Poppie-saak: Hof hoor oor paplepel en koue water

Kobus en Louisa Koekemoer in die Pretoria-hooggeregshof (31 Oktober 2017). Foto: Phillip Bruwer

Die Pretoria-hooggeregshof het onder meer Dinsdag gehoor wat Poppie se ma en stiefpa se oplossing was om ʼn vyfjarige seuntjie, wat glo ook deur die egpaar mishandel is, te laat bedaar wanneer hy woedebuie gekry het.

Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44) se verhoor het Maandag begin, byna ʼn jaar nadat Poppie op 25 Oktober dood by die Brits-hospitaal aangebring is.

Hulle staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van die vyfjarige seuntjie en ʼn 15-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.

Catharina Tanya Goosen, bestuurder van die Orania Maatskaplike Raad- (OMR-)nasorgsentrum, het in die hof getuig sy het van Januarie 2016 tot September 2016 in die middae na die vyfjarige seun omgesien.

Kobus Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

“Aan die begin was hy rustig en kalm, maar in April het dit erger geword. Hy het toe sy eerste woedeuitbarstings gekry. Daarna het dit meer gereeld geraak. Hy sou op die grond rondrol, skreeu en ander kinders slaan as hy nie sy sin gekry het nie. As ek nie gou tussenbeide getree het nie, sou die maatjies seerkry,” het Goosen gesê.

Goosen het gesê toe sy die eerste keer die woedeuitbarstings met Louisa bespreek het, het Louisa en Kobus vir haar gesê om hom in ʼn bad met koue water te sit of met ʼn tuinslang nat te spuit.

Oor sy netheid het sy gesê die seun sou partykeer met meisieklere en skoene wat te groot is vir hom daar aankom.

Volgens Goosen het die seun in ʼn stadium vir ʼn week lank weggebly en toe hy terugkom, het hy blou kolle op sy gesig en ʼn knop op sy voorkop gehad. “Ek het hom gevra wat gebeur het. Ná ʼn lang gesukkel het hy gesê die man het hom op die grond gesleep en sy kop teen ʼn tafel gestamp.”

Sy het getuig sy het eendag buite in die tuin gewerk. “Die seun het eenkant alleen op die gras gesit en iets oor ʼn paplepel gemompel. Ek het hom daaroor uitgevra. Hy het gesê die man het ʼn paplepel gekoop om hom en Poppie mee te slaan. Ek het hom gevra of hy baie pak kry by die man, toe sê hy nee, hulle word in die maag geskop,” het sy gesê.

Sy het ook, soos ʼn dagsorgjuffrou Maandag oor Poppie getuig het, gesê dat die seun knypmerke aan sy oorskulpe gehad het. Sy het sedert April 2016, toe dit onder die OMR se aandag gekom het dat die kinders moontlik mishandel word, foto’s van al sy beserings geneem en aan die OMR verskaf vir “monitering”.

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die seun is by haar weg toe Louisa en Kobus “oornag” aan die einde van September uit Orania weg is en na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal buite Brits in Noordwes verhuis het. Byna 25 dae later is Poppie dood. Volgens ʼn patoloog se getuie tydens die egpaar se borgtogaansoek, was die hoofoorsaak van Poppie se dood ʼn harde hou teen haar kop.

Adv. Lana Augustyn, vir Kobus, het in kruisondervraging gesê Kobus sal getuig dat hy en die seun gespeel en gestoei het, toe hy sy kop teen die tafel gestamp het. “Hy sal ontken hy het die seun gesleep,” het sy gesê. Goosen het erken dat dit moontlik is dat die seuntjie van sy beserings tydens ʼn woedebui kon opdoen.

Adv. Adrian Nell, vir Louisa, het dit in kruisondervraging gestel die raad oor die koue water om die seun te laat bedaar kom van ʼn kleuterskooljuffrou af.

Nell het dit met verwysing na die seun se netheid gestel Kobus het nie vir Louisa toegelaat om ander klere te koop nie. “Hulle het ʼn sukkelbestaan gevoer en hul kafee [op Orania] het toegemaak, want hulle was bankrot,” het hy gesê.

“Die kafee het toegemaak, want hulle het oornag verdwyn. Hulle het die kind net by my uitgehaal en verdwyn,” het Goosen vurig geantwoord.

“Hulle het ook nie oornag gegaan nie. Hulle het ʼn treklorrie gekry en niemand het ook gesê hulle mag nie trek nie. Nóg die polisie en nóg die maatskaplike werkers,” het Nell gesê.

