Pompjoggie en veiligheidsbeamptes keer verdagtes aan

Argieffoto

Die polisie in Port Elizabeth het Maandag ʼn privaat veiligheidsmaatskappy en ʼn werknemer van ʼn vulstasie geloof vir hul bystand in die inhegtenisneming van twee vermeende rowers.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes het Sondagaand om 22:00 ʼn vulstasie in William Moffetweg betree en die kassier met ʼn vuurwapen gedreig. Die kassier is aangesê om die inhoud van die kasregister in ʼn plastieksak te sit.

“Die verdagtes het ook ʼn 18-jarige klant in die winkel gedreig voor hulle hom na sy luukse voertuig geneem het en hom aangesê het om met hulle van die toneel weg te ry,” het Naidu bygevoeg. “Die tiener het die motor in Circularrylaan laat stol en weggehardloop toe die verdagtes hom beveel het om uit te klim.”

Terwyl die rooftog aan die gang was, het ʼn werknemer by die vulstasie vermoed dat iets aan die gang is, en dadelik die alarm geaktiveer. Beamptes van ʼn privaat veiligheidsmaatskappy was binne minute op die toneel. “Hulle het die voertuig agternagesit en dit op die hoek van Buffelsfontein- en Victoriarylaan voorgekeer.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 28 jaar oud, is in hegtenis geneem. Beamptes het beslag gelê op die kontant en ʼn speelgoedpistool. Hulle staan tereg op aanklag van gewapende roof, ontvoering en kaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Bravo aan die mense. Nou will die Regering Sekuriteitsbeamptes ontwapen. Laat jou wonder aan wie se kant is hulle

Sakkie ·

Goeie nuus. Pragtig kop gehou jong man met die luukse motor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.