Poppie-saak: Emosionele ma se skokgetuienis aangehoor

Louisa Koekemoer nadat sy getuig het (8 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Louisa Koekemoer (47), Poppie van der Merwe (3) se ma, het Woensdag verskeie kere emosioneel geraak terwyl sy in die Pretoria-hooggeregshof getuig het oor die tydperk wat sy met haar medebeskuldigde, Kobus Koekemoer (44), getroud was.

Louisa en Kobus staan tereg op ʼn aanklag van moord op Poppie, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Louisa het Woensdag getuig sy het in 2014 uit Westonaria aan die Wes-Rand na Orania gevlug aangesien haar vorige lewensmaat haar geslaan het.

Louisa het gesê sy het hulp by haar kerk in Westonaria gevra, maar is aanvanklik terug na haar huis gestuur waar sy erger aangerand is. Die polisie wou haar glo ook nie help nie en sy het besluit om na Orania te trek waar haar ma woon.

By Orania het die Orania Maatskaplike Raad (OMR) en die kerk haar gehelp met ʼn huis, geldelike bystand, kos en om ʼn werk by ʼn plaaslike winkel te kry sodat sy weer op haar voete kon kom. In Orania het die OMR ook gehelp om ʼn interdik teen haar destydse lewensmaat te verkry.

“Daardie tyd het ons bietjie gesukkel, maar dinge het mooi reggekom en dit het goed gegaan. Ek het geen probleme met Poppie en die ouer seuntjie gehad nie. Ek het hulle nie pakslae gegee nie. As hulle stout was, het ek met hulle gepraat. Hulle het verstaan, dit was nie nodig om te slaan nie,” het sy gesê.

Sy het vir Kobus by haar werk by die winkel ontmoet en voor hulle in November 2015 getrou het geen “gevaarligte” gesien nie. “Hy het wel met die kinders geraas soos as hulle hul skoene verkeerd om aantrek, maar hy het hulle glad nie geslaan nie. Ek het geen rooi ligte sien flikker nie. Ek het net gedink hy is streng as hy so raas. Hy was streng, maar kon liefdevol ook wees en het met die kinders gespeel,” het sy gesê.

Louisa het getuig sy het ná hul troue vir Kobus bang geraak. “Daar was dae wat hy baie liefdevol was en omgegee het. Op ander dae was hy moeilik, kort van humeur en het hy ons verkleineer. Ek is baie bang vir hom, want mens weet nooit waar jy met hom staan nie. Hy het gedreig as ek enige hulp gaan soek sal hy die een by wie ek hulp vra, en my familie, dood maak. Hy het gesê hy het sy broer se kakebeen afgeslaan en was al in ander gevegte betrokke en dat dit vir hom sal maklik wees om van ʼn lyk ontslae te raak, want hy ken baie mense,” het sy emosioneel gesê.

Louisa het gesê die manier waarop Kobus dissipline toegepas het, het al hoe erger geword totdat die OMR begin ingryp het. Sy het egter nooit amptelik die aanranding by die OMR aangemeld nie omdat sy bang was vir Kobus en hy haar glo gedreig het om met niemand te praat nie. Kobus was ook altyd in die omtrek as die OMR se berader by die huis of werk gaan inloer het, het sy gesê.

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Louisa het getuig sy kan nie onthou hoeveel keer Poppie en die seuntjie in die jaar wat hulle getroud was in Orania aangerand is nie. “Dit is te veel, ek kan dit nie opnoem nie.”

Louisa het getuig Kobus sou die kinders sommer lukraak met die houtlepel slaan of met sy hande as die lepel nie byderhand was nie. Hy sou hulle glo enige plek op hulle lywe geslaan het. “Poppie kon dalk net iets van die tafel af gevat het, dan sou hy haar slaan omdat hy nie vir haar gesê het sy mag dit kry nie. Of hy sou hulle slaan as hulle kos gemors het of iets in sy oë verkeerd gedoen het.”

Sy het getuig dat Kobus die kinders ook geskop het, veral in hulle mae. Hy sou hulle ook aan hulle arms rondpluk en teen ʼn bank of tafel gooi, het sy gesê.

Sy het verduidelik dat die seuntjie in Orania soms glipsies in sy bed gehad het en dat Poppie doek gedra het. Die beddegoed sou soms nat word as die doek te nat was. “Dan het ek dit van Kobus weggehou sodat hy nie met hulle moet raas nie en mooi met hulle gepraat dat hulle my moet roep dat ek hulle toilet toe kan vat as hulle ʼn nood het.”

