Politieke partye pak mekaar op Maroela oor Afrikaans, taalregte

da-teen-vfplus-logos

Die DA en VF Plus sal mekaar op Vrydag 3 Mei die stryd aansê oor taalregte, Afrikaans en die verkiesing. Skakel in vir die regstreekse uitsending van die debat op Maroela Media se Facebook-blad. Argieffoto.

Beide die DA en die VF Plus maak aanspraak daarop dat hulle die politieke party is wat werklik omgee vir Afrikaans en hulself sal beywer vir die beskerming van jou taalregte indien jy vir hulle stem. Maar wie moet jy glo? Maroela Media het besluit om dié partye die geleentheid te gee om tydens ʼn debat, wat eerskomende Vrydag 3 Mei regstreeks op Maroela uitgesaai sal word, hul standpunte te stel.

Tydens die debat, waarin dr. Annelie Lotriet (voorsitter van die DA in die Vrystaat) en dr. Corné Mulder (hoofsweep van die VF Plus) mekaar die stryd sal aansê, sal die gespreksleier, Paul Maritz, ook jóú vrae aan die twee debatsdeelnemers stel.

Maroela Media het besluit om hierdie debat te fasiliteer na verskeie standpunte oor die beskerming van taalregte en Afrikaans wat beide partye die afgelope tyd in die media, op sosiale media en in hul bemarkingsveldtogte geuiter het.

Die DA het gesê as sy party aan die bewind is, sal hulle veg om Afrikaans se status te behou, én te verbeter. Die VF Plus het egter vinnig teruggekap en dié stelling beskryf as suiwer opportunisme in die aanloop tot die algemene verkiesing wat volgende week plaasvind.

Kort daarna het die DA se leier, Mmusi Maimane, in ʼn video gesê hy glo dat almal se taalregte beskerm moet word in ʼn diverse land soos Suid-Afrika. Hy praat ses tale waarvan een Afrikaans is, het hy gesê, en hy sal altyd baklei vir almal se taalregte.

Dit het die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, genoop om die party vir ʼn debat oor taalregte en die beskerming van Afrikaans uit te daag, en die DA het die uitnodiging aanvaar.

Nou kan jy uit die perd se bek op Maroela Media hoor wat die partye se standpunte is oor die beskerming van Afrikaans en die handhawing van taalregte.

Skakel op Vrydag 3 Mei om 10:00 in om na ʼn regstreekse uitsending van die taaldebat op Maroela Media se Facebook-blad te kyk. Stel ook self ʼn vraag of twee aan die partye in die aanloop tot die algemene verkiesing.

Wie sal die pyp rook? Sal hierdie partye jou kan oortuig van hul standpunt? Het hulle antwoorde op jou vrae oor die verkiesing?

Kyk ook hier na die video van dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, wat die uitdaging tot die debat met die DA aanvaar:

Kom volg die debat net hier op Maroela Media en stel jou vrae aan die DA en VF Plus:

Wys jou belangstelling in die debat en RSVP vir die regstreekse uitsending op Maroela Media se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae