Politieke partye skryf nuwe wet oor befondsing

verkiesing-2019-da-good-plakkate

Argieffoto: Discott/Commons.wikimedia.org

’n Ingrypende wetsontwerp wat die finansiering van politieke partye openbaar gaan maak soos nog nooit tevore nie, is gesamentlik deur alle lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie oor partygrense heen by die parlement ingedien.

Die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Toegang tot Inligting sal een van die wette wat die oop liberale grondwetlike demokrasie ten wortel lê, naamlik die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (beter bekend as die PAIA-wet), versterk soos wat die Konstitusionele Hof verlede jaar versoek het die parlement moet doen.

In die proses kan dit die land se gevestigde partye in staat stel om linksgesinde burgerlike samelewingsorganisasies uit te oorlê en die anonimiteit van donateurs wat bedrae kleiner as R100 000 aan partye skenk, te bewaar en te respekteer.

Tydens verlede week se voorleggings aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie oor die inhoud van voorgenome regulasies kragtens die nuwe Wet op die Befondsing van Politieke Partye, het ernstige meningsverskille geblyk tussen die voorkeure van die OVK en verskeie linkse burgerlike samelewingsdrukgroepe aan die een kant, en die gevestigde politieke partye aan die ander kant.

Die voorkeur van die OVK en die burgerlike organisasies is dat alle skenkings verklaar moet word om volkome deursigtigheid te verseker, maar die politieke partye voel eerstens dat donateurs wat klein bedrae skenk omdat hulle in ’n politieke saak glo – bedrae wat in elk geval te klein is om mee invloed te koop – kan geteiken word as hulle aan opposisiepartye geld gee, en kan afgeskrik word deur die omvang van papierwerk wat dit lyk die OVK kan vereis.

Tydens verlede week se voorleggings het die ANC, die DA en die IVP in hul insette ’n paar regspunte gemaak waarvan die tersaaklikheid nie toe onmiddellik duidelik was nie, maar wat aansienlik meer sin maak as ʼn mens hierdie PAIA-wysigingswetsontwerp lees.

Die drie belangrikste punte is afsonderlik gemaak. Die een was dat PAIA-wetgewing uitdruklik voorrang geniet bo ander tersaaklike wetgewing, tensy anders vermeld, en in die Wet op die Befondsing van Politieke Partye word dit nie spesifiek vermeld nie.

Die tweede was dat regulasies altyd ondergeskik is aan wetgewing. Die OVK het die mag om regulasies uit te vaardig, maar die parlement (wat uit politieke partye bestaan) kan wette maak, so die OVK en die burgerlike organisasies se turf kan sit as dit ’n magstryd word.

Argieffoto ter illustrasie.

Derdens is die OVK herinner aan die regsreël dat regulasies se reikwydte begrens word deur die bedoeling van die wetgewer. Keer op keer het die politieke partye – wie se lede die wetgewing waarbinne die OVK regulasies moet uitvaardig, geskryf het en dus die bedoeling van die wetgewer kan verwoord – vermaan dat die beplande regulasies wyer strek as die bedoeling van die wetgewer.

Drie maal is skeepsreg, so dit lyk asof die politieke partye die oorhand het oor die OVK en die burgerlike drukgroepe.

So wat bepaal hierdie PAIA-wysigingswetsontwerp waaroor die politieke partye so eensgesind is?

Die wetsontwerp verplig die rekenkundige amptenaar van elke politieke party (asook elke kandidaat wat as onafhanklike in ’n verkiesing staan) om behoorlik en volledig rekord te hou van bedrae van R100 000 of meer wat deur persone en entiteite tot politieke partye bygedra word, enige geld wat aan ’n politieke party geleen word, enige geld wat deur ’n persoon of ’n entiteit namens ’n politieke party betaal word, enige bates, dienste of fasiliteite wat aan ’n politieke party voorsien word en enige borgskappe aan ’n politieke party.

Die rekords moet elke kwartaal op sosiale media geplaas word. Elke party se rekords moet vir die twee maande voor ’n parlementêre, provinsiale of landwye munisipale verkiesing op die party se webblad vertoon word.

Laastens bepaal die wysigingswetsontwerp dat die oorspronklike rekords vir minstens vyf jaar deur die politieke party of onafhanklike kandidaat bewaar moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Abe ·

Jan-Jan,
Sjoe, wat n klomp inligting. ‘Verstaan nog nie alles nie (daardie skeepsreg ding?). Maar dankie. Baie leersaam!

Arak ·

Ek is bly oor die wetgewing. Hopelik sal almal nou kan sien watter eksterne groepe die DA, IVP en ANC befonds. Wat ek egter wonder is wat voorkom die eksterne groepe om hulle betaling net op te breek in kleiner bedrae en sodoende steeds anoniem te bly. Of om te betaal uit verskillende rekeninge. Voel vir my die R100k is weer die loophole waar deur die omkoop gaan plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.