Poppie-moord: Vonnisverrigtinge hervat

‘n Skoongeskeerde Kobus Koekemoer in April in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die vonnisverrigtinge van Louisa en Kobus Koekemoer, die driejarige Poppie van der Merwe se ma en stiefpa wat skuldig bevind is aan haar moord, hervat Woensdag in die Pretoria-hooggeregshof.

Regter Bert Bam het Louisa (46) en Kobus (44) in Desember verlede jaar in die hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord [op Poppie] en twee aanklagte van kindermishandeling [op Poppie en ʼn vyfjarige seun]. Die mishandeling het oor die tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek, in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes.

Die vonnisverrigtinge was vir 28 Februarie op die hooggeregshof se rol geplaas, maar is tot 18 April uitgestel aangesien Kobus se regverteenwoordiger mediese behandeling moes ondergaan. Kobus moes wel vir die verrigtinge dié dag in die hof verskyn sodat die uitstel bekragtig kon word. Hy het toe glo probeer om in die aanhoudingselle sy eie lewe te neem deur vermoedelik ʼn skoonmaakmiddel te drink. Toe hy in die hof moes verskyn, het hy inmekaargesak en is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.

Op 18 April is die vonnisverrigtinge egter weer uitgestel, aangesien die staat en Kobus se regspan nie ʼn kenner se verslag wou aanvaar wat ter versagting van Louisa se vonnis sou dien nie.

Adv. Adrian Nel, vir Louisa, het aangevoer die spesialisgetuie wou “om verskeie redes” anoniem bly en nie in die regbank getuig nie.

Louisa Koekemoer vroër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Hy het uitstel versoek om ʼn ander getuie, hetsy ʼn proefbeampte of ʼn sielkundige wat bereid is om te getuig, te kry wat Louisa se posisie beter voor die hof kan stel.

Regter Bam het die aansoek as ʼn onnodige vertraging bestempel, maar ingestem dit is tog in belang van geregtigheid dat Louisa se verslag voorgelê word.

“Dit is ʼn ongelukkige toedrag van sake. Ek staan nie gewoonlik sulke versoeke toe nie, maar ons is in ʼn skaakmat-situasie. Die saak word tot 24 Mei uitgestel. As die verslag en getuie dan nie beskikbaar is nie, sal die vonnis daarsonder afgehandel word,” het Bam streng gesê.

Die nuus van Poppie se tragiese dood het in Oktober 2016 aan die lig gekom nadat Poppie op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember 2016 in hegtenis geneem.

Die hof het tydens die verhoor, wat op 30 Oktober 2017 begin het, gehoor Poppie is dood weens ʼn harde hou teen haar kop, wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nié kenmerkende beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie. Die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen. Die kind het ook verskeie merke aan haar lyf gehad wat ʼn aanduiding is dat sy gewelddadig geskud is.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda Gouws ·

Dit is hartseer dat so ‘n klein mensie soveel onnodige pyn moes verduur. Mag geregtigheid geskied.

CAROL ·

Waar is Judge Desai??? Hy sal sorg dat regverdigheid in die saak skiet

Aster ·

Ek kyk so na die pratige foto van klein Poppie. Maggies, sy was nou ‘n beeldskone dogtertjie. My hart is so seer as ek na haar blou ogies kyk. Ek kan nog steeds nie glo dat ouers so hard en wreed kan wees teenoor hulle eie vlees en bloed nie…Mag hulle lewenslank in die tronk sit!

Alida ·

Regter Desai is in die Kaap!!!!! Moet asb nie vir Regter Bam onderskat nie. Hy is ‘n uitstekende regter en weet presies wat hy doen. Hierdie mense gaan baie lank sit glo my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.