Poppie-saak: ‘Dit het gelyk of sy dood is’

Kobus en Louisa Koekemoer in die Pretoria-hooggeregshof (31 Oktober 2017). Foto: Phillip Bruwer

Morris Aronowitz de Beer, ʼn paramedikus verbonde aan die Hartbeespoort-nooddienste, het Dinsdagoggend in die Pretoria-hooggeregshof vertel wat hy waargeneem het die dag toe Poppie van der Merwe se lewelose lyfie meer as ‘n jaar gelede by ʼn hospitaal in Brits, Noordwes, ingebring is.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), staan tereg vir die moord op die driejarige kleuter. Hul verhoor het Maandag begin.

“Ek was Dinsdag 25 Oktober 2016 aan diens. Ons was die middag by die Brits- provinsiale hospitaal en het by ongevalle gewag vir inligting oor ʼn pasiënt,” het De Beer aan regter Bert Bam gesê.

“ʼn Manlike persoon [Kobus Koekemoer] het deur die glasdeur ingekom met ʼn kind in sy arms en hy het om hulp geroep. Dit het gelyk of die kind dood is, sy het nie beweeg nie. Ek het die kind gevat en na ʼn bed in die ongevalle-eenheid geneem.”

Hy het gesê hy het vir ʼn hartklop gesoek en geen hartklop gevoel nie. Die kleuter het ook nie asem gehaal nie. De Beer het dadelik begin om noodhulp op Poppie toe te pas en het vir Koekemoer gevra wat gebeur het. Koekemoer het glo geantwoord dat sy net ophou asemhaal het.

“Die kind het net ʼn broekie aangehad en nie ʼn hemp nie. Ek het haar lyfie ondersoek en het orals blou kolle en ʼn knop aan haar kop gesien. Sy het maer gelyk. Ek het hom gevra waar al die knoppe en kneusplekke vandaan kom, want dit het nie vir my normaal gelyk vir ʼn kind van daardie ouderdom nie,” het De Beer gesê.

Koekemoer het glo geantwoord sy het die blou kolle tydens die jaagtog na hospitaal opgedoen, toe sy teen die binnekant van die bakkie gestamp het.

De Beer het getuig toe hy Poppie se mond wou oopmaak om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas, was haar kakebeen reeds styf, wat ʼn aanduiding was dat sy reeds tot twee ure dood kon wees. “Sy het glad nie bygekom nie. Ek het aanhou noodhulp doen. Die dokter het ingekom en gesê ek moet ophou, die kind is dood.”

Volgens De Beer het hy vir Louisa saam met ʼn klein seuntjie sien staan. Hy het nie met haar gepraat nie. Hy het kort daarna by die seuntjie gekniel en hom gevra wat gebeur het. “Hy het net gesê sy wou nie eet nie.”

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

De Beer het getuig hy is opgelei om te weet dat ʼn kneusplek nie kan vorm as daar nie bloeddruk of bloedvloei is nie.

Adv. Lana Augustyn, Kobus se regsverteenwoordiger, het De Beer onder kruisverhoor uitgevra oor Koekemoer se toestand die betrokke aand. “Hy was redelik paniekbevange toe hy ingekom het en toe ek met noodhulp begin het hy begin rustig raak,” het De Beer geantwoord.

Oor Louisa se toestand het hy gesê sy het net daar gestaan en nie enige tekens van “stres” gewys nie. Augustyn het gesê dit is haar instruksies dat Poppie in die voertuig beserings opgedoen het toe daar noodhulp op haar toegepas is.

Adv. Adrian Nel, vir Louisa, het dit aan De Beer gestel dat Louisa in ʼn totale toestand van skok was, want sy het gehoor haar kind is dood.

Dr. Richard Gumbu, die dokter wat die dag van Poppie se dood aan diens was in die ongevalle eenheid van die Brits-hospitaal, is daarna geroep om te getuig.

Gumbu het getuig hy het Poppie omstreeks 17:00 dood verklaar. Hy het gesê hy het slegs enkele van haar beserings in sy verslag gemeld. “Daar was baie meer wat nie aangeteken is nie, want daar was te veel en ek was besig met ander gevalle.”

Gumbu het gesê hy het daarna met die ouers gepraat. Koekemoer het die meeste van die praatwerk gedoen en Louisa het net dan en wan geknik. “Die man het eers gesê hulle het haar pak gegee en dat sy toe haar bewussyn verloor het. Toe ek vir hulle sê ons moet die polisie betrek, want dit was nie ʼn natuurlike dood nie, het hulle hul storie aangepas deur te sê sy het televisie gekyk en was moeg en het toe haar bewussyn verloor. Hulle het toe gesê hulle het haar geskud om haar wakker te kry en het koue water oor haar gegooi,” het hy gesê.

Volgens hom het Louisa hartseer en emosioneel gelyk en Koekemoer was “ontspanne”.

Augustyn het onder kruisverhoor aangevoer Koekemoer gaan ontken dat hy gesê het hy het Poppie pakslae gegee en het hy buite die huis in die tuin gewerk toe Louisa hom geroep het toe Poppie haar bewussyn verloor het.

Gumbu het gesê hy het nog nie gesien dat ʼn kind dié soort beserings aan ʼn bors opdoen as ʼn volwasse, wat nie weet wat hy doen nie, noodhulp probeer toepas.

Die saak duur voort.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

amelia ·

Regtig die twee mense verdien om gehang te word. En waar was die biologiese pa? Kon hy nooit ooit agterkom dat daar iets skeel onder die toesig waarin die kindjie was nie?

Alida ·

Regter Bamm is baie slim. Hy het klaar gesien wat hier aan die gang is maar moet eers na almal se getuienis luister. Glo my hy sal die regte beslissing maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.