Die verhoor duur Woensdag voort. Die Koekemoer-egpaar se buurman op Orania, wat aanvanklik by die OMR aangemeld het dat die kinders glo oormatig gedissiplineer word, gaan na verwagting opgeroep word om te getuig.

Die seun is tans in ʼn plek van veiligheid en gaan na verwagting Donderdag in camera getuig.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Rika ·

Hoe de hel behandel mens n kindjie so. My kinders is onderskeidelik 3 en 5 en vir my is hulle maar nog babas. Ek hoop hulle word lewenslank opgesluit en dat hulle mooi uitgesort sal word in die tronk

andrea van vuren ·

Die ouers moet uit die samelewing verwerp word. Wens die galgtou kom terug!

Spook ·

Ek weet wragtig nie Rika, ek is sonder woorde, net trane wat vloei. Ek sou graag n massa optog onder ons almal wil sien waar elke liewe kind, man, vrou, dier omhoog gehou word op n plakaat, dat die wereld kan aanskou, kan sien. Die regering het is sy werk gefaal om die kindertjies te beskerm. Sot os tyd dat ons almal as n nasie opstaan teen die gemors. Vergeet van velkleur, ons moet saam staan om n beter toekoms te skep vir al die kindertjies van ons land. Dit is bitter hartseer

Jeannette ·

My oudste word Desember 16 en vir my is sy nog n baba. Sy het haar hand seer gemaak met sport en ekt net so hard saam haar gehuil. Ek kan nie myself indink om n kind (enige ouderdom) op enige manier so seer te maak nie. Dai mense verdien nie om ma en pa genoem te word nie want nie eers diere maak hulle kinders met opset seer nie my hart is stukend vir dai kinders

Madeleine ·

Laat ons leer daaruit….kinders jok nie sommer oor sulke goed nie. Juffrouens; buurvrouens …tree dadelik op!!

andrea van vuren ·

Poppie se ouers verdien geen genade nie. Selfs tronkstraf gaan te lig wees vir hulle!

Penelope ·

Dit is so hartseer. As hulle nie die kinders wou gehad het nie, hoekom hulle nie opgee vir aanneming nie. Mens wonder wat het in hul koppe aangegaan. Was die mishandeling maar net ‘n leefwyse of het hul die kinders dalk aangehou om ‘n toelaag van die welsyn te kry?
Want liefde het hulle beslis nie vir die klein kindertjies gehad nie. Onthou net julle 2, God slaap nie! Ek bid dat die seuntjie baie hulp en liefde sal ontvang en dat hy eendag ‘n goeie gesin sal kry wat hom versorg en beskerm.

Marianne ·

Hulle was geensins bankrot nie. Sy het mos haar vorige man se pension geld gekry. Sy het ook onderhoud gekry vir die kinders. Ek dink haar adv moet eers haar ondersoek voor hy haar probeer verdedig.

God slaap nie ·

Wees versigtig wat jy aan ou mense en kinders doen …. God het Poppie teruggevat

Smythee ·

Die verhaal van poppie is so hartseer on te volg, my seuntjie het die maand 4 jaar oud geword en gruwelik soos net so n klein manetjie kan wees , Mag geregtigheid geskied , Ek bid dat die mense verantoordlik is ver Poppie se dood besef wat hulle gedoen het en opreg berou sal he , mag julle genade vind by God

Alfreda Le roux ·

Hoekom Se niemand van Orania niks? Die maatskaplike werkster het nie Haar Werk gedoen. Die skool Bure almal wat hierdie dogtertjie geken het: skaam julle DAT julle niks gedoen het. Orania spog hulle is so wonderlike dorp maar ek glo dit nie meer. Ek hoop nie sy was in die kleuterskool in Orania waar die eienaar Se man gearesteer was vir pedofiel!!!!

Joey ·

Hoe leef hierdie volwassenes met hul gewete saam (of het hul nie een,),- julle het hierdie kinders versaak! Julle behoort ook aangekla te word. Die pa is net so skuldig. As hy meer betrokke was sou hy die dinge opgetel het. Help nie hy huil nou by haar graffie nie. Me Goosen jy het jou plig versuim! Jy kon ñ groot verskil in die kinders se lewe maak maar NEE ! jy het verkies om ander pad te kyk! Mag God jou genadig wees

Onbekend ·

Daai seuntjie behoort ook nie terug te gaan na die pa toe nie. As die welsyn of polisie bietjie gaan krap sal hulle sien dat daar aan van der merwe se kant (in sy familie) ook gesins geweld sake was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.