Polokwane-moorde: Verdagtes hoor dán oor borgtog

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Anja van der Merwe

Die uitspraak oor die borgtogaansoek van Sophie Mmako (51) en Casper Mudau (35) sal na verwagting volgende week Dinsdag in die Polokwane-landdroshof gelewer word.

Mmako en Mudau staan saam met Lazarus Mahlo (41) en Abibi Advanced Hamid (30) tereg vir die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79).

Mmako en Mudau het Woensdag hul aansoek om borgtog in die hof begin.  Hamid en Mahlo het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Landdros Janine Ungerer het gesê sy sal volgende week Dinsdag ’n uitspraak oor die borgtogaansoek lewer en sal volledige redes vir haar besluit verskaf.

Die staat het Mmako en Mudau se borgtogaansoeke teengestaan.

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Anja van der Merwe

Die ondersoekbeampte, ao. Joseph Malebana, het tydens Woensdag se verrigtinge aangedui dat Mudau, sowel as Hamid, onwettig in die land is en dat Mudau ook ʼn vorige veroordeling het. Hy is in 2019 in die Naboomspruit-landdroshof skuldig bevind vir die oortreding van die Immigrasiewet. Hy het aanvanklik in die hof oor sy vorige oortreding gejok.

Mmako het ook ʼn vorige veroordeling teen haar nadat sy voorheen skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mudau en Mmako kon ook nie behoorlike woonadresse, wat geverifieer kan word, verskaf nie.

Mmako en Mudau se regsverteenwoordiger, Bobby Lebepe, het aangevoer sy kliënte het kinders om voor te sorg.

“Die staat voel egter die verdagtes is gevaarlike misdadigers en is ’n gevaar vir die gemeenskap,” het Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Albei beskuldigdes het gesê dat hulle net R1 000 vir borgtog kan betaal.

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Malebana het ook Woensdag aangevoer dat Mmako glo erken het dat sy alles aangaande die moorde georganiseer het. Sy het glo die messe gereël waarmee die Deacons gesteek is en die aand van die moorde die agterdeur vir die moordenaars oopgelos. Sy het glo ook erken dat sy vir die moordenaars gewys het waar hulle kan wegkruip totdat die Deacons by die huis opdaag.

Lizette en Hettie se liggame is op 17 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is.

Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde opgedoen. Die lappe wat om hul monde vasgebind was, was baie styf vasgemaak, wat moontlik kon veroorsaak dat hulle kon versmoor het. Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van hul dood bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anne-Marie ·

Ek wil net weet…hoe kan iemand borg kry nadat sy skuld erken met al die detail …goeie genade…sluit toe ne gooi die sleutel weg….al is daar 70 kinders wat buite wag….

Jakes ·

Die landros sal slegs borg toestaan as albei aansoekers buitengewone redes kan aanvoer hoekom hulle borg moet kry. Die feit dat hulle kwansuis kinders het om na om te sien is glad nie n rede vir borg nie volgens die strafproseswet. Hulle moes eerder aan hul kinders gedink het voordat hulle moord gepleeg het. Hoop hulle kry lewenslank.

Persheks Adri ·

Hulle moet sit klaar ons het nie sulke goed nodig in die samelewing nie!

Prontuit ·

Since when kan jy se hoeveel borgtog geld jy kan betaal? ek stem sy het in die 20 jaar vir hulle gewerk so sy het geen gewete gehad toe sy dit beplan het nie in 20 odd jaar bou mens ‘n band met iemand al is dit jou tuin of huis werker, so hoekom verdien sy enige genade! maak borgtog sommer 10 000 en hou haar daar! hulle moes aan hulle nasie van kinders gedink het voordat hulle besluit het om moord te pleeg kom ons wil mos nou he mense se dade moet “gevolge” he kom ons maak sommer nog ‘n voorbeeld, EN dis vroue geweld teen vrouens dit maak dit nog erger, waar is die wat preek oor geslagsgeweld nou? dit raak ALMAL

Wilma ·

Die familie van die twee dames, moet nooit toestemming tot borg gee nie. As hulle Derby-Lewis so lank in die tronk kon hou en hy het nie eers die moord gepleeg nie, kan die 3 wat dit wel gedoen het ook maar for ever daar sit sonder parool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.