[Video] Poppie-moord: Trane toe vonnis kom

Poppie se emosionele ouma, Carla van der Merwe, bedank die ondersoekbeampte, sers. Gift Matome. Foto: Phillip Bruwer

Die familie van die driejarige Poppie van der Merwe het Donderdag trane van blydskap gestort toe Poppie se ma en stiefpa elkeen tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir haar moord in Oktober 2016.

Regter Bert Bam het in die Pretoria-hooggeregshof die egpaar Louisa (47) en Kobus (44) Koekemoer gevonnis nadat hy hulle in Desember skuldig bevind het op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling in verband met Poppie sowel as ʼn vyfjarige seun.

Voordat Bam sy vonnis gelewer het, het Louisa self ter versagting van haar vonnis getuig en telkemale baie emosioneel geraak.

Louisa het vertel haar biologiese pa is in 1984 dood en dat haar ma in 1985 weer getroud is. Sy het aangevoer sy is as tienermeisie bykans vyf jaar lank verkrag, gemolesteer en emosioneel afgekraak.

Kobus en Louisa Koekemoer Donderdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Ná skool is Louisa met haar eerste man getroud en twee kinders, ʼn 21-jarige seun en 17-jarige meisie, is uit die huwelik verwek. Sy is ná byna 21 jaar, met haar ma se hulp, van dié man geskei aangesien hy haar “aangerand en van goed beskuldig het wat ek nie gedoen het nie”. Sy het daarna vir Christo van der Merwe, Poppie se biologiese pa, ontmoet en met hom ʼn verhouding aangeknoop.

“In die begin het alles goed gegaan, maar hy het in ʼn stadium sy werk verloor en toe in Westonaria ʼn werk gekry. Hy het toe begin drink en my en ons seuntjie begin rondstamp. Poppie was toe nog klein, so hy kon haar nie rondstamp nie. Ek het toe met die hulp van my kerk ʼn gesinsgeweld-interdik teen hom verkry. Dit het hom verhoed om naby my tienerdogter [uit die eerste huwelik] te kom en het bepaal dat hy sy kinders slegs onder toesig kon sien. Die kerk het my destyds ook gehelp om na Orania te verhuis, waar my ma gebly het.”

In Orania het die gemeenskap Louisa gehelp om weer op haar voete te kom. Sy het ook in Orania vir Kobus ontmoet en is uiteindelik in September 2015 met hom getroud. Sy beweer dit is toe dat die mishandeling begin het.

Louisa het getuig hulle is oornag uit Orania en sy self het nie geweet waarheen hulle sou trek nie. Dit is toe dat hulle op die kleinhoewe buite Brits gaan woon het. Skaars 16 dae later, op 25 Oktober 2016, is Poppie in ʼn hospitaal in Brits dood verklaar.

Louisa is deur regter Bam, Kobus se verdediging en die staat gekasty dat sy nooit probeer het om die mishandeling aan te meld nie. “Ek het vir my en my kinders se lewe gevrees en vir dié wat ek om hulp sou vra,” het geantwoord.

Annari du Plessis, van die Go Purple Foundation, saam met Poppie se grootouers, Carla en Johan van der Merwe, Donderdag buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Sy het hartstogtelik gehuil toe sy gevra is of sy berou het. “Ja ek het berou, ek is baie jammer. Ek weet ek kon haar dalk meer gehelp het, maar ek was vreesbevange en het nie geweet wat om te doen nie. Ek glo as ek iets meer kon gedoen het sou ek, maar ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek is as kind mishandel en weet hoe dit voel om mishandel te word. Ek het vir myself gesê ek sal nooit my hande lig vir my kinders nie.”

Adv. Adrian Nel, Louisa se regsverteenwoordiger, het aan Bam voorgehou Louisa het mishandelde-vrou-sindroom wat daartoe bygedra het dat sy passief opgetree het.

“Sy het haar persoonlike lewe geskets. Sy het ʼn moeilike kinderlewe gehad en was in stormagtige verhoudings. Daar kan nie ontken word dat sy bang was [vir Kobus] nie,” het hy aangevoer.

Adv. Lana Augustyn, Kobus se regsverteenwoordiger, het ter versagting van sy vonnis aangevoer Kobus het tydens sy kinderjare glad nie sy biologiese pa geken nie. “Hy het vir vyf jaar net sy ma gehad en toe hy ses was, is sy ma weer getroud. Albei sy ouers was baie streng en sy stiefpa sou lyfstraf toepas en nie liefde toon nie,” het sy gesê.

Augustyn het gesê Kobus moet sedert sy skuldigbevinding antidepressante gebruik, het selfmoordneigings en ervaar angsaanvalle. Sy het ook gesê hy het berou oor wat gebeur het.

Adv. Salomé Scheepers, die staatsaanklaer, het aangevoer die beskuldigdes het geen beduidende of boeiende redes uitgewys waarom hulle nié die minimum vonnisse opgelê moet word nie.

“Twee kinders is oor ʼn lang tydperk aan mishandeling blootgestel in hul eie huis waar hulle veronderstel was om veilig te wees. Die beskuldigdes het nie berou nie, maar is eerder spyt dat hulle gevang is en nou tronk toe moet gaan,” het sy aangevoer.

“Poppie se liggaam was oortrek met blou kolle en kneusplekke. ʼn Mens sal nie weet waardeur daardie dogtertjie alles is nie.”

Bam het in sy vonnisoplegging herhaal wat die staat aangevoer het, voordat hy albei beskuldigdes op aanklag van moord tot lewenslange tronkstraf gevonnis het en tien jaar elk op die aanklag van kindermishandeling.

Carla en Johan van der Merwe, Poppie se biologiese grootouers, sowel as die polisie, drukgroepe soos Justice for Poppie en The Go Purple Foundation, en die Nasionale Vervolgingsgesag het die swaar vonnis verwelkom.

Nel en Augustyn het aangedui dat hulle binne twee weke sal aansoek doen om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnisse.

Hier praat Poppie se ouma, Carla van der Merwe, kort ná die vonnisoplegging:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Anoniem Poppie ·

Ai dat n ouma deur soveel pyn moet gan op haar ou dag. Hoop julle vrot in die tronk, julle is n skande man.

christa ·

dis te verstane dat ‘n mishandelde kind sal as grootmens haar kinders ook mishandel, dis die voorbeeld wat sy gekry het. Ek weet waarvan ek praat. Maar sy kon gaan raad vra het al was dit by ‘n dokter. Dus het ek geen genade vir hulle.

Polaris ·

Min dokters het werklik begrip en deernis vir die tipe van ding. Verder moet ons vergewe en mag ons nie oordeel nie. Dis nou indien jy God wil behaag.

Piet ·

“Jy mag nie oordeel nie” is die stuk in die bybel wat die meeste aangehaal word naas, “jy moet jou naaste lief he soos jou self”. Altyd word dit uit konteks aangehaal en meestal verkeerd verstaan. Hoewel jy nie die persoon veroordeel nie, maar die sonde en jy beslis nie namens God kan besluit dat die sonde nie vergewe sal word nie, kan jy ook nie sommer besluit dat God die persoon sal vergewe nie, want selgs God kan oordeel. Die tronk is die regte plek vir sulke mense. Daar kan God steed oordeel soos dit Hom behaag.

NEE ·

AG POLARIS jy met jou VERGEWE?? Ek is al so keelvol dat julle dit in ander mense se kele afdruk .. DIE MENSE het ‘n onskuldig BABAKINDJIE vermoor .. Eers as jou kind wreedaardiglik gemartel en doodgemaak is kan ons weer oor VERGIFNIS praat … OORDEEL se alie man .. Hou op om die OORDEEL ding uit verband te ruk .. want tog staan daar ook ‘n OOG vir ‘n OOG, wanneer pas ons daai een toe?

Leep ·

@Christa, so jy sê jy was mishandel en nou mishandel jy jou kinders? Nee, dis glad nie n verskoning nie, n mens het ALTYD keuses, en as hulle het self besluit om die kind te mishandel, tot die lyfie dit nie meer kon vat nie.

Veer ·

Ek is jammer Christa maar dit is nie n verskoning nie, juis daarom moes sy van beter geweet het!

Joanette Davidtz ·

Leep & Veer – het jul net die eerste gedeelte van Christa se boodskap gelees – lees dit in geheel tot die einde asb.

Ook mishandel ·

Ek het in haglike omstandighede groot geword en ken mishandeling en die afbreek van jou hele menswees, maar dit het my net gemotiveer om beter vir my kinders te gee. Toe ek sien dat my kinders dieselfde pad as ek gaan stap, het ek my goed gepak en gegaan en deur baie swaarkry maar baie liefde het ons die mas opgekom en vandag is hulle gebalanseerde, opgevoede vrouens wat bydrae tot die samelewing. Dis geen verskoning om te sê jy was bang nie!! Moenie dit toelaat nie!! Jy is verantwoordelik vir jou kinders se welsyn. Hoera vir vonnis!!

Lee ·

Ag nonsens. Ek is gemolesteer as kind deur n stiefpa en ekt ni my kinders molesteer ni. Dit gaan oor keuses en dit gaan oor d lewe skuld jo NIKS. Daai is n flou verskoning Christa. Jy weet glad ni waarvan jy praat ni. Dis keuses. Of jy kies om jo storietjie te vertel om bejammering te kry of jy shut up en maak d beste van jo lewe. Spreek biki lewe oor jouself uit. Almal het n sad storie ma kies om dit ni te gebruik as n verskoning ni

Bekommerd ·

Wat my verstand te bowe gaan, is dat wanneer jy polisie bel om n vrou te gaan help en hoor hoe sy smeek en vra dat haar man haar moet ophou slaan,sy vir die polisie net eenvoudig se sy wil nie n saak oopmaak nie…

André ·

Pragtige foto van vesoening en respek. Kan u uself indink n hoeveel beter plek die nuwe SA kon wees as ons almal kan versoen en mekaar respekteer.

Tannie is vir ons almal n ware voorbeeld!

Corne ·

Die vrou se ma, die ouma het gebly ook in Orania. Die pa het sekerlik sy kinders gesien nou en dan. Hoe is dit dat hul niks OOIT agtergekom het nie?

Peter ·

@Corne, dis bitter moeilik om mishandeling te kan sien, veral op n kind, kneus/blou kolle kan baie maklik van speel kom, om dit te onderskei is n moeilike taak. Net soos hoe kom ma’s nie agter as die pa met hul kind lol nie? Dis nie altyd so maklik nie.

Dorothea ·

Veer ek stem saam. Ons almal het keuses in die lewe wat reg en verkeerd is. Ek kan boeke en boeke skryf oor my kinder lewe. “Jy mag nie uit die Huis uit praat nie” Ek sê dankie nie een van ons vier kinders het skade nie. Wyk Satan.

Geen verskoning ·

My boetie sou se ‘cry me a river’.
Ons het almal probleme. Ek het ook al in die verlede my kinderhel as verskoning voorgehou vir my eie swak besluite, vertrou my….dit help ons niks. Dit maak Jesus se offer vir my sonde goedkoop….!! En Sy offer was verseker nie goedkoop.
Erken jou fout, vat jou pak. Leer jou les. Dis jou keuse, dra die gevolge.
Hierdie is gevolgtrekking:
1.my bybel se ek mag oordeel!! Dit waarsku egter dat ek met dieselfde maat geoordeel gaan word,
2. My bybel se die hemel behoort aan kinders en jy mors nie met God se kinders nie,
3. My bybel se sonde word gestraf,
4. My bybel se ek is tot alles in staat met Sy krag, maw ook instaat om te kies om n beter mens, ma, persoon te wees as die voorbeelde uit my jeug. Om los te kom van my abusive kerel/man ook,
5. My bybel se nog hope ander dinge…dit se egter nie dat ek mag mishandel of moor omdat ek nie n pa gehad het of omdat my stiefpa sleg was of omdat my kinderlewe hel was…. nie my bybel nie. Dalk iemand anders se bybel….

Niks en ek meen niks gee my die reg om n ander mens se lewe hel te maak. NIKS.
Mag die vonnis n les wees vir ons almal dat ons nie ons verlede kan blameer vir ons swak keuses en idiotiese dade nie,maak nie saak hoe dik ek die storie aanmaak nie….

Talitah kinnear ·

Bring doodstraf terug dan sal ons minder misdaad he asseblief

Nettie ·

Ja, bring terug die doodstraf ………. sodat dit in die ekstreme meermale aan blankes opgelê kan word, terwyl anderskleuriges oor die hoof gesien word. Ons weet mos nou al dat daar ‘n regstelsel bestaan vir die blankes en ander regstelsel bestaan vir nie-blankes. Verwys die strawwe wat die Doodskis 2 en Vicky Momberg gekry het vs. ander strawwe wat opgelê word aan mense wat wrede moorde gepleeg het.

kurla ·

ouma carla, jy kla met n witbrood onder jou arm. jy hoort ook in die tjoekie. jy het geweet wat gaan aan nou maak jy soos die menigtes, huil vir die kamera dat almal jou te jammer gaan kry om te onthou JULLE WAS DAAR!

Peter ·

Lees bietjie op, ek’t daar ook n kommentaar oor presies dieselfde. Dis nie altyd so maklik nie, as n pa met n kind lol beteken dit die ma weet van dit en doen niks? nee, dis nie so maklik nie, kneus/blou kolle op n kind kan bitter maklik wees van speel.

Alida ·

Hierdie misdadigers gooi altyd hulle kinderlewe voor. Dit is die grootste snert denkbaar. Jy word groot en as jy verstand het dan vermy jy die goed wat met jou as kind gebeur het met alle mag. Dit is ‘n vervelige storie. As jy volwasse is dan vergeet jy van wat met jou bebeur het en doen die beste vir jou eie kinders en BESKERM hulle. Dankie Regter Bam vir die gepaste vonnis. Hulle hoort in die tronk met ouma en al want sy het daarvan geweet.

