Politieke partye moet nou sê oor skenkings

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Die parlement het die kontroversiële Wysigingswet op die Bevordering van Toegang tot Inligting Woensdag aanvaar. Dié wet sal politieke partye in Suid-Afrika noop om enige skenkings ten bedrae van R100 000 en hoër, asook wie die skenkings gemaak het, te verklaar.

Die wysigingswet sal nou vir oorweging aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê word.

Die oorspronklike wet is verlede jaar Junie as ongrondwetlik deur die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind, omdat dit nie toelaat dat skenkings geboekstaaf en onthul word nie. Die parlement is toe beveel om binne 18 maande wysigings aan die wet aan te bring.

Die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr verduidelik dat burgers van ʼn land daarop geregtig is om te weet waarvandaan politieke partye se private skenkings kom, om sodoende hul reg om te stem doeltreffend uit te oefen.

Die saak is al in 2015 deur ʼn niewinsgewende organisasie, My Vote Counts, by die Grondwethof ingedien.

Politieke partye in Suid-Afrika het egter probeer om teen die wetgewing te baklei. Die DA het vroeër gesê dat dit hul skenkers anoniem wil hou om hulle te beskerm. “Baie skenkers glo, of dit nou reg of verkeerd is, dat hulle benadeel sal word of geïntimideer sal word vanweë die feit dat hulle aan opposisiepartye geld skenk,” het die party se James Selfe gesê.

Die wysigingswet gaan politieke partye ook nou noop om lenings en borgskappe te verklaar. Hierdie opnames sal elke kwartaal openbaar gemaak word en moet vir vyf jaar op rekord gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arak ·

Maar natuurlik wil die DA baie graag die skenker(s) anoniem hou. Nou sal ons almal kan sien wie werklik die land regeer.

Chris Ws ·

Dit is hoog tyd!!Nou kan ons SIEN watter groot maatskappye ons in die toekoms moet boikot.

Chris du preez ·

Aag hulle gaan nou maar net vyf skenkings van R99000 deursit en nie verklaar nie in plaas van een skenking van R500 000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.