Die polisievakbond Popcru het Donderdag die afdanking van Richard Mdluli, die geskorste hoof van misdaadintelligensie, wat tereg gestaan het op talle aanklagte van korrupsie asook ʼn moord- en ontvoeringsaak, verwelkom.
“Die afgelope ses jaar was baie uitputtend in terme van die volle funksionering van dié afdeling, aangesien dit al 12 waarnemende afdelingskommissarisse gehad het. Dit het baie verwarring meegebring – tot die nadeel van misdaadintelligensie se integriteit en reputasie,” het Popcru in ʼn verklaring gesê.
“Ons sien hierdie verwikkeling as ʼn nuwe skuif om te verseker dat misdaadintelligensie weer aan die verwagtinge van die nasionale polisiekommissaris en die land voldoen.”
Maroela Media het vroeër berig Fikile Mbalula, die minister van polisie, het Woensdag Mdluli se onmiddellike ontheffing aangekondig.
Mdluli is in 2011 as hoof van misdaadintelligensie geskors, maar hy het sedertdien sy volle salaris en bonusse ontvang terwyl die amp slegs in ʼn waarnemende kapasiteit beklee is. Mdluli en sy medebeskuldigde, die voormalige polisiebeampte Mthembeni Mthunzi, staan onder meer tereg op aanklagte van intimidasie, ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer en dwarsboming van die gereg vir die 15 jaar oue saak wat met die ontvoering en moord van Oupa Ramogibe, die man van Mdluli se eks-meisie, verband hou.
Ramogibe het na bewering doodsdreigemente ontvang nadat hy met Mdluli se vorige meisie getrou het. Hy is gewaarsku om haar te verlaat of hy sou vermoor word. Ramogibe het na bewering die dreigemente by die polisie aangemeld voor hy vermoor is. Die polisie het destyds ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak.
Mdluli was in daardie stadium die stasiebevelvoerder van die Vosloorus-polisiestasie in Boksburg, oos van Johannesburg, en is daarvan beskuldig dat hy die ondersoek gesaboteer het. Mdluli het alle bewerings ontken.
ʼn Ondersoek oor Ramogibe se moord het Mdluli in November 2012 vrygespreek van enige betrokkenheid by die moord. Die aanklagte is teruggetrek, maar is later weer aanhangig gemaak.
Maar dis dan hoe dit werk? Stel ‘n kommissaris/afdelingshoof/munispale bestuurder aan, skors hom/haar vir ‘n jaar of meer met volle betaling/gee hom of haar ‘n goue handdruk na die stof gaan lê het……….en herhaal die proses. So maak die A&C van hulle kaders miljoenêrs……….een op ‘n slag (per afdeling/instansie/munisipaliteit/staatsinstelling/ens)
Daar word beweer dat Mduli en Zuma glo hand om die blaas is.
Maar dis nie ‘n afdanking nie, hy is op vervroegde pensioen