Gesiggie ·

Elke keer as ek na die Engel Kind Poppie.. se mooiste blou ogies kyk, dan loop die Trane… soveel mense sou hul als wou gee om so n pragtigge Poppie van n kind te koester en haar soveel Liefde te gee….. dit is asof daai ogies smeek… help my, verlos my van al die Eina? nou is jy veilig by Jesus, waar jy soveel Liefde sal ontvang, en niemand jou ooit weer sal kan seer maak. Ek is so bly dat die Ouers nou Forever sal sit, ek glo hul sal genoeg tyd kry om lank te dink oor dit wat hul aan die kind gedoen het, mag hul nooit weer die Son sien skyn. En ja ek is baie bly vir die Ouma , maar sy moes ook al lankal geweet het wat aangaan, en hierdie kind probeer red het…waarvoor gee jy voor.Trane van Blydskap… dit moes nie nou gewees het, maar nog voor Poppie se lewe van haar weg geneem is…. Poppie jou dierbare gesiggie sal vir altyd onthou word…. Rus in Vrede Jesus se Engeltjie kind..

Se maar net ·

Ek, ‘n vrou, moes as kind toekyk hoe my pa my ma slaan. Dit het by my ‘n obsessie gekweek dat geen man ooit sy hande vir my sou lig nie. Boonop moes my swaers ligloop, want as ek in die omgewing was en hulle het net iets verkeerd gese van my ma, dan het ek swart gesien. In ‘n aanrandingsaak waar ek en my dogter die teiken was (haar vorige kêrel [dankie Here!] se pa), het ek ‘n saak aanhangig gemaak en die man het 5 jaar opgeskorte vonnis gekry.

Hierdie vrou kan nie haar verlede as versagtende omstandighede gebruik nie. Sy het n KEUSE gehad. Om oor en oor met dieselfde tipe man deurmekaar te raak, is vir moeilikheid soek…. En sy het die gekry. Ek kry amper die indruk dat sy ‘n soort heldeverering vir sulke mans gehad het. As dit die geval is, dan, LIEWE VROU, moet jy aanvaar wat jou toekom.

Niks, maar niks, het jou rede gegee om toe te laat dat jou kinders mishandel (en vermoor) word nie.

Na my egskeiding in 2005 het ek myself voorgeneem dat my kinders NOOIT ‘n stiefpa sal hê nie, veral omdat ek twee dogters het. En ja, tot vandag toe is ek nog steeds enkel en my kinders, almal nou reeds volwassenes is in gesonde verhoudings.

Ek sê weer – elke mens het die vryheid om ‘n KEUSE te maak…. en wat daarna gebeur, lê dan voor jou eie deur

Objektief ·

Ek is jammer. Maar ek neem die grootouers ook kwalik. Sekerlik het Poppie vir hulle gaan kuier. Het hulle nie die tekens van mishandeling gesien nie? Mense moet nie stilbly m.b.t kinder mishandling nie. Kinders is onskuldig en kan nie vir hulle self opkom nie.

Magda ·

Wat van ‘n mens styg uit bo jou omstandighede – juis omdat jy gesukkel het, juis omdat jy mishandel was, juis omdat jy verkrag was, juis..juis…juis behoort mens dit nie vir jou eie kind te wil he nie. Dis flou verskonings wat hul aanvoer ter versagting en mors van tyd – ek is bly die reg het sy gang gegaan want ek het nog nooit van daardie dogtertjie en haar potblou ogies vergeet nie – ek is self n ma van 4. Wat moes daardie kindjie gedink het – die Here weet…nee hul word op aarde gestraf vir hul dade maar hul moet eerder vrees vir dit wat hul daar bo moet verduidelik eendag.

Petro ·

In wie se sorg word Poppie se boetie nou geplaas as biologiese pa ook skuldig is aan geweld?

Madeleine Human ·

Kan nie glo sy los Poppie se Pa omdat hy haar rond geruk het nie, kry beskermings bevel die works, maar by Kobus kan sy bly, sy was nie passief nie, sy is verantwoordelik vir haar kind se dood, en sy moet eendag voor die Here gaan staan en verduidelik. As sy om vergifnis vra, en voel sy het dit gekry is ek baie bly vir haar maar ek sal haar baie moeilik vergewe, vir wat sy aan ‘n onskuldige kind gedoen het, en hy ook is nie die naam Pa of Stiefpa werd nie, sal hom uitkryt as ‘n moordenaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.