Poppie-saak: Juffrou raak emosioneel in getuiebank

Kobus Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Esna Schumann, ʼn onderwyseres en bestuurder van die Huppelkind-dagsorgsentrum op Orania in die Noord-Kaap, het Maandagmiddag emosioneel geraak toe sy oor beserings aan Poppie Koekemoer (3) se voorkop getuig het.

Schumann was een van die nagenoeg 30 getuies wat die staat beplan om te roep in die verhoor wat vir twee weke lank op die hofrol by die Pretoria-hooggeregshof geplaas is.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), se verhoor het Maandag in die hof begin. Die egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn vyfjarige seuntjie en 15-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het vroeër die dag skuld ontken op al die aanklagte teen hulle.

Schumann het verwys na ʼn voorval in Junie 2016 toe Poppie een Maandag by die dagsorgsentrum opgedaag het met ʼn “geweldige” knop aan haar voorkop en ʼn blou ogie.

“Louisa het vir my gesê sy het poppie se kop teen die bakkie se kap gestamp toe sy haar uit die bakkie gelaai het. Ek het haar nie geglo nie. Sy het nie direk vir my gekyk nie. Sy was baie haastig gewees en die blou kol het nie gelyk soos iets wat pas gebeur het nie,” het Schumann getuig.

Schumann het gesê sy het ʼn foto van Poppie se beserings geneem. Dié foto is Maandag aan die hof gewys en as ʼn bewysstuk ingedien. In die foto kyk Poppie op en na die kamera. Schumann het destyds ook die foto aan Heidi Smit, ʼn berader van die Orania Maatskaplike Raad (OMR), gestuur. Die OMR het in April 2016 opdrag gegee dat die gesin gemonitor en die kinders onder meer weekliks deur ʼn geneesheer ondersoek word nadat bure bewerings van “oordadige geweld” gemaak het.

Poppie van der Merwe.

“Ek het later die oggend toe Louisa weg is vir Poppie gevra wat gebeur het. Sy het my met daai selfde gesiggie aangekyk as hoe sy daar op die foto staan en gesê haar ma het haar met ʼn vuis geslaan,” het Schumann emosioneel gesê. “Dit was nog voor al haar hare afgeskeer was. Haar hare was tot op die kopvel afgeskeer soos wat ʼn mens met seuns sou doen as hulle luise het, maar ek weet sy het nie luise gehad nie.”

Schumann het getuig sy het Poppie gereeld “van kop tot tone” deursoek vir enige tekens van blou kolle en sy het nooit luise opgemerk nie.

Sy het gesê sedert sy in April 2015 by die dagsorgsentrum begin werk en met Poppie te doen gekry het, is die beserings wat uitgestaan het die hou aan haar kop, haar been wat gebreek was en blou kolle aan die bopunt van Poppie se ore “wat lyk soos knypmerke”. Sy sê sy het in die tydperk ander skraapmerkies en kneusplekke opgemerk, maar dit was nie iets waaroor hulle onrustig was nie.

“Sy was ʼn bedrywige dogtertjie gewees en kinders kry mos maar skrapies.” Oor Poppie se been wat gebreek was, het Louisa aan haar gesê Poppie het by ʼn trap afgeval.

“Ek het haar daai tyd gevra wat met haar been gebeur het en sy het gesê: ‘Hulle het my seergemaak,’” het Schumann gesê.

Die beskuldigdes hou egter vol Poppie se been het gebreek toe sy by ʼn trappie by ʼn winkel afgeval het. Hulle het aan Schumann en Smit gesê Poppie en haar boetie het blou kolle en kneusplekke opgedoen omdat hulle mekaar “afknou”.

Smit het vroeër die dag getuig dat Louisa in 2014 van Westonaria aan die Wes-Rand na Orania gevlug het nadat haar vorige lewensmaat haar glo aangerand het. Die OMR en die gemeenskap het haar en haar kinders finansieel en met kospakkies bygestaan totdat sy weer op haar voete kon kom. Finansiële bystand is gestaak toe Louisa ʼn werk, onderhoudgeld en pensioengeld uit haar vorige verhouding ontvang het.

