Poppie-saak: Hof hoor oor beserings

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Kobus (43) en Louisa (45) Koekemoer, die egpaar wat teregstaan vir die moord op die driejarige Poppie van der Merwe, het Maandag by die begin van hul verhoor in die Pretoriase hooggeregshof onskuldig op al die aanklagte teen hulle gepleit.

Die egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn vyfjarige seuntjie en 15-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Staatsaanklaer Salome Scheepers het dr. Ethel Margaret Bekker, wat eers as ʼn algemene praktisyn en later weekliks by die kliniek op Orania gewerk het, as eerste getuie geroep. Sy het gesê sy ken vir Louisa en het haar in Februarie 2014 ontmoet toe sy saam met haar dogter, toe 14 jaar oud, haar jonger kinders ingebring het vir ʼn konsultasie.

Poppie van der Merwe.

“Sy het nooit alleen met die kinders gekom nie. Haar ouer dogter was altyd by en dié het ek meer ervaar as die stabiele persoon wat die kinders versorg het aangesien Koekemoer die broodwinner was en voltyds gewerk het,” het Bekker gesê. “Toe ek hulle pas ontmoet het, het die kinders as normale kleuters voorgekom. Poppie was in ʼn stootkarretjie en haar boetie het rondgehardloop.”

Louisa het Kobus in Orania ontmoet. Hulle het in September 2015 saam ingetrek en is op 14 November 2015 getroud.

Bekker het Poppie op 28 April 2016 ondersoek nadat dit onder die Orania Maatskaplike Raad (ORM) se aandag gekom het dat die kinders moontlik mishandel word. Bekker was toe net by die kliniek betrokke en het hulle in die beweerde tydperk van die mishandeling twee keer ondersoek en verslae oor dié ondersoeke geskryf. Die ORM het vroeër opdrag gegee dat die gesin gemonitor en die kinders onder meer weekliks deur ʼn geneesheer ondersoek word nadat bure en die dagsorgsentrum bewerings van oordadige geweld gemaak het.

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

“Toe ek weer vir Poppie en haar boetie gesien het, het hulle albei groter geword. Ek het ʼn groot verandering in Poppie se persoonlike gedrag gesien. Sy was vreesbevange toe ek naby haar kom, verstyf en het stilgestaan. Sy het amper nie verstaan as ek met haar gesels nie,” het Bekker getuig.

Bekker het gesê sy het heelwat beserings aan haar lyfie asook kneusplekke gehad. “Die beserings kon nie deur ʼn val opgedoen word nie en was myn insien weens oormatige geweld.” Bekker het Poppie weer op 5 Augustus ondersoek. Sy het toe ʼn blou voorkop en ʼn blouoog gehad wat vier of vyf dae oud was. Haar voetjie was ook in gips. Sy het die gevolgtrekking gemaak dat die beserings deur aanranding opgedoen is.

Heidi Smit, ʼn berader van die ORM, het volgende getuig en gesê sy is aangesê om die situasie voortdurend te monitor. Bekker het haar verslae aan die departement van maatskaplike dienste in Hopetown gestuur. Hulle wou glo met formele stappe begin om die kinders te laat verwyder toe die Koekemoers einde September verlede jaar oornag na ʼn kleinhoewe naby Brits verhuis het. Dit het onder kruisverhoor aan die lig gekom dat ʼn saak van mishandeling nooit by die Hopetown-polisiestasie aanhangig gemaak is nie.

Kobus Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Smit het tydens haar getuienis verduidelik die OMR en inwoners het Louisa en haar gesin aanvanklik finansieel en met kosskenkings bygestaan totdat sy op haar voete kon kom, ʼn werk kon kry en onderhoud begin ontvang het. Sy het gesê sy loop ʼn lang pad saam met Louisa en dat sy aanvanklik geen onraad vermoed het nie.

Sy het gesê sy het in ʼn stadium vir ʼn week lank, van 7 tot 16 Augustus 2016, na die kinders gekyk terwyl die egpaar op vakansie gegaan het. Poppie het destyds reeds gips aan haar voet gehad, maar as Smit haar daaroor uitgevra het, was haar storie elke keer anders. “Die seun het vir twee aande sy bed nat gemaak. Poppie het elke aand histeries van nagmerries wakkergeskrik. Daar was nie een aand wat sy nie nagmerries gehad het nie.”

