Polokwane-moorde: Huiswerker was glo die meesterbrein

Advanced Hamid (30), Casper Mudau (35), Sophie Mmako (51) en Lazarus Mahlo (41) (Foto: Anja van der Merwe)

Die vier verdagtes wat tereg staan vir die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), het Woensdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Die ma en dogter se liggame is op 10 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde opgedoen.

Die Deacons se jare lange huiswerker, Sophie Mmako (51), staan saam met Lazarus Mahlo (41) en twee Zimbabwiërs, Casper Mudau (35) en Abibi Advanced Hamid (30), tereg op twee aanklagtes van moord en roof met verswarende omstandighede.

Mmako en Mudau se aansoek om borgtog het Woensdag in die hof begin en word Donderdag voortgesit. Hamid en Mahlo het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Dit is in die hof bevestig dat Mmako al voorheen in die Naboomspruit-landdroshof skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mudau het ook ʼn vorige oortreding teen hom en hy is in 2019 in die Naboomspruit-landdroshof skuldig bevind op die oortreding van die Immigrasiewet. Mudau en Hamid is albei onwettig in die land.

Mmako en Mudau se regsverteenwoordiger, Bobby Lebepe, het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat albei sy kliënte kinders het om voor te sorg.

“Mudau het ʼn sewejarige kind wat hy moet versorg en Mmako het drie dogters wat sy ook finansieel ondersteun.” Albei beskuldigdes het gesê dat hulle net R1 000 vir borgtog kan betaal.

Die ondersoekbeampte, ao. Joseph Malebana, het aangevoer dat Mmako die meesterbrein agter die moorde op die Deacons was, en nie Mahlo soos aanvanklik vermoed is nie.

Volgens Malebana het Mmako glo erken dat sy alles rondom die moorde georganiseer het. Sy het glo die messe gereël waarmee die Deacons gesteek is en die aand van die moorde die agterdeur vir die moordenaars oopgelos . Sy het glo ook erken dat sy vir die moordenaars gewys het waar hulle kan wegkruip totdat die Deacons by die huis opdaag.

Sophie Mmako (51) het 24 jaar vir die Deacons gewerk (Foto: Anja van der Merwe)

Mmako het die afgelope 24 jaar vir die Deacons gewerk. Sy het tydens die hofverrigtinge emosieloos kop onderstebo in die hof gesit.

Mahlo is glo ook ʼn voormalige werknemer van die Deacons in een van die Ocean Basket-takke in Polokwane. Hy is glo onlangs afgedank. Hy en die huiswerker het na bewering ʼn verhouding gehad.

ʼn Groep vroue van die gemeenskap het vanoggend voor die hof byeengekom en plakkate hoog in die lug laat wapper om hul misnoeë teenoor geweld teen vroue te kenne te gee. “Geen borg. Tronk toe,” het dié vroue luidkeels voor die hof se wit staal hekke geskree.

“Ons kan nie langer by grafte staan en huil nie. Ons kan nie meer terugstaan en kyk hoe ons vroue uitgemoor word nie. Stilte is nie die antwoord nie,” sê Adele van der Linde, een van die stigterslede van die beweging Woman taking back safety, wat net na die moorde op die Deacons gestig is.

Die groep vroue het ook ʼn memorandum aan die departement van gemeenskapsveiligheid in Limpopo oorhandig.

“In die memorandum eis ons dat geen borg vir die verdagtes toegestaan sal word nie. Geen borgtog moet toelaat word vir enige moordenaar of verkragter nie,” sê Van der Linde.

Die eise in die memorandum gaan ook aan die NVG en die departement van justisie gestuur word.

“Ons is moeg vir geweld, misdadigers wat vry rondloop en geregtigheid wat nie geskied nie.”

ʼn Beloning van R250 000 is twee weke gelede uitgeloof vir enigiemand met waardevolle inligting wat tot die inhegtenisneming van die uitstaande verdagte kan lei. Dié verdagte, genaamd Owen, word versoek om hom by die naaste polisiestasie aan te meld, want hy kan die polisie moontlik bystaan in die ondersoek. Owen, ʼn Zimbabwiër, gebruik een van die volgende vanne: Setsiba, Makutara of Mbedzi.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

katerinadiekat ·

Hulle moes aan hul kinders gedink het VOOR hulle moord gepleeg het.

Androclus ·

Ag nee wat hulle het nie eers gedink aan die kinders en die gevolge nie,vir my kan hulle maar sit daar is mense wat na die kinders kan omsien.

Anoniem ·

Stel n eis in teen die Minister van verdediging vir haar versuim om haar plig na te kom om die grense veilig te hou soos sy erken het sy nie gedoen of doen nie vir die twee Zimbabwiers wat deel was van die moord…! Afriforum is hierdie nie gronde om die minister uit haar amp te kry nie..!!!??

Riana ·

Min van verdediging gister gese haar soldate help hulle oor grens en sien niks daarmee fout nie so Dagvaar Haar en die staat!

Nella ·

Ek het Maandag 21 Sept verby OB polokwane geloop. So doodsgevoel en sommer hoendervleis gekry en gewonder hoeveel van daardie werkers wat daar gestaan het, was bewus gewees van wat hul beplan het en hoekom hul nie hul werkgewers kon gewaarsku het nie.

Dries ·

Covid. Ek vertrou die mense het buite gewag in groot getalle.

groenboer ·

Ja, goedkoop arbeid. Spaar jou ‘n paar rand, kos jou jou lewe. Wanneer gaan ons dié les leer?

Johan D ·

Lw, vir die helfte van haar lewe en sy draai teen haar werkgewer!

Androclus ·

2 onwettige buitelanders,Swart regering dink net aan 10% vir die volgende tender.

Dries ·

Kinders om te versorg? Dit is die belaglikste rede vir borgtog, terwyl jy beskuldig word van ‘n moord wat jy heel duidelik gepleeg het. Wat van vermoordes se verpligtinge, wie gaan dit nakom??

Tanya ·

Dit maak my sommer naar…. vir 24 jaar het sy vir hulle gewerk, ‘n salaris gekry en dis hoe sy die 2 dames bedank?!!

LiveAndLetLive ·

Ons verskaf werk vir mense wat ons nie kan vertrou nie – dit is n groot risiko wat elkeen van ons loop.
Is jou lewe regtig dit werd om jou tuin en huis skoon te hou?
Inligting lek ook so uit vir inbrake.

Jakes ·

Weereens n geval waar buitelanders maklik die land binnekom en misdaad pleeg. Die vrou wat die meesterbrein is moet vrot in die tronk saam met die ander 3 skobbejakke.

Althes ·

Nou wat sê die Minister van Verdediging nadat soveelste Zimbabwiër teregstaan op moord in SA? Haar bejammering teenoor hul is betreuenswaardig. Dat hul nie kos het nie, baie arm is en maar oor die grens kan kom en soldate hul kan help.
Moord het niks te doen met ñ sny brood nie, Minister!
Dis jou psige wat nie lekker is nie.

LiveAndLetLive ·

As jy jou werlgewer vermoor sal jy nie vir jou KINDERS KAN SORG NIE!!!!!

Sanet ·

Presies. Haar verweer in die verband maak geen sin nie. Nou te laat om daaraan te dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.