Kobus het later in Orania ingetrek en vir Louisa daar ontmoet. Hulle het in September 2015 saam ingetrek en is op 14 November 2015 getroud.

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Nadat die OMR die kinders begin monitor het, het Smit glo gereeld ʼn maatskaplike organisasie buite Orania en die streek se maatskaplike werker in Hopetown van die situasie ingelig, aangesien Orania nie ʼn polisiestasie of die nodige regte het om kinders uit sorg te verwyder nie. Volgens Smit het die plaaslike departement van maatskaplike ontwikkeling, in Hopetown, nooit by hulle uitgekom voordat die Koekemoer-egpaar aan die einde van September “oornag” uit Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits in Noordwes verhuis het nie.

Adv. Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger, het tydens kruisondervraging aan Schumann gestel dat daar nêrens in die hele Noord-Kaap ʼn klag oor die mishandeling by die polisie ingedien is nie. Hy het gesê die streek se maatskaplike werker sal ook getuig dat sy nie van die beweerde mishandeling ingelig is nie en het eers daarvan in die media gelees.

“Die eerste keer wat die polisie hierby betrokke geraak het, was toe die Brits-polisie dit begin ondersoek het ná Poppie se dood,” het Nell gesê.

Maroela Media het laat in Oktober 2016 die nuus gebreek van Poppie se tragiese dood, wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die Koekemoer-egpaar het toe reeds na Mamogaleskraal verhuis. Poppie is op 25 Oktober 2016 na ʼn hospitaal in Brits gehaas en kort daarna dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem.

Die patoloog het tydens Koekemoer se borgtogaansoek in November in die Brits-landdroshof getuig die hoofoorsaak van Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop.

Die patoloog het verder bevind Poppie het ronde kneusplekke aan albei hande, voorarms en voete gehad en albei oorskulpe was gekneus, “wat dui op oormatige aanranding van die kind”. Die patoloog het ook aangedui daar was bloed aan die onderkant van Poppie se skedel en bloeding aan die linkerkant van haar brein.

Louisa is op 15 Desember in hegtenis geneem. Albei beskuldigdes is sedertdien in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Die verhoor duur Dinsdag voort.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Monja

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Doodstraf doodstraf doodstraf ·

Doodstraf refrein in my brein, dit is al wat ek kan dink en sien vir hierdie 2 mense. Hoe slaan jy so klein kindjie met ‘n vuis, die gemors van ‘n man kan ek nog verstaan, dit is nie sy kind en geen bande, maar ‘n Ma wat veronderstel was om met “Moeder Natuur” geseend te wees. Liewe hemel julle is monsters, dit is onrehabiliteerbaar en sowaar as julle die 2 nie kastreer nie, is julle saam skuldig aan die vlg kind se dood. Menseregte of te not, babas en kinders het ook mense regte.

Bruno Stef ·

Die stiefpa is regtig n groot oppertunis verskyn voor die hof met n ANC T hemp om simpatie of steun van die hof te verkry. Ek sal voorstel dat hy nog n dolosgooier by sy verdediging byvoeg dit kan net sy onskuld beklemtoon.

Ander Annie ·

Bruno, ek stem saam. As ek na hulle fotos kyk, raak ek woes kwaad. Hierdie is een van die tye wat ek regtig wens ons kan “mob justice ” toepas. Hulle verdien nie om te lewe nie. Daardie pragtige dogtertjie se dood deur hierdie 2 mense, is die hoogste vorm van mishandeling en moord. Ek kyk na die ma se gesig en ek wonder hoe kan ‘n ma dit aan haar eie kind doen. Daardie bondeltjie liefde wat sy vir 9 maande in haar gedra het, het verdien om te lewe. My hart is stukkend oor Poppie met haar mooi ogies en glimlaggie.

