Polokwane-moorde: Vier volgende jaar weer in hof

Advanced Amid (30), Casper Mudau (35), Sophie Mmako (51) en Lazarus Mahlo (41) (Foto: Anja van der Merwe)

Die hofsaak van die vier verdagtes wat tereg staan vir die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), is uitgestel tot volgende jaar vir verdere ondersoek.

Advanced Hamid (31), Casper Mudau (37), Lazarus Mahlo (41) en Sophie Mmako (51), die Deacons se jarelange huiswerker, het Maandag weer vlugtig in die Polokwane-landdroshof in Limpopo verskyn. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord, huisroof en ontvoering.

Landdros Janine Ungerer het die saak tot 28 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.

Mmako het verlede Vrydag weer vir ’n tweede keer om borgtog aansoek gedoen nadat haar eerste borgtogaansoek geweier is. Hoewel haar regsverteenwoordiger, Bobby Lebepe, hierdie keer nuwe, buitengewone omstandighede aangevoer het, is die aansoek weer eens van die hand gewys is.

Mmako en Mudau se eerste borgtogaansoek is op 13 Oktober van die hand gewys. Hamid en Mahlo het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Ungerer het in haar uitspraak verwys na die openbare verontwaardiging en die gemeenskap se misnoeë in reaksie op die moorde. Sy het ook gesê die verdagtes hou ʼn vlugrisiko in en kan nie borgtog toegestaan word nie.

Albei beskuldigdes het ook vorige veroordelings teen hulle. Mudau, sowel as Hamid, is ook onwettig in die land.

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Dit het vroeër in die hof aan die lig gekom dat Mmako die verneemde meesterbrein agter die moorde was. Mmako het glo erken het dat sy alles omtrent die moorde georganiseer het. Sy het glo die messe gereël waarmee die Deacons gesteek is en het die aand van die moorde die agterdeur vir die moordenaars oopgelaat. Sy het glo ook erken dat sy vir die moordenaars gewys het waar hulle kan wegkruip totdat die Deacons by die huis opdaag.

“Dit bly onverstaanbaar dat ʼn vrou betrokke kan wees by die beplanning van moord op twee vroue. Ons is beslis in nog ʼn  pandemie vasgevang,” sê Desiree van der Walt, DA-LP, wat tot dusver al die hofverrigtinge bygewoon het.

“Sedert Vrouedag in Augustus tot nou in die 16 dae van aktivisme teen geen geweld teenoor vroue en kinders neem geweld teen vroue net toe. Drie stukke wetgewing wat binnekort voor die parlement dien kan help, maar slegs wanneer dié wette toegepas word en ons regstelsel behoorlik werk. Ons vrouens, kinders en ou mense bly steeds die kwesbaarstes in ons samelewing.”

Lizette en Hettie se liggame is op 10 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde gehad.

Die lappe wat om hul monde vasgebind is, was baie styf vasgemaak, wat moontlik kon veroorsaak dat hulle versmoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Gruwelik boos, om iemand wat jou ‘n werk gee en ‘n lewe vir jou moontlik maak, so te laat vermoor. Hoop hulle maak ‘n voorbeeld van Mmako. Sy was duidelik die meesterbrein.

Elize

Geen borg asb. Kersfees in die tronk!

agnes

Nooit op borgtog uit en nooit weer uit die tronk vir Sophie. Wat sy gedoen het vir die mond wat haar gevoed het is onverskoonbaar