Pollsmoor-ontsnapping: Familielede help vyf weer vastrek

Die Pollsmoor-gevangenis in Tokai in Kaapstad. Foto: Google Maps

Danksy speurwerk en die samewerking van familielede van die ses verdagtes wat Sondagaand uit die Pollsmoor-gevangenis in Tokai in Kaapstad ontsnap het, is vyf van hulle weer agter tralies.

Simphiwe Xako, Wes-Kaapse woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sommige ontsnaptes het na hul onderskeie familielede gevlug en dié het owerhede daarvan in kennis gestel aangesien hulle nie die ontsnaptes daar wou hê nie.

Volgens Xako is twee mense in Ocean View vasgetrek. Een man is by ʼn skrootwerf in Blackheath in hegtenis geneem, een in Kalksteenfontein en een in Kleinvlei.

Die gevangenes wat weer agter tralies is, is Gershwin “Oupa” Mol van Kleinvlei, Courley “Boesman” None van Ocean View, Siphenathi Ntansiso van Bloekombos, Courtline Oliver van Matroosfontein, Mervin Witbooi van Eersterivier en Emile Linders van Stellenbosch.

Xako het gesê die enigste oorblywende voortvlugtige is van die Kraaifontein-gebied. Hy dien tans tronkstraf uit vir verkragting en poging tot moord. Die soektog duur voort. Lede van die publiek word gemaan om hom nie te nader nie, maar eerder inligting by die naaste polisiestasie aan te meld.

Maroela Media het vroeër berig die gevangenes het Sondag omstreeks 23:00 uit die B5-eenheid van die Pollsmoor Medium B-gedeelte ontsnap. Daar word vermoed dat die ses gevangenes tralies verwyder het met behulp van stukke metaal wat hulle verkry het deur een van die beddens te breek. Die departement het ʼn interne ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annie ·

Bly hulle families het hulle weer laat vang – laat hulle op die vloer slaap.

Wonder ·

Ek glo hulle sal hom gou kry, voordat hy weer iemand verkrag en vermoor. Maroela sit net ‘n foto van hom by die berig, sodat almal kan sien hoe hy lyk, asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.