Siestog de Jager ·

Hierdie is sooo onnodig! Wat interessant is dat die utopia Orania toe ook ‘n vuil onderkant het. Wil jy nou wragtig se dat nie een van die blanke kultuurvaders met die suiwere lewensstyl wat hul voorhou, iets daadwerkliks kon doen nie? Belaglik! Sulke dinge is mos nie veronderstel om daar te gebeur nie? Al die slegte goed word net in die res v SA beleef. Hoe dan nou?

anje ·

My keel trek steeds to en my hart so seer as ek dink aan Poppie se lyding. Mag die Here help dat geregtigheid geskied. Ek bid met my hele hart dat poppie by Jesus is en daai pragtige gesiggie net glimlag en geluk ken elke dag.

Riana ·

Sy is verseker by Jesus… Hy het mos gesê bring die kindertjies na My toe en verhinder hulle nie.

regverdig ·

waar is die stampvol hofsaal in die begin was al wat n aktivis was by die hof verigting maar nou is dit leeg?

Ekke ·

Dis nie net die ma en stiefpa nie – ELKE onderwyseres, ELKE maatskaplike werker, ELKE dokter, ELKE grootmens wat GEKIES het om NIKS te doen, terwyl hulle kon sien daar daar ernstige probleme is nie, het skuld aan Poppie se dood. Elke liewe een van julle. Elke een. Daar is tog karre in Orania? Jy klim in jou kar (en as jy nie een het nie – dan vra jy iemand vir ‘n lift) en jy ry self Hopetown of Kaapstad of Pretoria toe en gaan self polisie toe as jy sien die OMR doen nie hulle werk nie. Hierdie berigte oor Poppie maak my fisies naar – want julle het almal toegelaat dat hierdie dogtertjie mishandel en op die ou end vermoor word. Waar is Orania se leiers? Hoekom is hulle doodstil? Julle maatskaplike ondersteuningstelsel werk duidelik nie. Daar is tog nie duisende kinders in Orania om na om te sien nie? En tog het nie een van julle hierdie dogtertjie gehelp nie. Nie een van julle nie.

Nivea ·

ek stem saam met jou ekke ek kanie glo toe almal sien sy is so seer gemaak niemand iets gedoen het nie.

Linda ·

Ekke, beter kon jy dit nie stel nie! Ek word kwaad-hartseer of hartseer-kwaad terwyl ek die berig lees. Hoeveel meer bewyse van geweld en mishandeling wou hulle dan sien?? My hart breek vir die mooi ou dogtertjie wat soveel moes ly. Dis wreed! Ek sou skuldig gevoel het as ek een van die betrokkenes was wat niks gedoen het om haar dood te voorkom nie.

Andre ·

Mag julle die selfde in die tronk ervaar as wat julle aan daai klein engeltjie gedoen het, net aangepas deur volwasinheid. M.a.w 40 maal harder en erger.
Julle sal jal dag van rekenskap kry!

Ada ·

Almal wat be Poppie betrokke was voor en met haar dood is skuldig in my oe.

kat ·

Waarom het die skool nie die polisie in kennis gestel nie – hulle is almal voor die voet skuldig wat my aanbetref.

Oumie ·

AMEN! Ek stem saam met jou! Vir maande het hierdie mense vermoed, of nee eintlik geweet dat hierdie kinders mishandel word, maar niemand het hulle gehelp nie. Dit is kamstig gerapporteer. Ek sou nie kon slaap in die nag totdat ek nie geweet het hierdie kinders is in veilige hande nie.

Anoniem ·

Erken dit maar. Die regstelsel het kleine Poppie gefaal. Hul moes opgetree het met die eerste onraad vermoed.!!!!!!!….En dan die ouers verdien nie om te lewe nie. Hul gaan nie lank met hul leuens weg kom nie. Hoekom het jy kinders wat deur God aan jou geleen word en jy wil nie na hulle kyk nie.En hoeveel meer kindertjies daar buite word so behandel. Daar is bae. Maak nie saak watter kleur. Onthou God waarsku jou in Sy woord. Dis Sy kinders en die wat hul skade aandoen gaan nie daarmee wegkom. Jou dag gaan kom!!!!!!!

