Polokwane-moorde: ‘Algehele verslaentheid en teleurstelling’

Lazarus Mahlo (41) en Sophie Mmako (51) in die hof. (Foto: Anja van der Merwe)

“Ek het so ʼn rilling in my ruggraat gekry toe ek haar in die hof sien staan.”

Só vertel Dia van Staden (55) oor die oomblik toe sy vir Sophie Mmako (51) in die Polokwane-landdroshof gesien het. Mmako was langer as 20 jaar ʼn huiswerker vir Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79). Sy is nou een van die verdagtes wat aangekla word van die moord op ma en dogter.

Mmako en Lazarus Mahlo (41), die vermeende meesterbrein agter die moorde, het Maandag vlugtig in die hof verskyn nadat hulle Vrydag in hegtenis geneem is.

Van Staden is ʼn jare lange vriendin van Lizette en het op versoek van Lizette se broer, Quinton Deacon, en sy vrou, Christa, die hofverrigtinge namens die familie bygewoon. Die saak is tot Vrydag vir verdere ondersoek uitgestel.

Lizette Deacon en Dia van Staden was jarelange vriendinne (Foto: Verskaf)

Van Staden vertel Mmako werk al sedert 1996 vir die Deacons as huiswerker en sy het haar goed geken.

“My doel was om die hofsaak by te woon en Mmako in die oë te kyk. Ek weet nie waar my krag vandaan gekom het om dit te doen nie.”

Mmako het in die hof vir haar gewaai. “Toe die polisie haar in die hof ingebring het, het hulle haar op die grond laat sit. Ek het vanuit die hofbank opgestaan om seker te maak dat sy my kan sien. Sy het my in die oë gekyk en vir my gewaai.

“Sy kon toe ook agterkom dat ek nie vandag daar was as haar maatjie nie. Ons het oogkontak verbreek en sy het haar kop teen die muur gesit en afgekyk,” vertel Van Staden.

Lizette en Dia saam by Innibos 2018 (Foto: Verskaf)

Van Staden sê sy ken Mahlo nie, maar hy het ook omgedraai en vir haar gekyk. “Hy het met sy bloedbelope oë na my gestaar.”

Hoewel dit vir haar moeilik was om die hofsaak by te woon, is sy bly sy het dit gedoen. “Ek het dit vir Lizette se familie gedoen en om self ook berusting in my hart te kry.”

Van Staden het kort ná die moorde op Lizette en haar ma hul meenthuis in Welgelegen in Polokwane besoek en vir Mmako daar gekry. “Ek het haar ʼn drukkie gegee en sy het my skouer sopnat gehuil. Sy het aanhoudend vir my gesê haar hart is seer.”

By die roudiens wat verlede Dinsdag vir Lizette en Hettie gehou is, het die trane weer oor Mmako se wange gestroom en sy het weer heeltyd gesê haar hart is baie seer.

“Ons het die Dinsdag ná die roudiens na Lizette se huis gegaan waar Mmako vir my gevra het om haar te help om ander werk te soek omdat sy nou twee dae ʼn week oop het.

Die Ocean Basket in Mall of the North in Polokwane. (Foto: Anja van der Merwe)

“Algehele verslaentheid en teleurstelling is wat die familie gevoel het toe hulle vasstel dat Mmako deel was van die moord. Hulle het haar langer as 20 jaar gekoester.”

Mahlo is ook glo ʼn voormalige werknemer van die Deacons in een van die Ocean Basket-takke in Polokwane. Hy is glo sowat drie jaar gelede afgedank en hy en Mmako was na bewering in ʼn verhouding.

“Ons het geweet van Mmako se vriend, maar sy het aan ons gesê sy wil nie meer iets met hom te doen hê nie, want mans beteken net moeilikheid.”

Volgens Van Staden het die familie verneem dat die lykskouing aandui dat Lizette en Hettie versmoor is.

Die Ocean Basket in die Savannah Mall in Polokwane. (Foto: Anjavan der Merwe)

“Die lappe was baie styf om hulle gesigte vasgebind en het hulle glo versmoor.” Hulle hande was ook styf met kabelbinders vasgebind.

Van Staden en Lizette was 37 jaar lank vriende. Hulle het saam by die Potchefstroomse onderwyskollege gestudeer.

“Lizette was ʼn bok vir sports. Haar sin vir humor het haar gedra. Ons het altyd baie pret saam gehad.”

Lizette was ʼn kranige tennis- en hokkiespeler en het ook rolbal gespeel. Sy was eens op ʼn tyd glo een van die voorste tennisspelers in die land.

Sy vertel Lizette was ook ʼn baie harde werker en het ure in haar werk ingesit. Sy besit die Ocean Basket in die Savannah-winkelsentrum in Polokwane al van die vroeë 2000’s af. Sy besit ook die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North-winkelsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Blondie76 ·

Al hoe meer en meer sien ‘n mens dat dit altyd die mense naaste aan jou is en van wie ‘n mens dit die minste verwag. Sy werk 24jaar lank vir die vrou. In 24 jaar word jy al deel van die gesin, hoe doen ‘n mens dit aan die hand wat jou voer? Dit is so vreeslik skrikwekkend dat hulle lewens so moes eindig, soveel meer aan die hand van iemand wat hulle geken, gekoester en vertrou het.

Werner ·

As ons nou nog nie kan agtergekom hulle hou nie van ons nie sal ons seker nooit

gatgogga ·

Baie mense wil dit nie glo nie.
Dit is geriefliker om jouself wys te maak dat die meerderheid jou goedgesind is – want dan slaap jy mos beter. Laat die bekommernis en aksie aan ander oor.

Agge nee ·

Iemand moet nou asseblief seker maak van die volgende: is die man onlangs of drie jaar gelede afgedank by OB? In die een berig staan onlangs en in hierdie berig sowat drie jaar gelede.

Hercules ·

as veteraan moord & roof speurder is ek smoor kwaad en dit help my niks nie!!

die Bybel sê ek moet my naaste lief hê, maar ek sukkel tans om dit uit te leef :-(

soveel moord & doodslag in SA!! en dit lyk my dit skeel die regering van die dag nie veel nie en die Zondo Kom is een groot klug en geld mors!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.