Popi-klag teen Gautengse onderwysdepartement ingedien

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

ʼn Klag is teen die Gautengse onderwysdepartement ingedien nadat die persoonlike inligting van meer as 11 000 leerders, ouers en voogde na bewering onregmatig bekend gemaak is ingevolge die Popi-wetgewing.

Volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat die klag by die Inligtingsreguleerder ingedien het, is die inligting van leerders, ouers en voogde van die Tshwane-wes-distrik onbeskermd per e-pos na ontvangers van verskeie skole in minstens drie distrikte in Gauteng gestuur.

“Dit het onder ons aandag gekom dat die inligting afkomstig is van die Sasams-stelsel, wat deur die staat gebruik word vir skool-administrasie en -bestuur,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van Fedsas.

Deacon sê Fedsas vra al vir bykans ʼn jaar dat provinsiale onderwysdepartemente en Sasams aan die Popi-wetgewing voldoen.

Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi), het Donderdag amptelik in werking getree. Die Popi-wet kan kortliks beskryf word as Suid-Afrika se wet op databeskerming.

“Sasams is duidelik nie ʼn beskermde stelsel nie en bevat die persoonlike inligting van miljoene skoolgaande kinders en hul ouers of voogde,” voeg Deacon by. “Die doel van Popi is juis om gestalte te gee aan individue se grondwetlike reg op privaatheid deur persoonlike inligting te beskerm.”

Deacon sê dit is kommerwekkend dat so ʼn reuse-databasis, boonop een wat deur die staat beheer word, nie voldoen aan die vereistes van die wetgewing nie en amptenare op ʼn roekelose wyse die inligting deel.

“Instansies het jare gehad om voor te berei. Die Gautengse onderwysdepartement is veronderstel om bewus te wees daarvan dat die departement, as verantwoordelike party, die plig het om die nodige stappe te doen om inligting in sy besit of onder sy beheer te beskerm en amptenare op te lei.”

Bykomend moet die departement ook, indien dit onder sy aandag kom dat ongemagtigde toegang tot inligting verkry is, die persone wie se inligting uitgelek het, daarvan inlig. Fedsas kon nie vasstel of dit wel gebeur het nie. “Die inligting sluit onder meer name, adresse, ID-nommers en selfoonnommers in.”

Deacon sê vir alle rolspelers in die onderwyssektor moet kinders se belange altyd die swaarste weeg. “Daar word reeds soveel gedoen om kinders te beskerm. Indien persoonlike inligting van onder andere minderjarige kinders wel onregmatig versprei is, sal dit growwe nalatigheid aan die kant van die Gautengse onderwysdepartement wees.”

Fedsas het besluit om die klag teen die departement in te dien juis omdat dat die organisasie reeds herhaaldelike versoeke gerig het dat departemente die nodige stappe doen om inligting te beskerm. “Die wetgewing het nie uit die bloute in werking getree nie. Fedsas is reeds maande lank besig met opleiding vir beheerliggame om toe te sien dat daar aan die vereistes voldoen word.”

  • Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2 000 openbare skole is reeds lid van Fedsas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frik ·

Fedsas, julle is heeltemal onbillik in hierdie verband. Julle kan nie van Lesufi verwag om aan onbenullighede soos Popia aandag te gee terwyl hy soveel “rassistiese wit skole” het wat hy moet probeer vernietig nie.

Peter Pan ·

Ag vader.. As dit nie Covid is nie , is dit POPIA.. wat is volgende?

Santjie van Soendal ·

Lankal tyd gewees om die Dept vas te vat…..as hulle gaan begin krap, gaan daar ook nog n blik wurms vol korrupsie uitpeul, wat Lesufi- bende voor gaan moet pa-staan….sy rasse- veldtog gaan dan n vulletjie word…. Terug na Popi: SASAMS is een van die grootste frustrasies om onderwysers se lewens hel te maak in die papierlose papieroorlog van administratiewe belading!! Mag die Departement daarin verstik!! Geluk Fedsas! Mag julle saak goeie vrugte afwerp.

Danie ·

Net n vraag aan die legal boffins.
Die wetgewing het gister in werking getree.
Wanneer is die emails uitgestuur?
Kan hierdie of enige nuwe wetgewing retrospective toegepas word?

Agge nee ·

SASAMS is ‘n ondier, enige persoon met ‘n klein bietjie rekenaar vernuf, kan toegang tot elke skool in die land se inligting en finansies verkry.

Sluier ·

Ag toggie. Nou wie is ou antie POPI tog nou alweer? Vandat hulle leer lees en skryf het en tv beginne kyk het, dink hulle aan allerhande klom twak. Twak twak twak.

Pieter ·

Dit is nou teen die wet om ‘n epos te stuur waar al die mense se epos adresse in die TO: veld is – Die BCC: veld van enige epos is vir BLIND COPY en moet juis gebruik word om al die addresses in te sit, dan kan ontvangers nie al die adreesses sien en misbruik nie. Hier in Pretoria is die skole lief am almal se addreesse in die TO: veld te gooi — BASTA !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.