Vonkprop ·

En die ANC hempie nou? Dink jy wragtag die ANC sal jou kom help of dat jy gaan punte kry? En hou op om jou hartseer gesiggie te trek, jy lyk pateties. Jy dink jy was ‘n man om aan ‘n weerlose kindjie te slaan, wees nou mans genoeg om jou eie straf te vat. Nou nie meer so braaf nie nė. En aan die ma wil ek sê jy het niks om oor te glimlag nie. Jy is net so skuldig.

Etienne ·

Staan hy daar met sy ANC hemp en hy hoop hulle help hom…

Alida ·

Ek kan nie dink hoe hierdie twee mense ‘n ligte vonnis verwag nie. Daar is so baie getuies. Hoop die vonnis is swaar en dat hulle baie lank van hul misrabele lewe in die tronk sal wees. Die stelsel het hierdie kind versaak.

jerry ludick ·

ek self is n pa van 2 dogters 9 en 4.As ek van die werk afkom elke dag kan daai 2 nie wag om my te sien nie.My huwelik os by die voete van God maar as sy my dogter was sou ek daai stiefpa met my kaal hande iets aangedoen het ek huil myself dood as my dogters seerkry hoe kan hulle dit doen sonder n gewete hulle moet doodgaan in die tronk en in smarte lewe en nooit weer die buitelewe ervaar nie rus in vrede poppie jy is sowaar n pragtige engel vir God

Riana ·

Dis verskriklik!! En dan verontskuldig die 2 grootmense hulle..!!!! Ons regstelsel sal hulle kortvat en hulle sal hulle loon kry. Die Bybel sê hang n klip om jou nek en spring in die see… die wat die kinders te nakom!

Nell Conradie ·

Ek is oumagrootjie van 2 kleinseuns onderskeidelik 2jr en 1jr 8maande oud. Hulle is net n vreugde vir my. Poppie net 3jaartjies oud was seker ook n bondeltjie vreugde. Maar haar lewetjie is kort geknip deur twee wreedaardige mense. Watse Mamma is sy wat haar pragtige dogtertjie so kon verniel?? Hulle altwee moet eintlik die doodstraf kry…
Maar mag hulle lewenslank tronkstraf kry!!

Boet Fasie ·

Wat ‘n pragtige kind, hoekom het hulle nie die kind gegee vir aanneming nie,daar is baie ouers wat vir poppie ‘n konings lewe sou gegee het en haar sou waardeer het!!!

Alete Muller ·

By alles sit jy ‘n kersie op die koek met jou ANC hemp. Hoop jy die regter is ANC en deur die dra daarvan gaan jy afslag kry? Nee toe nie. Jy gaan toegesluit en die sleutel gaan weggegooi word.

Adriana ·

Julle almal het Poppie en haar klein boetie versaak Almal van julle reg deur die bank.

Sommer net... ·

Hoekom kan hulle nie belangrikhede soos hierdie ook 24/7 op televisie uitsaai nie…? Of is dit omdat Poppie nie miljoene vir SA werd is nie….???

Ella Jansen van Vuuren ·

Ek voel ook hoekom kon niemand voor sy vermoor is iets doen nie. Daar is hoeveel mense wat duidelik kon sien die kinders word mishandel. Ons mense moet ophou ander pad kyk as dit by kinders kom. As jy sien kinders word mishandel maak oop jou mond gee die mense aan of vertel die mense reguit. Hou op konflik vermy as dit by kinders kom. Ek praat nie van n hou op die boud nie maar regtig mens kan nie net anderkant toe kyk nie.

lea ·

Glo dit of nie langs my het n gesin gebly wat net so hulle kinders verniel het en ek het gerapporteer . Toe hulle eindelik kom ondersoek instel het die mense skieklik verhuis.
Of die kinders nog lewe of wat van hulle geword het weet ek nie. So rapporteur as julle iets vermoed moenie bang wees nie kyk hoeveel kinders en diere ly onder geweld . Doen iets moenie vir n andereen wag nie daar is goeie polisie ook wat graag wil help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.