Popi-wet: Dít is wat jy moet weet

internet-tabletrekenaar-koffie

Argieffoto (Foto: Kaboompics/Karolina/Pexels)

Vir die afgelope paar maande het openbare en private ondernemings agter die skerms bontgestaan om te verseker dat hul prosesse en hantering van verbruikers se inligting betyds met die Popi-wet, oftewel die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi), ooreenstem.

Dié wet tree vandag (1 Julie) amptelik in werking.

Verbruikers word egter nie kwytgeskeld van bepaalde verantwoordelikhede nie. Maroela Media bied ʼn kort oorsig van die belangrikste elemente waarvan verbruikers kennis moet neem.

Wat behels die Popi-wet?

Die Popi-wet kan kortliks beskryf word as Suid-Afrika se wet op databeskerming. Dit staan op drie bene wat op ondernemings en individue van toepassing is:

  • Ingeligte toestemming: Verbruikers moet ingelig wees oor die saak en weet waarvoor hulle hulself inlaat.
  • Doelgerigtheid: Inligting mag net gebruik word vir die spesifieke doel waarvoor dit ingesamel is. Daarna moet inligting vernietig word.
  • Sekuriteit: Indien ʼn organisasie jou inligting laat uitlek, moet hulle jou daarvan in kennis stel.

Een van dié wet se doelwitte is dus om verbruikers se regte te beskerm deur te reguleer hoe openbare en private ondernemings wat toegang tot hul persoonlike inligting het dit insamel, gebruik, deel, berg, argiveer en vernietig.

Dit is om te verhoed dat verbruikers se geld of identiteit gesteel word en om hul privaatheid, wat ʼn wesenlike mensereg is, te beskerm.

Om eindelik in dié doel te slaag stel die Popi-wet voorwaardes vir wanneer dit wettig is vir een persoon of instansie om iemand anders se persoonlike inligting te verwerk.

Wanneer tree dit in werking?

Die parlement het die Popi-wet reeds op 19 November 2013 goedgekeur. Sedertdien is verskeie wysigings aangebring en op 1 Julie 2021 tree die wet amptelik in werking.

Hoewel mense se reg op privaatheid reeds kragtens artikel 14 van die Grondwet (Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996) beskerm word, bied die Popi-wet riglyne vir die beskerming van ʼn mens se privaat inligting.

Verine Etsebeth, senior lektor aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits) se regskool, praktiserende prokureur en akademikus, verduidelik: “Ons het tans in die 1996-Grondwet die reg op privaatheid, maar ons het geen benul hoe om daardie reg uit te oefen nie.”

Afgesien van die riglyne wat geld, kan verbruikers nou direk by die Inligtingsreguleerder ʼn klag teen oortreders indien. In die proses word die prokureur as middelman uitgeskakel.

“Dit is uiteraard meer kostedoeltreffend vir verbruikers omdat daar nie meer regskoste aan verbonde is nie,” sê Etsebeth.

Wat kan verbruikers verwag?

Jy sou die afgelope paar weke heelwat toestemmingsboodskappe ontvang het. Sommige nuusbriewe waarop jy ingeteken is, sou jou in kennis gestel het van die nuwe wetgewing, terwyl al hoe meer webwerwe sekuriteitsboodskappe oor “cookies” begin wys het.

Hoewel geoutomatiseerde oproepe nie heeltemal gaan verdwyn nie, moet ondernemings, of dan belsentrums, eers jou toestemming vra om bemarkingsmateriaal aan te stuur. As jy dan toestemming gegee het, kan hulle met jou kontak maak totdat jy hulle vra om op te hou.

Jou verantwoordelikheid as verbruiker is om navorsing oor die betrokke onderneming te doen en seker te wees dat sy sekuriteitsmaatreëls geldig is.

Etsebeth sê so ʼn sekuriteitsboodskap is amper soos die parkeerkaartjie wat jy by winkelsentrums kry. Deur die kaartjie te neem aanvaar jy sekere bepalings en voorwaardes en word die sentrum ook beskerm. Dit is dieselfde met die Popi-wet: As verbruikers nie bewus is van watter inligting deur ʼn webwerf of onderneming geberg of gebruik word nie, gaan hulle nie weet hoe hul inligting gebruik word en wanneer om te kla nie.

Wat is persoonlike inligting?

Persoonlike inligting kan as ʼn sambreelterm beskou word vir inligting wat betrekking het op ʼn identifiseerbare, natuurlike persoon. Dit sluit in, maar word nie beperk nie tot:

  • Identiteit en/of paspoortnommer
  • Geboortedatum en ouderdom
  • Telefoonnommer(s), waaronder ʼn selfoonnommer
  • E-posadres
  • Aanwysers vir aanlyn en kitsboodskappe
  • Fisieke adres
  • Geslag, ras en etnisiteit
  • Foto’s, stemopnames, video-opnames (ook CCTV-beeldmateriaal), biometriese data
  • Huweliks- en verhoudingstatus en gesinsverhoudinge
  • Misdaadrekord
  • Privaat korrespondensie
  • Godsdienstige of filosofiese oortuigings, waaronder persoonlike en politieke opvattings
  • Indiensnemingsgeskiedenis en salarisinligting
  • Finansiële inligting
  • Opleiding soos tersiêre kwalifikasies
  • Inligting oor fisieke en geestesgesondheid, waaronder mediese geskiedenis, bloedgroep, besonderhede oor sekslewe
  • Lidmaatskap by organisasies of vakbonde

Hoe beskerm jy jouself?

Verbruikers kan hulself beskerm deur die volgende wenke te volg:

  • Wees bewus dat maatskappye jou inligting berg.
  • Verwittig jouself van webwerwe of ander platforms se kennisgewings en sekuriteitsboodskappe.
  • Wees versigtig oor watter inligting jy vir wie weggee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Ek is ‘n ‘Information Officer’ (of Inligtings Beampte) mbt tot POPI, en wonder hoe digitale koekies deur die POPIA aangespreek word. Kan dit gerus naslaan.

SjN ·

Jou inligting word verkoop vir enorme bedrae aan bemarkings besighede, in die fynskrif van sommige maatskappye wat jy teken magtig jy hulle om dit te kan doen. Wees maar versigtig.

Margaret ·

Die inwerking van die wet is uitestel tot 1 Feb 2022 het ek gelees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.