Polokwane-moorde: Beloning vir inligting oor dié man

Owen, die verdagte wat nog gesoek word (Foto: Verskaf)

’n Beloning van R250 000 is Woensdag uitgeloof vir enigiemand met waardevolle inligting wat tot die inhegtenisneming van die uitstaande verdagte kan lei in verband met die moord op ʼn Polokwane-sakevrou en haar ma.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die polisie is op dié verdagte, genaamd Owen, se spoor. Hy is versoek om hom by die naaste polisiestasie aan te meld, want hy kan die polisie moontlik bystaan in die ondersoek.

Owen, ʼn Zimbabwiër, gebruik een van die volgende vanne: Setsiba, Makutara of Mbedzi.

Vier verdagtes is reeds in verband met die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79),  vasgetrek.

Sophie Mmako (51), die Deacons se jare lange huiswerker, het Maandag saam met Lazarus Mahlo (41), die vermeende meesterbrein agter die moorde, vlugtig in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Die saak is tot Vrydag uitgestel vir verdere ondersoek. Die ander twee verdagtes, Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), verskyn ook Vrydag in die hof.

Lizette en Hettie se liggame is twee weke gelede laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie steekwonde gehad.

Mense met meer inligting oor Owen kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 nader of die polisie se misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Sien, weer ‘n Zimbabwiër……..maar ons neem hulle in diens!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.