Politieke speletjies terwyl Wes-Kaapse kinders ly – GOOD

Brett Herron, GOOD-LP en die party se sekretaris-generaal. (Foto: Facebook / Brett Herron Politics)

Die GOOD-party beskuldig die ANC en DA daarvan dat hulle ʼn politieke spel speel terwyl kinders in die kruisvuur van bendegeweld sterf.

Brett Herron, GOOD-LP en die party se sekretaris-generaal, sê die provinsie ondervind vlakke van bendeverwante geweld wat ongekend in 30 jaar van demokrasie is. “Nie net is die geweld buite beheer nie, dit spoel nou ook oor uit gemeenskappe wat tradisioneel deur bendegeweld geteister is.”

Herron het verwys na die dood van twee mense in afsonderlike voorvalle in Belgravia, ʼn betreklik middeklasbuurt in Athlone. In een van die voorvalle is ʼn gr. 11-leerder dood toe sy in bendes se kruisvuur beland het.

Die meisie het by die hek van die Belgravia Hoërskool in Vleiweg gestaan toe sy doodgeskiet is, het kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, vroeër gesê. ʼn 20-jarige man is ook in Canalweg doodgeskiet toe bendes lukraak losgebrand het.

“Nie die nasionale polisie of die noemenswaardige misdaadbekampingshulpbronne van die provinsie of die stad Kaapstad het enige uitwerking nie,” sê Herron. “Pleks daarvan is dit die vrywilligers wat by buurtwagte en ander misdaadvoorkomingsinisiatiewe aansluit wat die meeste van die werk doen; die ambulanse ontbied, die liggame optel en die getraumatiseerde inwoners vertroos en verseker dat hulle nie op hul eie is nie.”

Herron voer egter aan selfs die buurtwagte word verpolitiseer. Dié wat steun aan die DA wys, word gefinansier en ondersteun, maar nie die ander nie, sê hy. Buurtwagte is ʼn gemeenskap se eerste verdedigingslinie en speel ʼn kritieke rol. Hulle behoort ook behoorlike hulpbronne te hê, ongeag politieke oorweging.

“Terwyl families dus oor die grootste gedeelte van Kaapstad agter toegetrekte gordyne en geslote deure skuil, is die DA-premier van die provinsie en die burgemeester van die stad op die verkiesingspad en verkoop hulle die boodskap dat hierdie die bes bestuurde stad in die land is.

“Bes bestuurde vir wie, mnr. Winde?” vra Herron, met verwysing na premier Alan Winde.

By ʼn gemeenskapsvergadering in Hanover Park die afgelope week, het ʼn inwoner ook die minister van polisie, Bheki Cele, daarvan beskuldig dat hy nuwe beloftes maak ná die beloftes wat hy voor die vorige verkiesing nie nagekom het nie.

Die ANC kry in sommige gevalle die skuld. Dié pak weer die skuld op die DA.

“En terwyl julle politieke speletjies speel, sterf ons kinders … Vir drie jaar en nege maande voel julle niks vir ons nie. Dan, drie maande voor die verkiesing, daag julle almal hier op. Dit is bitter onregverdig,” het die inwoner gesê.

GOOD bestempel die vlakke van misdaad as “abnormaal”.

“Die onveilige, onhigiëniese toestande waaronder mense moet leef, in ʼn ruimte wat nie bevorderlik vir ontwikkeling is nie, geteister word deur bendes en in ʼn gebied waar die apartheidsregering hulle gesit het, is abnormaal.

“Vir die leier van die provinsie om aan enigiemand wat wil luister te sê die provinsie is uitsonderlik goed, is abnormaal.”

Herron sê totdat diegene in beheer van die stad en die provinsie aanvaar dat hulle regstellings vir die nalatenskap van apartheid moet doen en behoorlike dienste aan armer gemeenskappe begin lewer sodat dié mense uit armoede gewikkel word, gaan bendes net al hoe meer word.

“En die lyding gaan nie eindig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.