Politieke partye moet private befondsing bekendmaak, sê hof

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag beslis die parlement moet binne die volgende 18 maande voorsiening maak dat politieke partye die bronne van hul private befondsing openbaar moet maak.

Die hofbeslissing dat wetgewing deur die parlement aangepas moet word, kom te midde van teenstand deur sommige partye wat vrees dat dié openbaarmaking befondsing in gedrang kan bring.

Regter Yasmin Meer het in hofdokumente gesê die bekendmaking van die private befondsing van politieke partye en onafhanklike kandidate is noodsaaklik vir die doeltreffende uitoefening van die reg om te stem en om politieke keuses te maak. Sy het die parlement opdrag gegee om die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) sodanig aan te pas.

Die aansoek om die grondwetlikheid van PAIA, wat partybefondsing uitsluit, uit te daag, is deur die nie-winsgewende organisasie My Vote Counts (MVC) ingedien.

MVC het die hofuitspraak verwelkom en gesê dit is aanduidend dat daar wetgewing in plek moet wees wat toegang tot inligting toelaat.

Gary van Staden, ʼn politieke analis by NKC Research, het gesê daar is kommer dat die uitspraak ʼn aansienlike invloed op befondsing kan hê en dat dit partye blootstel vir verleentheid. “Daar is die moontlikheid van aansienlike verleentheid. Ek dink ons gaan vind dat sommige mense wat voorkom dat hulle stoere ondersteuners van een party is, eintlik geld vir ʼn ander party gee,” het Van Staden gesê.

Die DA, wat een van die respondente in die hofaansoek was, het gesê sommige van sy donateurs sal verkies om nie openbaar gemaak te word nie uit vrees vir diskriminasie. ʼn Woordvoerder van die ANC, wat ook een van die respondente was, was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Loeis ·

Wie okal ‘n party befonds, soek natuurlik iets in ruil daarvoor. Wat beteken dat ‘n party moet kies tussen die mense wie vir hom gestem het, en wie okal vir daardie party geld gee.

Dit is dus in belang van demokrasie dat partye hul befonsers bekend maak!

Hendrik ·

Demokrasie vir die wenners. 51% van die kiesers is gelukkig met die uitslag. Wat van die 4% minderheidsgroepe wat die pakslae moet kry van keuse van die meerderheid. Daar is fout met die land se demokrasie. Jy kan nie diskrimineerende wetgewing teen ‘n klein 4% minderheid instel nie. 25% van die minderheid lewe in totale armoede in plakkerskampe met minder as R1500. per maand. Demokrasie?

jaco ·

met n salarisse van R1.3miljoen PER JAAR vir ELKE parlementslid, behoort daar mos genoeg te wees om hulle partye te befonds. Dit werk uit op amper R110 000 PER MAAND. Brood, melk, vleis ens ens kos dieselfde vir hulle as vir arm Suid-Afrikaners, so meeste van daardie R110 000 per maand word in elk geval nie elke maand opgebruik nie. hulle kry ook elkeen n luukse motor, behuising, ‘n selfoonkontrak en ‘n vervoertoelae. petroluitgawe is dus minimaal.
Eerder as om te spaar vir daardie mini-Nkandla na aftrede, kan ‘n baie groot deel van daardie R1.3miljoen per jaar mos eerder vir partysake gebruik word.
GEEN verkose politikus in die parlement, ‘n provinsiale wetgewer of ‘n munisipale raad behoort ooit oor korrupsie en vermorsing van belastingbetalers se geld te kla nie, want met hulle vergoeding is ELKEEN van hulle (EFF, ANC, DA, VF-Plus, ACDP) almal ryk en lewe sonder enige gebrek.

soekie ·

Nog n ding wat n euwel is en wat afgeskaf moet word, is die gebruik van belasting betalers se geld om politikusse se hofsake te befonds. Ministers en ander politici sal dan geforseer word om die grondwet reg toe te pas om sodoende hofsake te vermy. As n minister droog maak en hy word voor die hof gesleep moet hy sy eie regskostes betaal en nie belastingbetalers se geld gebruik om homself te verdedig soos wat tans die geval is nie.

Loeis ·

Op duimpie vir jou!

En wanneer polisie iemand onregmatig arresteer, moet hulle ook sommer in hul persoonlike hoedanigheid vir enige kostes verantwoordelik gehou word.

Johan Piek ·

Wat se sodanige verleentheid kan daar nou veroorsaak word ? Kiesers het absoluut die reg om te weet watter instansies en persone skenk vondse aan die party vir wie hulle stem. Dit sal ook sommer help met hulle besluitneming. Wie gee vir politici die reg om te besluit dat ons as kiesers nie mag weet nie? Ons het hulle daar geplaas as ons verteenwoordigers en hulle is in ons diens! Dit is hoog tyd dat daar n einde gemaak word aan die hovaardigheid en arrogansie van regeringsamptenare en politici wat hulle verbeel hulle is n geskenk aan die kiesers !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.