Politieke vonke spat in Noordwes

Betogings naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: Twitter

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mahikeng-kampus is Donderdag vir personeel en studente gesluit, talle paaie in die gebied is onbegaanbaar en nóg voertuie is verbrand tydens voortslepende geweld in die gebied.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê nege mense is reeds in verband met die gewelddadige betogings in hegtenis geneem. “Die verdagtes is in Montshioa [suid van Mahikeng] en die omliggende nedersettings op onderskeidelik aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die Mmabatho-landdroshof verskyn,” het Myburgh gesê.

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Rubberkoeëls moes in ʼn stadium deur die polisie afgevuur word. ʼn Bus is ook Woensdag deur betogers aan die brand gesteek.

Myburgh het gesê hoewel die polisie gister daarin kon slaag om die geweld in die gebied in bedwang te bring, het die geweld later weer plek-plek opgevlam. “Gedurende die nag is ʼn vragmotor in die Moshawane-nedersetting buite Mahikeng aan die brand gesteek, terwyl nog ʼn voertuig en vragmotor langs die Mahikeng-Vryburg-pad aan die brand gesteek is. Daar was ook voorvalle van plundering wat in gebiede soos Lomanyaneng, Montshioa en Mmabatho aangemeld is.”

Myburgh het gesê talle paaie is steeds onbegaanbaar nadat dit deur betogers afgesper is. Sy het ʼn beroep op motoriste gedoen om gehoor te gee aan opdragte van die wetstoepassingsbeamptes.

Skoolkinders word huis toe gestuur weens betogings in die Mahikeng-omgewing in Noordwes (18 April 2018). Foto: Twitter

Intussen het die NWU op sy amptelike Twitter-profiel bevestig dat die Mahikeng-kampus vir die dag gesluit is ter wille van die veiligheid van die universiteit se personeel en studente. “Neem asseblief kennis dat die onluste beperk is tot die stadsgebied en nie op die kampus self voorkom nie. Ons sal julle op die hoogte hou van enige verdere verwikkelinge,” lui die twiet.

Botswana se departement van nasionaliteit en immigrasie het in ʼn verklaring gesê dat alle ingangs- en uitgangspunte na Mahikeng vanaf vandag gesluit sal wees tot verdere kennisgewing. “Daar sal geen taxi’s en busse na Mahikeng wees nie, want die bestuurders het hulle by die betogings aangesluit,” lui die verklaring.

Myburgh het gesê polisiebeamptes sal in die gebied ontplooi wees totdat die situasie na normaal teruggekeer het. “Lede van die publiek word aangeraai om nie aan onwettige aktiwiteite deel te neem nie, maar dit eerder by die polisie aan te meld.”

Betogings naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: Twitter

Daar bestaan tans onsekerheid oor presies waaroor die spanning in die gebied gaan, met sommige wat meen dat inwoners ontevrede is oor swak dienslewering, terwyl ander beweer die geweld gaan eerder oor inwoners wat daarop aandring dat premier Supra Mahumapelo moet bedank.

Sommige politieke partye voer aan dat dié twee kwessies nie afsonderlik van mekaar staan nie en dat albei dus rede vir die geweld is.

Maroela Media het vroeër berig daar sou vroeër vandeesweek in die provinsiale wetgewer oor ʼn mosie van wantroue in Mahumapelo gedebatteer word, maar dié mosie is ter elfder ure gekanselleer. Dit volg nadat die EFF, wat oorspronklik die mosie ter tafel gelê het, die aand voor die debat oor die mosie aan die speaker van die wetgewer geskryf het om te versoek dat die debat uitgestel word.

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Die EFF het aangedui hy sal die hof nader om die wetgewer te verplig om die mosie met ʼn geheime stemproses te beslis. Dit volg nadat die speaker, Susana Dantjie, vroeër besluit het dat die mosie met ʼn oop stemproses beslis sal word.

Verlede maand het die Valke ʼn klopjag op Mahumapelo se kantoor uitgevoer waartydens daar op verskeie dokumente beslag gelê is wat verband hou met beweerde wanadministrasie, bedrog en korrupsie van sowat R160 miljoen.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het detyds gesê die klopjag hou glo verband met ʼn kontrak wat vir drie jaar tussen die Noordwes-regering en Nepo Data Dynamics aangegaan is wat glo help met die verskaffing van internet- en bemarkingstelsels in die premierskantoor en ander regeringskantore.

Volgens Groenewald is die kontrak aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan Nepo Data Dynamics oorbetaal.

Volgens mediaberigte sal die ANC se nasionale werkkomitee vandag met die provinsiale uitvoerende komitee van Noordwes en die party se koukus in die provinsiale wetgewer vergader. News24 berig sommige LP’s beweer dat hulle die nasionale leierskap wil versoek om Mahumapelo te herroep eerder as om te wag vir die mosie van wantroue om deur die wetgewer aangehoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerrit ·

So word instansies wat broodnodig is vir opvoeding afgebrand en more word n funksionele universiteit weer gekaap??

Grassie ·

Dit is vir my as Westerling moelik om die mense van Afrika te verstaan. Hulle is kwaad vir hul premier (Supra) maar steek ander onskuldige mense se voertuie aan die brand, onder andere die bus waarmee hulle waarskynlik more moes werk toe ry, plunder onskuldige mede-swartmense se winkeltjies en verhoed hul eie kinders om skool toe te gaan. Dit is so goed jy is kwaad vir iemand anders maar slaan jouself met ‘n sambok.
Sovér Supra betref – ek onthou wat hy gesê het tydens die Coligny- onluste. Die wiel van regverdigheid draai stadig, maar hy draai seker. Jou beurt is jou beurt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.