Poppie ‘is gewelddadig geskud’

Kobus Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Prof. Gert Saayman, ʼn vooraanstaande forensiese patoloog, het Dinsdag in die Pretoria-hooggeregshof getuig oor die beserings wat Poppie van der Merwe (3) opgedoen het en wat uiteindelik tot haar dood gelei het.

Saayman, wat ook in die opspraakwekkende Oscar Pistorius-verhoor oor Reeva Steenkamp se nadoodse ondersoek getuig het, het aan die hof gesê hy het nie Poppie se aanvanklike nadoodse ondersoek behartig nie, maar sy mening saamgestel uit die verslae van die dokter by die Brits-provinsiale hospitaal wat haar dood verklaar het, die patoloog wat haar nadoodse ondersoek gedoen het en verskeie foto’s van haar liggaampie.

Saayman het tot die slotsom gekom dat die veelvuldige beserings wat Poppie opgedoen het nie die tipiese beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie, maar eerder aanduiding is van fisieke geweld wat met opset gepleeg is.

Louisa Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Hy het gesê die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen, en dat die kind verskeie merke toon waar sy gewelddadig geskud is. Hy het gesê dit blyk dat die merke verskil in ouderdom en dat die beserings by meer as een geleentheid opgedoen is.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het skuld ontken op al die aanklagte teen hulle.

Adv. Salomé Scheepers, die staatsaanklaer, het Dinsdag ʼn paplepel as bewysstuk by die hof ingedien. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat dié lepel gebruik is om Poppie en ʼn sesjarige seuntjie mee te dissiplineer. Die lepel is ʼn bietjie langer as die voorarm van ʼn volwasse man en die punt van die lepel is so groot soos ʼn man se hand.

Die paplepel wat by die hof as bewysstuk ingedien is. Foto: Phillip Bruwer

Saayman het gesê van die merke aan Poppie se liggaam is waarskynlik aangerig deur die plat kant van die lepel, sowel as die lepel se handvatsel.

Hy het gesê die oorsaak van Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop wat erge bloeding en druk op die brein veroorsaak het. “Iemand wat dié soort besering opdoen, sal binne 12 uur nadat die besering opgedoen is dood wees,” het hy gesê.

Hy het gesê merke wat op Poppie se geslagsdele opgemerk is, het ná haar dood ingetree en dat daar nie aanduidings is dat sy seksueel misbruik is nie.

Scheepers het daarna die staat se saak gesluit. Die hof het tydelik verdaag waarna die verdediging na verwagting die eerste van sy getuies sal roep.

Die saak duur voort.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Denise ·

Dit is baie hartseer wat gebeur het met Poppie !!! Ek verstaan net nie hoe niemand tot haar redding gekom het nie ??????

Maritsa ·

Louise is net so treurig man. Hoe sal enige ma toelaat dat haar kind so mishandel word en niks kan nie. Sy wou net niks doen nie. Kookwater, warm strykyster, enige ding kon sy gebruik het. Net snaaks dat sy van haar vorige man kon wegvlug wat haar konsuis mishandel het, maar sy kon nie by die Kobus vent vlug nie…. Hoe werk dit??? Nee wat, hulle al 2 is moordenaars man. Ek hoop hulle kry lewenslank. Daar is so baie mense wat snag na n kindtjie en nie kan hê nie, en dan kry jy die soort soos die 2 wat genot daaruit put om so n klein engelkindtjie se mishandel…. Sy het dit nie verdien nie, my hart is n miljoene stukke…

Elsie ·

Ek is so omgekrap dat volwasse mense n weerlose kind so kan mishandel. Haar ma was veronderstel om haar te beskerm teen die vark van n stiefpa. Ek hoop hulle boet vir hulle dade.

Rus sag by Jesus ·

As n Mamma is my hart stukkend. Jy wil net die beste vir jou kindjie he. By haar Hemelse pappa sal sy net liefde en vreugde ken.

Verstom ·

Ek weet nie hoe iemand dit oor hulle hart kry om sulke goed aan so pragtige kind kon doen nie.
Geen kind kan iets erg genoeg doen om iets so wreed te verdien nie.

Mag die ma en pa vrot in die tronk vir wat aan die onskuldige kind gedoen is.
Dit is absoluut siek waartot party mense in staat is.

Kaspaas ·

MM – Voorstaande of vooraanstaande forensiese patoloog?

Dalene de Vente ·

Dagsê Kaspaas

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Alida ·

strandloper, dit is irrelevant. Feit van die saak is die kind is doodgeskop. Hoekom moetons nou ingaan op elke besering. Afgryslik.

Genieve ·

ek wil nie meer lees van die arme Poppie dogetrtjie nie dit maak n mens verskiklik hartseer want jyt ook kinders kan nie glo dat n ouer dit aan haar eie bloed doen nie.

Pop ·

Kan dit waaragtig wees dat n vrou haar kinders sal opoffer vir n man?? Dis afgryslik om te dink dat n kind se moeder sy toevlug moet wees, en hier doen sy niks. Ek sluk ook nie die storie dat sy nooit daai kinders aangerand het nie.

Piet Pille ·

Tragies dat ‘n klein onskuldige mensie so verniel kon word. Dan is daar so baie ouer pare wat kinderloos is en smag om liefde te kan gee aan so ‘n pragtige ou dogertjie. Hierdie twee is nie mense nie.

adriana ·

Ek wonder of die maaksel sy man teen ‘n volwasse man kan staan? Ek glo nie – hy is ‘n boelie wat net klein kindertjies kan seermaak. Hoe kan so ‘n mens op die straat wees? Hy moet vir die res van sy misrabele lewe toegesluit word. Hop die hofsaak maak vinnig klaar sodat hy in sy permanenete sel kan kom. En die verskoning van ‘n ma ook-sy het net soveel aandeel daaraan.

Yankee ·

Hierdie pragtige dogtertjie se wreedaardige lewe en einde is n 1000 maal erger as enige plaasmoord tot dusver.

Ella Bella ·

Dit is vir my onsettend ontstellend om hierdie berigte te lees en te hoor wat hierdie kinders moes deur gaan. Hulle is in die steek gelaat deur altwee ouers en stief ouers, maar ook die ‘stelsel’ wat hulle moet beskerm. Hoeveel kinders is daar nog daar buite wat deur ouers en stelsel gefaal word? Hoeveel kinders moet nog sterf voordat mense hulle werk gaan doen en kinders weg vat wat mishandel word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.