Poppie-moord: Ma, stiefpa eers later gevonnis

Louisa Koekemoer vroeër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Louisa en Kobus Koekemoer, die driejarige Poppie van der Merwe se ma en stiefpa, sal nou eers in April hoor wat hul vonnis is vir dié blondekoppie se moord.

Regter Bert Bam het Louisa (46) en Kobus (44) in Desember verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die mishandeling het oor die tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes. ʼn Sesjarige seun, wat toe vyf was, is ook mishandel.

Die vonnisverrigtinge is vir 28 Februarie op die hooggeregshof se rol geplaas.

Adv. Salomé Scheepers, staatsaanklaer, het Maandag egter aan Maroela Media gesê Bam het die vonnisverrigtinge tot 18 April uitgestel.

“Adv. Lana Augustyn [Kobus se regverteenwoordiger] moet ʼn operasie ondergaan en gaan op siekverlof wees. Regter Bam het versoek dat die media die uitstel bekend maak om te verhoed dat die publiek of ondersteuningsgroepe verniet by die hof opdaag as verrigtinge nie kan voortgaan nie,” het sy gesê.

Die nuus van Poppie se tragiese dood het in Oktober 2016 aan die lig gekom nadat Poppie op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember 2016 in hegtenis geneem.

Die hof het tydens die verhoor, wat op 30 Oktober 2017 begin het, gehoor Poppie is dood as gevolg van ʼn harde hou teen haar kop, wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nié die tipiese beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie. Die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen. Die kind het ook verskeie merke aan haar lyf gehad wat ʼn aanduiding is dat sy gewelddadig geskud is.

Kobus Koekemoer vroeër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Kobus het tydens sy verhoor getuig hy sou Poppie en die seuntjie met ʼn paplepel slaan totdat hulle huil en dan verder slaan totdat hulle weer stil bly en hul foute erken. Hy het gemeen hy was onskuldig en het die kinders net gedissiplineer, onder meer om Poppie te “potty train”. Hy het gesê hy het die dissipline aan Louisa oorgelaat nadat die Orania Maatskaplike Raad van die kindermishandeling ingelig is en die raad die huishouding begin ondersoek het.

Louisa het getuig dat sy baie bang was vir Kobus en dat hy glo gereeld gedreig het dat hy haar en haar kinders en familie leed sal aandoen as sy hom sou verkla. Tog het hy haar nooit fisiek aangerand nie. Die egpaar het wel rusies gehad waartydens hulle op mekaar sou skreeu en vloek.

Bam het tydens sy uitspraak gesê Louisa se emosionele reaksie tydens haar getuienis het hom nie geraak nie want sy kon hom nie oortuig dat sy die nodige stappe gedoen het om te poog om die kinders te beskerm nie.

“Die gemenereg beskerm kinders en albei ouers het die plig gehad om na die kinders om te sien en hulle te beskerm. Albei beskuldigdes was bewus van wat die ander gedoen het en dat die kinders ernstig aangerand en beseer is, maar het niks gedoen om die kinders teen dié mishandeling te beskerm nie. Daarom is daar met ʼn gemeenskaplike oogmerk opgetree,” het Bam tydens sy byna uur en ʼn half lange uitspraak gesê.

Kobus het ná sy skuldigbevinding emosieloos uit die beskuldigdebank na die aanhoudingselle gestap. Louisa het vlugtig met haar ma, Susan Bothma (70), vanuit die beskuldigdebank gepraat. Louisa se oë was bloedrooi gehuil.

ʼn Emosionele Bothma het ná afloop van die hofverrigtinge aan die media gesê sy is nie gelukkig dat Kobus en Louisa albei aan moord skuldig bevind is nie.

“Ek glo nie my dogter sou haar kind doodgemaak het nie. Ons gaan maar hoop en bid dat dit vorentoe beter sal gaan. Ons sal maar sien wat gebeur met die res van die hofverrigtinge,” het sy toe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Soooooooo n mooi dogtertjie. Ek weeti wie nou saam my gaan stem nie maar al my hartseer van die begin van hierdie nuus af is nou weer van vooraf hie na ek daardie pragtige gesigie gesien het. Ek hoop werklik hul kry wat hul verdien en dat on regstelsel nie hierdie pragtige Pop in di steek laat ni

Alida ·

Hulle is reeds skuldig bevind vonnis hulle met of sonder sy Adv en klaar. Ek hoop ons hoor NOOIT weer van daai 2 nie.

Janine ·

Ek wil in trane uitbars elke keer as ek die mooi klein poppie se gesiggie sien …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.