Poppie: Ma se kenner wil nie getuig

Poppie van der Merwe (Foto: Facebook)

Die vonnisverrigtinge van Louisa en Kobus Koekemoer, die driejarige Poppie van der Merwe se ma en stiefpa wat skuldig bevind is aan haar moord, moes noodgedwonge Woensdag in die Pretoria-hooggeregshof uitgestel word.

Staatsaanklaer Salomé Scheepers het aan regter Bert Bam voorgehou Louisa se prokureur is nie gereed om voort te gaan nie.

Adv. Adrian Nel, Louisa se regsverteenwoordiger, het daarna regter Bam toegespreek.

“Met die skuldigbevinding het ek aangedui dat ek ʼn voorvonnisverslag wil verkry, want dit is in belang van geregtigheid om die verslag voor te lê om agtergrond oor haar voor die hof te plaas,” het Nel gesê.

“Die verslag is gereed, maar my probleem is dat die getuie wat die verslag opgestel het om verskeie redes anoniem wil bly en nie persoonlik wil getuig nie. Ek is ook deur die staat en Beskuldigde 1 [Kobus] se advokaat ingelig dat hulle nie die verslag op skrif wil aanvaar nie. Ek versoek dus uitstel om my in die posisie te plaas om ʼn ander getuie, hetsy ʼn proefbeampte of ʼn sielkundige wat bereid is om te getuig, te kry wat my kliënt se posisie beter voor die hof kan stel,” het Nel gesê.

Nel het onderneem dat die nodige verslag en getuie met die volgende hofdatum beskikbaar sal wees.

Scheepers het gesê sy het Maandag Louisa se verslag ontvang, maar toe sy daardeur gaan, het sy Nel ingelig dat sy dit nie gaan erken nie.

“Sy sal moet kom getuig. Daar is gevalle waar kenners anoniem kan getuig, maar die persoon voldoen nie daaraan nie. Sy sal moet kom getuig sodat ek haar kan kruisondervra. Ek moet die inhoud van die verslag toets en haar deskundigheid toets,” het Scheepers gesê.

Adv. Lana Augustyn, Kobus se regsverteenwoordiger, het ook aangedui dat sy die verslag sou betwis. “Hoe kan die persoon ʼn deskundige wees en dan nie wil hê haar naam moet bekend gemaak word nie?”

Regter Bam het die aansoek as ʼn onnodige vertraging bestempel, maar ingestem dit is tog in belang van geregtigheid dat Louisa se verslag voorgelê word.

“Dit is ʼn ongelukkige toedrag van sake. Ek staan nie gewoonlik sulke versoeke toe nie, maar ons is in ʼn skaakmat-situasie. Die saak word tot 24 Mei uitgestel. As die verslag en getuie dan nie beskikbaar is nie, sal die vonnis daarsonder afgehandel word,” het Bam streng gesê.

Bam het Louisa (46) en Kobus (44) in Desember verlede jaar in die hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die mishandeling het oor die tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes. ʼn Sesjarige seun, wat toe vyf was, is ook mishandel.

Die nuus van Poppie se tragiese dood het in Oktober 2016 aan die lig gekom nadat Poppie op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember 2016 in hegtenis geneem.

Die hof het tydens die verhoor, wat op 30 Oktober 2017 begin het, gehoor Poppie is dood weens ʼn harde hou teen haar kop, wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nié kenmerkende beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie. Die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen. Die kind het ook verskeie merke aan haar lyf gehad wat ʼn aanduiding is dat sy gewelddadig geskud is.

Lees die vorige berigte oor Poppie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

christa ·

kan nie dink wat die arme kindjie moes deurmaak nie. Gelukkig word sy nou baie vertroetel en is sy in veilig .

VanAfrika ·

Die Liewe Heer belowe ons dit, dis hoe. Lees jou Bybel dominee

Jaco ·

Dominee, ons wat kinders van Jesus Christus is weet dit want Hy sê in Sy Woord dat Hy gaan om vir ons (wat soos kindertjies glo) plek te berei in die hemel…

Uvonka ·

Ai elke keer wanneer ek ‘n foto van Pragtige Poppie sien, skeur my hart weer in twee. Die beskerming van kindermoordenaars in SA is walglik!

Johann ·

Hoeveel kos n gewete… of die afwesigheid eerder, om sulke booshede en hul regte te verdedig? SIEK!!!!

Pop ·

En lyk my die groot liefde het ook opgedroog. So lief vir n man dat jy jou eie kind aanrand en hom toelaat om dit te doen. Waars dit nou???

Robert ·

@ Dominee: as jy die antwoord bevraagteken sê dan vir die dame wat is die waarheid of is jou naam maar net dominee.

Siek en sat ·

Ek hoop hulle gaan nooit ooit weer die warm son op hulle lywe voel nie.

Bees ·

Hierdie hofsaak word heeltemal te lank uitgerek… sluit hulle toe en gooi die sleutel weg! Nie sy of hy verdien nie geregtigheid nie.

Liezl ·

Ek sien die een foto sê ”n skoongeskeerde Kobus’. Wat maak dit saak hoe skoon geskeer hy is, hy is walglik. Hy moet boet vir sy dade.

Marlien ·

Glo ook sy is op n beter plek nou dit is baie hartseer dat sy so iets moes deurgaan. Enige plek is beter as daardie ouerhuis van haar. Hulle verdien nie om ouers genoem te word nie

Wilma ·

Lafaards hukom sit jul met geboee hoofde. Hoop hul word baie erge vonnisse opgele. Doodstraf sou van pas wees

TLC ·

Wat was poppie se kans om ook uitstel te kry n hele ronde nul nou word daar vir hul uitstel gegee? Regter moes net daar aangegaan het met saak Sy is nie n ma se … nie Mag hul al2 kry wat hul toekom Poppie RIV daar waar jy is ?

Iemand anders ·

“Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.”
‭‭MATTHÉÜS‬ ‭18:10‬ ‭

Rooikop ·

Wat sukkel hulle so om klaar te kry ??????? Die man en die ma is skuldig …………….
Tronk toe, dit is al uitweg …………….

Kas ·

Goed gestel dominee.Die geloofsbelydenis is duidelik”SIT AAN DIE REGTERHAND VAN GOD VANWAAR HY SAL KOM OM TE OORDEEL DIE WAT NOG LEWE EN DIE WAT REEDS GESTERF HET”.Tot dan kan niemand aanspraak maak op ‘n plek in die hemel nie.As jy nie weer gebore is en God alles in jou lewe gemaak het nie is jy nie gered nie.Het die ryk jong man sy besittings verkoop op Jesus se aandrang en Hom gevolg.Nee hy het hartseer van Jesus af weggegaan.Is hy dus gered.Mense wat daadwerklik in Jesus geglo het is genees,blindes siekes kreupeles en melaatses.Sageus is gered,gaan lees Lukas 19.Ek glo Poppie is sal verseker in die hemel wees.Jesus het self gese “laat die kinders na my toe kom en verhider hulle nie

Iemand ·

Die oordeel kom nie ons mense toe nie. As ons hulle nie kan vergewe, sal God ons ook nie kan vergewe vir ons foute. Dis dan wanneer die duiwel met ons werk. Poppie het ewige jubelende vreugde. Sy verlustig haar nie aan die vonnisopllegging van haar ma. Sy het geen haat of bang meer oor. Die mense wat sê sy sal in vrede rus na die vonnisoplegging is verkeerd. By God het almal vrede. Sy het ewige vreugde en vrede. Niks wat op aaarde gebeur kan haar vrede en vreugde versteur nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.