Politieke partye verklaar R27 miljoen se skenkings

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die ANC, DA, Action SA en die PA het tydens die eerste kwartaal van vanjaar skenkings van meer as R27 miljoen by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verklaar.

Dié bedrag is meer as twee keer die bedrag wat tydens die vierde kwartaal van die vorige boekjaar deur politieke partye verklaar is. Sommige van die jongste verklarings is egter laat gemaak en was veronderstel om reeds aan die einde van die vorige boekjaar verklaar te word.

Die OVK wys nou daarop dat die verklarings wat tydens die eerste kwartaal van die huidige boekjaar gemaak is, relatief min is vergeleke met die bedrae wat tydens vorige kwartale verklaar is toe die land se politieke partye vir verkiesings voorberei het.

“Daar blyk dus ʼn baie noue verhouding te wees tussen die aantal en omvang van skenkings en die verkiesingstydperk,” sê die kommissie.

Só lyk skenkings

Politieke partye moet ingevolge die Wet op Politieke Partyfinansiering alle skenkings bo die drempel van R100 000 verklaar. Geen enkele skenking van meer as R15 miljoen per jaar aan ʼn party word toegelaat nie.

Die DA het volgens sy eie verklaring weereens die meeste skenkings – meer as R15,9 miljoen – ontvang, terwyl die ANC R10 miljoen in skenkings ontvang het. Action SA het skenkings van R750 000 verklaar en die Patriotic Alliance (PA) R310 000.

Gayton McKenzie, leier van die PA, het dié skenkings van onderskeidelik R150 000 en R160 000 aan sy party gemaak.

Die meerderheid van die DA se skenkings kom van die Suid-Afrikaanse maatskappy Fynbos Ekwiteit wat tydens die vorige finansiële jaar óók groot skenkings aan die land se amptelike opposisieparty gemaak het.

Die regerende party het sy skenkings vanaf die entiteit bekend as Botho-Botho Commercial Enterprise ontvang.

“Dié entiteit moet nie verwar word met die Batho-Batho Trust, wat tydens die vorige jaar ʼn aansienlike skenking aan die ANC gemaak het nie,” wys die OVK daarop.

Die kommissie berei hom tans daarop voor om die geouditeerde finansiële state van geregistreerde politieke partye te ontleed en amptelik bekend te maak. Dié taak sal die kommissie se grootste taak nóg wees sedert die inwerkingtreding van die Wet op Politieke Partyfinansiering in April verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Mhmm, wonder of AL die partye al die skenkings verklaar! Don’t think so

Harley Davidson ·

Die PA leier verras my nogal met sy “hands on beleid ek sal vir so ‘n party kan stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.