Polokwane-lughawe ‘herhaaldelik’ gewaarsku

Die Polokwane-lughawe. (Foto: gaal.co.za)

Talle vrae word gevra oor die situasie by die Polokwane-lughawe nadat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) dit vandeesweek na kategorie 2 (CAT2) afgegradeer het. Dit beteken kommersiële lugrederye mag nie van die lughawe gebruik maak nie.

Die private streekslugdiens Airlink het Donderdag aangekondig hy moes alle vlugte na Polokwane opskort weens dié afgradering. Hy het ook gesê dit is betreurenswaardig dat die lughawe hom nie tydig hieroor ingelig het nie.

Die BLO sê daar was verskeie minimum vereistes waaraan die lughawe nie voldoen het nie. Dit sluit in bepalings oor infrastruktuur, laaibladdienste, brand-en-reddingsdienste en ʼn gehaltebestuurstelsel by die lughawe.

“Ons het die Polokwane-lughawe herhaaldelik kans gegee om die nie-voldoening reg stel en hulle het versuim om dit te doen. Daarom is die besluit oor afgradering geneem,” sê Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO.

Die owerheid het die lughawe verskeie kanse gegun om die tekortkominge reg te stel. Teen die tyd dat opvolg-oudits gedoen is, was die probleme egter steeds nie getakel nie.

ʼn Kategorie 2-lughawe hoef nie aan sekere streng bepalings te voldoen wat vereis word wanneer ʼn kommersiële lugredery ʼn lughawe gebruik nie. Die BLO is nie aanspreeklik vir die inwerkingstelling van die regulasies wat vereis word nie, maar indien dit nie in werking gestel word nie, moet hy ingryp.

Die DA het intussen gesê hy gaan aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer, Mosebenzi Zwane, skryf om te vra dat die BLO voor die komitee verskyn om die afgradering te kom verduidelik.

Chris Hunsinger, die DA se woordvoerder oor vervoer, sê die party wil onder andere weet of enigiemand vir die nalatigheid by die lughawe aanspreeklik gehou is en of maatreëls ingestel is om die gebrek aan voldoening aan die minimum vereistes reg te stel.

“Die Polokwane-lughawe, ten spyte van sy grootte, is ʼn sleutellugvervoerverbinding vir sakereisigers en mense wat in Limpopo gebaseer is,” sê Hunsinger.

“Die lughawe is ʼn belangrike inkomstebron vir die streek omdat dit broodnodige werksgeleenthede skep. Die afgradering gaan sonder twyfel ʼn onmiddellike en ernstige uitwerking op die inkomste van sakeondernemings hê wat aan die bedryf verwant is. Dit gaan die bestaande ekonomiese krisis verder vererger.”

Hunsinger sê die ontwrigtende uitwerking van die Covid-19-pandemie op die ondernemings in die lugvaartbedryf was reeds reusagtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stofdonkie ·

Moet die slim DA nou die fout soek by burger lugvaart? Die fout is by die lughawe wat nie voldoen aan die vereistes wat gestel word deur BLO nie. Die veriestes is tog duidelik en hulle het die lughawe al vantevore gewaarsku waarna niks aan die probleem gedoen is nie. Wie is die eienaars van die lughawe, spreek hulle aan, nie die BLO wat hulle werk doen om toe te sien dat die lughawe gesluit word as hulle nie aan die regulasies voldoen nie.

Miskruier ·

Dis korrek, ons lughawe is ook afgradeer. Die heining is weg, diere en mense loop oor die aanloopbane, gate op ryvlak en nog meer.

JM ·

“Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus …” Môre is mos nog ‘n dag en krismis kom ook. Só gaan dit die afgelope 27 jaar in hierdie land. Kyk maar net na die munisipaliteite, om een voorbeeld te noem en steeds is daar nie ‘n einde aan die ANC se arrogansie nie. Hulle wíl nie hê dat dinge moet werk nie.

Kokerboom ·

Sowaar figureer Mosebenzi Zwane nogsteeds ten spyte van verdoemende getuienis teen hom.
Iemand moet aanspreeklikheid aanvaar vir lughawe. Toets is om uit te vind wie?

Di ·

Kan en sal nooit iets in hierdie land in stand kan hou nie, dis oor en oor bewys. Verwoes net als sover hulle gaan

Jakes ·

Die afgradering was noodsaaklik want die lughawe word bestuur deur onbevoegde persone wat oor geen of weinige vaardighede beskik om n lughawe te bestuur nie. Dit gebeur wanneer BBBEE eerste prioriteit is. Lagwekkend maar eintlik n groot skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.