se voorlegging is in die naam van die party se parlementslid, Albert Mncwango. Die party se grootste beswaar is dat die OVK klaarblyklik carte blanche geniet oor wanneer politieke partye geld moet teruggee met geen manier om te appelleer nie.

Dieselfde beswaar geld dat die OVK die finale besluit kan neem oor watter donasies anoniem gedoen kan word. Die beswaar van die IVP berus op ’n mening wat die party al dikwels uitgespreek het, naamlik dat die OVK eintlik maar ’n politieke instrument in die hand van die ANC is.

Dit is ’n situasie wat volgens die IVP sal vererger as die OVK as arbiter oor geheimhouding aangestel word met geen manier om teen beslissings te appelleer nie.

’n Laaste beswaar is dat die OVK kan besluit watter gelde om te hef vir die administrasie van die veelparty-finansieringsfonds, wat nogmaals die IVP se sentrale punt bevestig dat die regulasies te veel mag aan die OVK toeken, wat deur Inkatha as ’n politieke instrument beskou word.

Vrydag is die laaste dag vir voorleggings. Die deelnemers is die voormalige minister van grondwetlike ontwikkeling, mnr. Valli Moosa, gevolg deur Business Unity South Africa, die EFF, die Forum 4 Service Delivery (dis ’n klein politieke party), Business Leadership South Africa, die Inligtingsreguleerder, die ANC en laastens Right2Know.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Maak eerder ALLE skenkings onwettig. Dan is almal op gelyke voet. Politici kan hul persoonlike geld gebruik.

Sarel ·

Wonder of daar n verrasing wag wanneer ons sien wie steun wie? Sal dit moontlik wees om ook n bietjie terugdwerkend te kan sien. Feit is dat skenkings heelwat minder gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.