Poppie-moord: vonnisverrigtinge begin

Louisa Koekemoer vroër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die vonnisverrigtinge van Louisa en Kobus Koekemoer, die driejarige Poppie van der Merwe se ma en stiefpa wat skuldig bevind is aan haar moord, sal na verwagting Woensdag in die Pretoria-hooggeregshof begin.

Regter Bert Bam het Louisa (46) en Kobus (44) in Desember verlede jaar in die hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die mishandeling het oor die tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes. ʼn Sesjarige seun, wat toe vyf was, is ook mishandel.

Die vonnisverrigtinge was vir 28 Februarie op die hooggeregshof se rol geplaas, maar is tot 18 April uitgestel aangesien Kobus se regverteenwoordiger mediese behandeling moes ondergaan. Kobus moes wel vir die verrigtinge dié dag in die hof verskyn sodat die uitstel bekragtig kon word. Hy het toe glo selfmoord in die aanhoudingselle probeer pleeg deur vermoedelik ʼn skoonmaakmiddel te drink. Toe hy in die hof moes verskyn, het hy inmekaargesak en is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.

Kobus het verlede jaar terwyl hy in aanhouding was vermoedelik ook probeer selfmoord pleeg toe hy glo sy polse in ʼn polisiesel met ʼn lem gesny het. Hy het kort daarna in die hof verskyn en daar was toe ʼn hospitaalnaambandjie aan sy linkerarm sigbaar asook verbande om sy enkels.

Die nuus van Poppie se tragiese dood het in Oktober 2016 aan die lig gekom nadat Poppie op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember 2016 in hegtenis geneem.

Kobus Koekemoer vroeër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die hof het tydens die verhoor, wat op 30 Oktober 2017 begin het, gehoor Poppie is dood weens ʼn harde hou teen haar kop, wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nié kenmerkende beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie. Die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen. Die kind het ook verskeie merke aan haar lyf gehad wat ʼn aanduiding is dat sy gewelddadig geskud is.

Kobus het tydens sy verhoor getuig hy sou Poppie en die seuntjie met ʼn paplepel slaan totdat hulle huil en dan verder slaan totdat hulle weer stil bly en hul foute erken. Hy het gemeen hy was onskuldig en het die kinders net gedissiplineer, onder meer om Poppie te “potty train”. Hy het gesê hy het die dissipline aan Louisa oorgelaat nadat die Orania Maatskaplike Raad van die kindermishandeling ingelig is en die raad die huishouding begin ondersoek het.

Louisa het getuig dat sy baie bang was vir Kobus en dat hy glo gereeld gedreig het dat hy haar en haar kinders en familie leed sal aandoen as sy hom sou verkla. Tog het hy haar nooit fisiek aangerand nie. Die egpaar het wel rusies gehad waartydens hulle op mekaar sou skreeu en vloek.

Bam het in sy uitspraak gesê Louisa se emosionele reaksie tydens haar getuienis het hom nie geraak nie, want sy kon hom nie oortuig dat sy die nodige stappe gedoen het om die kinders te probeer beskerm nie.

“Die gemenereg beskerm kinders en albei ouers het die plig gehad om na die kinders om te sien en hulle te beskerm. Albei beskuldigdes was bewus van wat die ander gedoen het en dat die kinders ernstig aangerand en beseer is, maar het niks gedoen om die kinders teen dié mishandeling te beskerm nie. Daarom is daar met ʼn gemeenskaplike oogmerk opgetree,” het Bam in sy byna uur en ʼn half lange uitspraak gesê.

Kobus het ná sy skuldigbevinding emosieloos uit die beskuldigdebank na die aanhoudingselle gestap. Louisa het vlugtig met haar ma, Susan Bothma (70), vanuit die beskuldigdebank gepraat. Louisa se oë was bloedrooi gehuil.

ʼn Emosionele Bothma het ná afloop van die hofverrigtinge aan die media gesê sy is nie gelukkig dat Kobus en Louisa albei aan moord skuldig bevind is nie.

“Ek glo nie my dogter sou haar kind doodgemaak het nie. Ons gaan maar hoop en bid dat dit vorentoe beter sal gaan. Ons sal maar sien wat gebeur met die res van die hofverrigtinge,” het sy gesê.

Poppie van der Merwe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

kas ·

Hoe dissiplineer jy ‘n kind dat sy sterf.Die ma kon wel iets aan die mishandeling gedoen het en ek glo haar weergawe is alles liegstories.Sy het haar eie kind mishandel en ek sal nie verbaas wees as sy haar kind se dood veroorsaak het nie.My verstand is te klein om dit te verstaan maar glo my regter Bam sal hom weereens goed van sy taak kwyt.

Sonja ·

Ek stem 100% saam met jou. Ek sal my hande stukkend baklei vir my kinders. Dis waarvoor ons da is. Om hulle te beskerm. Jy moet hul veilige hawe wees.
Eks jammer, ek het nie simpatie met een van die 2 nie. Hulle moes daardi kinders gekoester het.

Poppie ek hoop geregtigheid geskiet.

N@di@ ·

Die kind is so mooi… en dit alles oor discipline en potty training. Ek het ook n 2 en half jarige meisie en sy wil nie potty nie maar dit beteken nie ek moet ha vermink nie sy sal op haar eie tyd train. Kinders is ‘ vreugde. Poppie ons dink aan jou jy is nou ‘n Engel van God.

Anoniem ·

Life in prison or death penalty oie kan n mens so iets aan n onskuldige kind doen haar hele lewe is in n grusame mishandeling weggeneem geen mens kan bepaal op enige een se dood Net GOD bepaal die begin en einde van n mens se lewe

Genieve ·

Ek hoop van harte hierdie saak maak vandag klaar sodat Poppie in vrede kan rus syt nie so dood verdien nie…ouers wat dit aan hulle eie kinders doen sluit hulle toe en gooi die sleutel weg.

Theresa B ·

Pragtige onskuldige ou poppie wat so baie van die lewe nog moes leer. Nooit eers behoorlik kind sonder sorge gewees nie. Die doodstraf moet terug. Hierdie spul moet daglig NOOIT weer sien nie. Hierdie pragtige dinge se lewe is wreed kort geknip. My hart breek om te dink waardeur die ou klein lyfie moes gaan. Wat het deur haar koppie gegaan. Ek wil nie eers dink daaraan nie. Here hou haar styf teen U vas.

Alida ·

Regter Bamm sal die regte vonnis oplê. Hy het ook kinders en kleinkinders.

Erika ·

Ouers moet begin dink oor die manier waarop hulle hul kinders groot maak. Dissipline het ook perke. As die ouers gefrustreerd vanaf die werk by die huis kom, moet die kinders dit kry . Probeer eerder n kind se selfbeeld opbou as om die kind af te kraak en te verniel. Spandeer tyd met die kind en betoon jou liefde. Sommige mammas en pappas maak my sommer die josie in. Poppie se ouers het perke oorskry en verdien om in die tronk te sit. Rus in vrede pragtige engelkind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.