Pompeo-uitspraak ʼn ‘belangrike waarskuwing’

Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake (Foto: @SecPompeo/Twitter)

AfriForum het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se waarskuwing verwelkom dat onteiening sonder vergoeding katastrofies vir Suid-Afrika se ekonomie en die land se bevolking sal wees.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié uitspraak ’n reusehupstoot vir dié burgerregteorganisasie se internasionale veldtog om buitelandse druk te mobiliseer teen die Suid-Afrikaanse regering se planne om hul ideologie van onteiening sonder vergoeding te implementeer.

Pompeo het sy uitspraak ten opsigte van Suid-Afrika se planne vir onteiening sonder vergoeding vanoggend in Addis Abeba in Ethiopië tydens die sitting van die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika gemaak.

“Aangesien die VSA een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote is, moet die Suid-Afrikaanse regering Pompeo se waarskuwing met erns bejeën en besef dat ideologies gedrewe beleidsrigtings ernstige bedreigings vir die land se ekonomie inhou. Zimbabwe en Venezuela bewys met hul werkloosheidskoers van sowat 90% dat almal behalwe die politieke elite daaronder ly as eiendomsreg geskend word,” sê Kriel.

Die Instituut vir Rassebetrekkinge (IRR) het Woensdag ook gesê Pompeo se uitlatings is “ʼn belangrike waarskuwing”.

“Ons almal wil dieselfde hê; vryheid om te doen wat ons wil doen en sekerheid vir ons en ons families. Hierdie is ʼn probleem wat regeringsgeld nie gaan oplos nie,” het Pompeo gesê. “Suid-Afrika is tans besig om veranderinge aan die wet te debatteer wat grondonteiening sonder vergoeding sal toelaat. Dit sal absoluut rampspoedig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en die mense van die land wees.”

Die IRR meen Pompeo se kommentaar is “nóg ʼn waarskuwing teen die rigting waarin die regering op afstuur”. “Pompeo se uitlatings strook met dit wat beamptes, wat ander lande verteenwoordig, reeds gesê het. Die Nederlandse minister van Stef Blok het gewaarsku dat bestaande en voornemende beleggers afgeskrik sal word indien eiendomsregte en die wet ondermyn word,” het Hermann Pretorius van die IRR gesê.

“In die geval van die VSA is daar ʼn werklike kommer dat ons toegang tot die mark kan verloor.”

Volgens Pretorius het die IRR al herhaaldelik in privaat soortgelyke uitlatings by diplomate en sakemanne van oor die wêreld heen gehoor. “Hulle is almal ten gunste van Suid-Afrika as ʼn land en erken sy potensiaal. Onteiening sonder vergoeding sal egter die beskerming van eiendom degradeer en Suid-Afrika sal nie meer ʼn beleggingsmoontlikheid wees nie.”

Die IRR maan die Suid-Afrikaanse regering om van koers te verander wat onteiening sonder vergoeding betref. “Dit sal glad nie die mislukking van grondhervorming aanspreek nie en nog swakker groei en ontwikkeling beteken.”

Pretorius maan Suid-Afrikaners om die IRR se voorlegging aan die parlement oor die wysiging van die wetsontwerp te ondersteun. Die sperdatum vir hersiene voorleggings is 29 Februarie 2020.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, en Monique Taute, hoof van veldtogte, het pas ook die Amerikaanse been van dié organisasie se #DieWêreldMoetWeet-veldtog van stapel gestuur. Dit behels onder meer die mobilisering van buitelandse druk teen onteiening sonder vergoeding. Roets het reeds gister ’n voorafopgeneemde onderhoud met Tucker Carlson op FoxNews gevoer en gaan talle ander media-instellings, meningsvormers, politici en dinkskrums in die VSA besoek.

“Beleggers verlaat vanself lande waar eiendomsreg nie gerespekteer word nie. AfriForum se poging om buitelandse druk te genereer, is juis om te verseker dat beleggers druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas om beleggings te red,” voeg Kriel by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Die anc regering onder leiding van Ramaposa voel n veer vir waarskuwings, is dit nie een van die hoofredes hoekom suid afrika verval het van n eerste wêreld land na n derde rangse piesang republiek onder hulle leierskap nie.

Henk ·

Of die ANC hul steur aan die tipe verklaring of nie, is nie in hierdie stadium belangrik nie. Die belangrike is dat daar soveel stemming as moontlik teen die ANC-regering en sy dwase/kriminele planne gemaak moet word uit soveel oorde as moontlik. Uiteindelik moet sulke druk gevolge hê, soos wat die veldtog teen apartheid gehad het. Hou goeie moed – iets doen aan ‘n saak, al is dit oënskynlik hoe gering, bly beter as niks doen.

Anoniem ·

@Henk, ek stem heelhartig saam met jou kommentaar. Elke persoon wat eiendom besit in Suid-Afrika moet beswaar aanteken op die verskillende platforms wat daargestel is deur Solidariteit, die DA, die parlement het ook ‘n e-pos daargestel waar beswaar aangeteken kan word teen die beoogde verandering van die Grondwet om Onteiening sonder vergoeding goed te keur. Hierdie verandering mag nie goedgekeur word nie want dit gaan erge nadelige gevolge vir Suid-Afrika inhou.

marius ·

Pompeo beaam net wat die gewone grond eienaar al jare terug oor gewaarsku het . Hierdie mense steur hulle aan niks . Hierdie plek gaan hongersnood en ellende beleef wat ongekend is . Dis die waarheid .

Jakes ·

Pompeo se waarskuwing is bloot n logiese gevolgtrekking van wat gebeur wanneer grond vergrype plaasvind of onteiening sonder vergoeding. Hy het bloot na die resultaat van vergrype verwys in ander Afrika lande. As CR en sy maters nie self daardie gevolgtrekking kan maak nie dan moet daar n ernstige gebrek aan breinkrag wees.

Nell ·

Maar daar is ‘n ernstige gebrek aan breinkrag – dis hoekom hulle sulke
”useful idiots” in die hande van die oorsese geldmagte is.

Toy ·

Wanneer jy iets vat en nie betaal vir dit nie, dan is dit diefstal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.