Polokwane-moorde: Twee hoor oor borgtog

Advanced Amid (30), Casper Mudau (35), Sophie Mmako (51) en Lazarus Mahlo (41) (Foto: Anja van der Merwe)

Sophie Mmako (51) en Casper Mudau (35) se aansoek om borgtog is Dinsdag in die Polokwane-landdroshof in Limpopo van die hand gewys.

Mmako en Mudau staan saam met Lazarus Mahlo (41) en Abibi Advanced Hamid (30) tereg vir die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79).

Mmako en Mudau het verlede Woensdag met hul aansoek om borgtog in die hof begin. Hamid en Mahlo het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Mmako was die Deacons se jarelange huiswerker.

Landdros Janine Ungerer het Mmako en Mudau se borgtog geweier en hulle sal in aanhouding bly tot en met hul volgende hofverskyning op 30 November. Die ondersoek gaan intussen voort.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Ungerer in haar uitspraak verwys na die openbare verontwaardiging en die gemeenskap se misnoeë in reaksie op die moorde. Sy het ook gesê die verdagtes hou ʼn vlugrisiko in.

Die ondersoekbeampte, ao. Joseph Malebana, het verlede Woensdag in die hof aangedui dat Mudau, sowel as Hamid, onwettig in die land is en dat Mudau ook ʼn vorige veroordeling het. Hy is in 2019 in die Naboomspruit-landdroshof skuldig bevind vir die oortreding van die Immigrasiewet. Hy het aanvanklik in die hof oor sy vorige oortreding gejok.

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Mmako het ook ʼn vorige veroordeling teen haar nadat sy voorheen skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mudau en Mmako kon ook nie behoorlike woonadresse, wat geverifieer kan word, verskaf nie.

Mmako en Mudau se regsverteenwoordiger, Bobby Lebepe, het aangevoer sy kliënte het kinders om te versorg.

Die staat het egter hul borgaansoeke teengestaan en gesê hy voel die verdagtes is gevaarlike misdadigers en hou ’n gevaar vir die gemeenskap in.

Albei beskuldigdes het gesê dat hulle net R1 000 vir borgtog kan betaal.

Dit het verlede week in die hof ook aan die lig gekom dat Mmako die vermeende meesterbrein agter die moorde was.

Malebana het aangevoer dat Mmako glo erken het dat sy alles omtrent die moorde georganiseer het. Sy het glo die messe gereël waarmee die Deacons gesteek is en die aand van die moorde die agterdeur vir die moordenaars oopgelaat. Sy het glo ook erken dat sy vir die moordenaars gewys het waar hulle kan wegkruip totdat die Deacons by die huis opdaag.

Lizette en Hettie se liggame is op 10 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde gehad.

Die lappe wat om hul monde vasgebind is, was baie styf vasgemaak, wat moontlik kon veroorsaak dat hulle versmoor het. Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van hul dood bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Wat ‘n vermetelheid om R1 000 borg te offer! Dis nie eers hul lewens werd nie!

Ek is bly hulle sit en is ‘n gevaar vir die samelewing as hulle 2 vrouens net so dood maak.

Cherry ·

Hamid of Amid? Baie bly hulle bly waar hulle is. Hoekom is hulle hier eerste plek?

Maggies ·

Sy het kinders om te versorg. Ag siestog… my hart bloei vir haar.
Na ampers 3 dekades wat sy vir die dames gewerk het was sy kwaad oor haar salaris gedurende die inperkingstyd. Tyd waar ons almal aanpassings in ons salarisse ervaar het. Regverdig dit ons om ons base te vermoor?
Vorige veroordeling van aanranding? Weet ons wie werk in ons huise?
Dalk moet ons ons huis eerder beveilig en nie huishulpe aanhou nie. Wat maak hulle dan?

Michael ·

Hulle kry al klaar spesiale behandeling. Die dag dat my vervoer na my werksplek my werkgewer se probleem is, is en was nog nooit nie. En dan nou allerhande ander voordele. Nee wat.

Dup ·

Koelbloedige en gewetenlose moordenaars.Hulle staan daar asof hulle niks verkeerd gedoen het nie.Soveel wrede optredes is net nog bewys dat die misdadigers geen gevoelens het nie.Party gee nie eers om dat hulle gevang word nie.Die skade is reeds gedoen.

Riaana ·

In vandag se lewe is dit veiliger om self skoon te maak, en huis werkies te doen al moet jy dit naweke doen, jy kan niemand vertrou nie dit word elkedag oor en oor bewys…

Riaana ·

In hierdie werrld van ons kan jy slegs jouself en God vertrou.. Die makste hond byt altyd die seerste…

Jakes ·

Die landros is puik en het nie borgtog toegestaan nie. Die rede dat hulle kinders het om te versorg is in elk geval nie geldig wanneer jy aansoek doen om borgtog na jy as n verdagte in n skedule 6 misdaad in die hof verskyn nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.