Die beskuldigdes hou egter vol Poppie se voet het gebreek toe sy by ʼn trappie afgeval het en die hou op haar kop was toe sy uit die bakkie gelig is en teen die bakkie se kap gestamp is. Die kinders het glo ook gereeld blou kolle en kneusplekke opgedoen omdat hulle mekaar “afknou”.

Smit het gesê tydens die tydperk toe sy die kinders moes monitor het die ouers altyd hul samewerking gegee en haar nie toegang tot hulle geweier nie.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

CF ·

Ek hoop hulle word vêr weggebêre. Hulle is nie die naam van ouers werd nie!

Phillip ·

Dis verskriklik! Hoe kan ‘n mens so pragtige dogtertjie so mishandel? Verstaan ook nie hoekom die mishandeling nooit by die SAPS aangemeld is nie.

Marianne ·

Louisa en haar man se aand en more praatjies kom nie ooreen sy het glo gevlug van Poppie se pa omdat hy aggresief teen oor haar en die kinders was, maar gaan trou sommer kort daarna met Kobus, wat haar kinders wreed mishandel het. Dan pleit die twee onskuldig. HOE het al daai beserings op Poppie se lyfie gekom? Hulle toon geen berou oor wat hulle gedoen het nie.

Pine ·

Ek kan die engel gesiggie nie uit my kop uit kry nie. My oë vol trane elke slag as ek aan dit dink. Die onskuldige ou Poppie wat eintlik net liefde moes ontvang. Mag julle twee die swaartse straf ontvang en wat julle sal herhinder aan die ou mensie wat julle so verniel het. n Mens moet jou nooit beter ag as ander mense nie maar uit die hart uit “MAG JULLE TWEE DIE WREEDSTE DOOD STERF. JULLE IS GEMORS WAT NIE OP DIE AARDE MOET WEES NIE”

Sulke Tye ·

Sulke tye moet die doodstraf in wees. Hul kos net die belasting betaler ‘n groot klomp geld en al sit hulle en kom uit gaan hul nie verander.

sue ·

AGG NEE,MET HARTSEER moet mens nou hoor dit weereens a.g.v nalatigheid om situasie te probeer te stop waar kindertjies mishandel word,dat arme POPLAPPIE haar lewe moes verloor net omdat die betrokke persoon/persone nie die nodige opvolg werk gedoen het om dit te rapporteer aan die polisie nie.ARME POPPIE en HAAR BOETIE oorgelaat gewees aan hulle eie seer omdat dit nie belangrik genoeg geag was om dit te stop dat alhoewel dames bewus was dat daar wel aanranding en verwaarlosing was!!!EK SOOOO TERLEURGESTELD WEEREENS AAN MY MEDE-MENS SE SWAK WERKS-VERMOë!!!

Botterblommetjie ·

Hoekom was sy nie weggeneem nadat die bewyse reeds daar was nie…. Eintlik is daar baie aandadig tot haar moord as net haar pa en ma……..

Bullet ·

Daar is te veel verkeerde gedagtes wat deur my kop gaan. Die wat kinders mishandel moet die swaartste straf moontlik in ons reg stelsel kry. Lewenslank met geen kans op parool. Jy gaan my nooit oortuig jy kan gerehabiliteer word as jy so iets aan ‘n weerlose kind kan doen nie.

Debbie ·

Stem saam. In Amerika sou hulle verseker lewenslank sonder parool gekry het. Daar is ongelukkig sekere misdade wat sulke swaar straf regverdig.

SjN ·

Sy verseker gratis hemp verklaar sy optrede. Hoop jy boet vir jou dade.

Nikki ·

Ai, daai ou gesiggie spook nog steeds by my. En soveel kon gedoen gewees het om haar daar uit te red, hierdie is nie meer n wereld waar kinders veilig en geliefd is nie. Almal is blind en emotioneel afgestomp vir mekaar.

Nee Regtig ·

Dankie Katryn. Net gedink niemand sien dit raak nie. Daai ou hempie gaan wragtig niks aan sy saligheid doen nie..

asseblief! ·

Die ouers het hierdie kind aangerand, maar OMR was nie die vangnet wat hulle moes wees nie. Betreurenswaardig. Te laat vir hierdie dogtertjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.