Sy het gesê vandat die OMR ingegryp het, het die aanranding beter geraak. Hulle het einde September 2015 na ʼn kleinhoewe buite Brits verhuis. Sy het nie geweet waarheen hulle trek nie. Kobus het slegs aan haar gesê hy het ʼn huis by sy ma geërf en hulle verhuis soontoe sodat hulle nie huur hoef te betaal nie.

Louisa het tydens haar getuienis volgehou dat Poppie haar been op ʼn trappie by hul winkel gebreek het en ʼn groot knop aan haar voorkop opgedoen het toe sy uit die bakkie getel is en haar kop gestamp het. Sy beweer egter die res van die beserings wat in die hof uitgewys is, is deur Kobus toegedien.

Kobus het Louisa gedwing om vir die mense in Orania oor die kneusplekke te jok, beweer Louisa. “Kobus het gesê ek mag nie vertel wat met die kinders gebeur nie, anders gaan hulle die kinders van my wegvat of hy sou hulle meer slaan,” het sy weereens emosioneel gesê. “Ek het nie in Orania hulp gevra nie, want dan was my familie en mense dood.”

Die hof moes in ʼn stadium verdaag sodat Louisa haar emosies onder bedwang kon bring.

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

Aanranding ‘word net erger’

Louisa het getuig in Brits het dinge net erger geword. “[Kobus] sou Poppie sommer optel en haar kop teen die kombuiskas stamp. Dit het meer as een keer gebeur. Die aand voor haar dood het hy dit gedoen omdat sy nie al haar kossies wou opeet nie.”

Sy het ook gesê hy sou gereeld Poppie en die seun se kop in die toilet druk en die water laat loop sodat hulle kon “dissipline leer”. Sy wou nie inmeng nie en het die kinders skelmpies getroos sodat hulle nie verder moet huil en Kobus hulle dan weer aanrand nie.

Louisa het getuig die oggend van 25 Oktober 2016, die dag wat Poppie by ʼn hospitaal in Brits dood verklaar is, was Poppie moeg, deurmekaar en “onvas op haar voete” nadat haar kop die vorige aand teen die kombuiskas gestamp is.

“Sy wou nie al haar pap opeet nie en Kobus het met haar geraas. Ek het maar net gedink sy eet nie alles nie omdat sy nie lekker voel nie en van balans af was. Sy het bitter min met my gepraat, asof sy nie kon of wou nie. Ek het gedink dit is omdat sy bang was. Ek het glad nie geweet wat om te doen nie. Sy het voor die televisie op die mat gelê toe Kobus die dag van die dorp af gekom en haar weer geskop het. Ek het vir hom gesê hy kan haar nie skop nie, sy voel nie lekker nie en wil net ʼn bietjie lê, maar hy het hom nie aan my gesteur nie.”

Poppie het kort daarna ophou asemhaal. Louisa beweer sy het haar liggaampie op die badkamermatjie gekry. Haar mond was blou en Louisa beweer sy het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar dit was tevergeefs.

Poppie is daarna na ʼn hospitaal gehaas waar sy dood verklaar is.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

55 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Forster

Dis seker ‘n bedekte seen dat Poppie oorlede is want hoeveel meer pyn sou daai arme dogtertjie moes verduur. Mens mag nie haat nie maar !!!

Piet Pompies

Dit is met afsku wat ek die berig lees, die arme kinders is deur grootmense mishandel en dit wil voorkom of die wat dit gesien gebeur het net bloot weg gekyk het en niks gedoen het. Kobus verdien die swaarste straf en die ma dieselfde, sy was bewus van die mishandeling en het niks omtrent dit gedoen. Op die einde was die kind in die sitkamer en later dood in die badkamer op die mat gevind, waar was die ma gedurende die tyd. Ons is baie lief vir ons eie kinders wat nou al groot is en die kleinkinders is… Lees meer »

Siembamba

Ek …. het… nie…. woorde ….nie.

Ekke

Dis verskriklik. Sulke mense hoort nie in die samelewing!

Soekie

Hierdie storie met Poppie breuk my hart in stukke. Ek kan nie glo n ma kan dit toelaat nie (alhoewel ek voel sy dra net soveel skuld daarin). Ek is emosioneel, want ek sal als in my vermoe doen om my kinders te beskerm (hul is immers vir my gegee)…Ek is onvoorwaarlik lief vir hul. Mense wat bewus was van Poppie en haar boetie se omstandighede het haar gevaal. Poppie se gesiggie spook by my! So mooi klein engeltjie….