Polokwane-sakevrou en ma vermoor: Polisie soek ook dié man

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Die polisie is op soek na nóg ʼn man wat hulle kan bystaan in die ondersoek na die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79).

“Die man, genaamd Owen, word versoek om by die naaste polisiestasie aan te meld, want hy kan ons moontlik bystaan in die ondersoek,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Owen, ʼn Zimbabwiër, gebruik een van die volgende vanne: Setsiba, Makutara of Mbedzi.

Vier verdagtes is nou reeds in verband met die moord op die ma en dogter van Polokwane vasgetrek.

Soos vroeër berig is die vermeende meesterbrein (41) agter die moorde op die Deacons Vrydagoggend om 09:00 in Tembisa in Gauteng in hegtenis geneem. Hy is glo ’n voormalige werknemer van die Deacons in een van die Ocean Basket-takke in Polokwane. Hy is glo onlangs afgedank.

Owen, die verdagte wat nog gesoek word (Foto: Verskaf)

Mojapelo het bevestig nog ʼn verdagte, ʼn 51-jarige vrou en ook ʼn werknemer van die Deacons, is vanoggend om 08:00 in Polokwane in verband met die moorde in hegtenis geneem.

Die man en vrou sal na verwagting Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord, huisroof en ontvoering.

Die eerste twee verdagtes, Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van moord nadat hulle verlede naweek in hegtenis geneem is. Die saak is tot 25 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk. Hy het ook gemeenskapslede bedank dat hulle die polisie deurlopend gehelp het om waardevolle inligting te verskaf wat tot die verdagtes se inhegtenisnemings gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Nogal deesdae n algemene feit dat vroue ook by moorde betrek word.

Niklaas ·

Dis alweer ‘n knaap van Zimbabwe wat gesoek word vir ondervraging. Hierdie Owen het seker’ n groot rol vervul in die misdaad, want waarom sal hy kan help met die ondersoek ? En nou is hy skoonveld. Deesdae moet mens baie versigtig wees met werk verskaffing, Veral wat mense uit buurlande betref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.