Polokwane-ma vermoor: Hofsaak wéér uitgestel

Tanya Wiers.

Die hofsaak teen Frans Maela (25), die man wat teregstaan vir die gru-moord op Tanya Wiers (44) van Polokwane, is Woensdag in die Polokwane-hooggeregshof weereens uitgestel.

Rolf Wiers, Tanya se man, het Donderdag aan Maroela Media gesê Maela het Maandag ook voorgekom en die saak is toe tot gister uitgestel.

“Maandag was sy voetsoolafdrukke nog nie beskikbaar nie en moes hulle alles bymekaarkry vir Woensdag. Woensdag was dit steeds nie gereed nie en die saak is toe tot September uitgestel vir verdere ontleding,” het Wiers gesê.

Maela sal weer op 10 September in die hof verskyn.

Wiers het gesê dit is vir die gesin moeilik dat die saak so sloer. “Ek hoop dat geregtigheid geskied. As die staat al die bewyse bymekaarkry en alles gereed is September, dan is dit reg, maar elke hofsaak krap alles deurmekaar en ou wonde oop. Dit is baie swaar vir die kinders ook.”

Maroela Media het vroeër berig die aanklagte teen ʼn tweede verdagte, Alfred Hlongwane (45), is in November teruggetrek. Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het detsyds aan Maroela Media gesê die direkteur van openbare vervolging het besluit om Hlongwane nie te vervolg nie. Malabi-Dzhangi het nie die redes vir hierdie besluit verskaf nie.

Frans Maela. Foto: SAPD

Wiers is op 7 Februarie verlede jaar grusaam in haar huis in Polokwane vermoor. Haar seun het die middag op sy ma se liggaam afgekom toe hy van die skool af teruggekom het. Wiers het verskeie steekwonde aan haar nek en verdedigingswonde aan haar hande gehad. Haar oë is met ʼn onbekende skerp voorwerp verwyder.

Maela is dieselfde aand in hegtenis geneem in verband met die moord, terwyl Hlongwane vroeg in Maart 2017 in hegtenis geneem is.

Rolf het destyds aan Maroela Media gesê hy is oortuig daarvan dat die moord nie deel van ʼn gewone rooftog was nie omdat baie min uit die huis gesteel is. Slegs Wiers se trouring en -pand, toonring, armband en rekenaartablet is gesteel.

Die aanvallers het glo twee messe uit die gesin se kombuis gebruik om Wiers mee te vermoor. Die messe is weer gewas en terug in die messeblok gesit, voordat hulle weg is. Wiers se hare is later aan een van die messe gevind.

Lees alle vorige berigte oor Tanya Wiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vervloekte land ·

Ons moet saamstaan en begin op ons regte aandring. Misdadigers hoort vir ewig in tronke.

Annie ·

Vergestalte van satan… hiedie optrede kweek haat en woede by mense wat net in vrede wil lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.