Politieke partye reageer op uitstel van staatsrede

Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies (links), en Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering tydens ʼn mediakonferensie oor die uitstel van die staatsrede vir 2018 (6 Februarie 2018, Kaapstad) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die Demokratiese Alliansie, ANC, EFF en Vryheidsfront Plus het reageer op Dinsdag se aankondiging dat die staatsrede uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het die staatsrede uitgestel ná ʼn vergadering met hoofswepe van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word.

Die Demokratiese Alliansie sê:

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het gesê sy party verwelkom die besluit. “Ek het die speaker verlede week versoek om die staatsrede onbepaald uit te stel tot die huidige leierskapkrisis binne die ANC opgelos is. Ons kan nie geld, tyd of nog ʼn greintjie geloofwaardigheid in die internasionale arena mors deur Jacob Zuma toe te laat om die staatsrede te lewer nie,” het hy gesê.

Hy het verduidelik die staatsrede jaag belastingbetalers ongeveer R11 miljoen uit die sak.

“Suid-Afrika werk net wanneer die parlement werk, en die staatsrede is ʼn integrale deel van die land se wetgewende agenda. Dis noodsaaklik dat ons moet seker maak dat die staatsrede voortgaan, maar dit kan net gebeur as Jacob Zuma as president van Suid-Afrika verwyder word.”

Hy sê ʼn nuwe president moet binne ʼn week via ʼn spesiale sitting van die parlement aangestel word.

Hy het gesê die DA verwerp ʼn amnestie-ooreenkoms of enige spesiale ooreenkoms met Jacob Zuma. “Hy is nie bo die wet verhewe nie, en moet tereg staan op 783 aanklagte van bedrog, geldwassery en swendelary wat foutiewelik byna 10 jaar gelede teen hom laat vaar is.”

Die ANC sê:

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gesê die party respekteer die besluit van die president, in samewerking met die toesighoudende beamptes van die parlement om die staatsrede uit te stel. “Ons verstaan dat hierdie besluit geneem is gebaseer op ʼn gedeelde begrip dat dié belangrike toespraak gelewer moet word binne ʼn gunstige politieke omgewing,” het Mabe gesê.

“Die ANC bly verbind om leierskap aan die Republiek van Suid-Afrika te bied op só manier dat dit vertroue in staatsinstansies, soos die parlement, bevorder. “Die ANC-koukus, verteenwoordig deur die hoofsweep, het gevolglik ook ʼn motivering gebied dat die staatsrede uitgestel moet word, in die lig van toenemende angstigheid van die publiek.”

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal Woensdag in Kaapstad vergader.

Die EFF sê:

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê sy party verwelkom ook die uitstel van die staatsrede. “Ons verwelkom dit as ʼn skuif om Zuma uit die hoogste amp in die land te verwyder.”

Ndlozi het gesê die party benadruk sy versoek dat ʼn mosie van wantroue voor die staatsrede moet plaasvind. “Ons weet dat, selfs al versoek die NUK Zuma om te bedank, sal hy nie uittree nie. Hy hoop dat chaos sal uitbreek indien hy gedwing word om te bedank,” het Ndlozi bygevoeg.

“Omdat hy weet dat sy bestemming die tronk is, wil Zuma binne chaos uittree – hy moet uitgedwing word, en daar moet gewys word dat daar nie enige chaos sal wees nie. Zuma sal in die tronk beland – nie omdat almal hom haat nie, maar omdat hy baie hard gewerk het om in die tronk op te eindig.”

Die VF Plus sê:

“Hoewel die VF Plus nie beswaar daarteen het dat Donderdag se staatsrede uitgestel is nie, is dit ʼn wesenlike probleem dat dit slegs ʼn dag voor die staatsrede aangekondig word, het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Groenewald sê die uitstel skep die indruk dat die skrywes van opposisieleiers wat daarop aangedring het, nou as ʼn rookskerm deur die ANC misbruik word om sy eie onvermoë en onbevoegdheid om interne probleme op te los, te verbloem.

“Logistieke reëlings vir die staatsrede is reeds ver gevorder. Gaste van oor die wêreld heen sou dit bywoon. Hotelbesprekings is gedoen en vliegtuigkaartjies gekoop. Om dit te kanselleer en te verander gaan groot onnodige koste vir die betrokkenes teweeg bring.

“Die uitstel van die staatsrede laat ook geen twyfel nie dat daar binne die ANC die gevoel is dat Cyril Ramaphosa die staatsrede moet lewer en nie pres. Jacob Zuma nie. Die uitstel is daarom dan ook ʼn oorwinning vir die Ramaphosa-faksie in die ANC.

“Dit is duidelik dat die ANC sukkel om van pres. Zuma ontslae te raak en die argument dat die ANC nie twee sentrums van mag kan hê nie, is ʼn swak argument. Toe pres. Zuma in 2007 verkies is as pres. van die ANC, het Kgalema Motlanthe president geword nadat pres. Thabo Mbeki herroep is.

“Die twee magsentrums in die ANC was in plek totdat pres. Zuma in 2009 president geword het. Dit is daarom duidelik dat die argument bloot daarop gemik is om van pres. Zuma ontslae te raak,” het Groenewald bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lolla ·

En dis weer net die VF Plus wat regtig eerlik en in almal se belang optree en spreek… VF Plus, hou so aan, my skuif is gemaak. Dis julle wat my toekomstigge merkies verdien.

N Lourens Reitz ·

Dankie Lola Dit is ook my tuiste my mense my taal my kultuur. Ek is nie by die VF as n vreemdeling nie!

Tania Heyns ·

Dagsê Oopsie

Dankie vir jou valkoog, ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Juan ·

Ek stem saam. VF kan debateer en met feite. Ek stem al lank vir VF en het nog nooit vir die DA gestem nie, maar ongelukkig sit daar ‘n paar DA mense in my vriendekring die pot mis. Se net ons is die minderheid en kan nie saamstaan nie en DA lewer goeie dienstes. Wel ek gaan nie verder uitbrei oor hoe die VF in Wes-Kaap die DA aangevat oor die toekomstige waterkrises nie en kyk nou as voorbeeld. So ek staan nie saam met die DA en meng my met die skeinheilige semels nie en ons weet almal wat gebeur met semels.

Linda ·

Die VF + was en sal altyd my keuse wees, dink net as Mnr. Pieter Groenewald die president van SA kan word. Die land sal weer blom in alle glorie. Geen slaaplose nagte in SA nie. Ag mens mag seker maar so ‘n bietjie droom na ‘n weer gelukkige SA, sonder moord, verkragtings, kurupsie ens……. Wonder of SA ooit weer ‘n land van VREDE sal wees.

Niel ·

lekker om almal se kommentare te lees rondom VF+ . Maak sommer my hart warm. Ek volg gereeld VF+ se plasings op FB om te sien hoe hulle hulle beywer vir ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.