Poppie-saak: ‘Medepligtiges’ glo nie vervolg

Kobus en Louisa Koekemoer. Foto: Phillip Bruwer

Die sewe persone wat in Desember deur die Go Purple-stigting, ʼn organisasie wat slagoffers van geweld en verkragting ondersteun, aangekla is in verband met die Poppie van der Merwe-moordsaak, gaan glo nie vervolg word nie.

Annari du Plessis, stigter van die Go Purple-stigting, het Maandag aan Maroela Media gesê sy het Vrydagmiddag laat ʼn e-pos van die Hopetown-polisiestasie ontvang wat haar in kennis gestel het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die persone gaan vervolg nie omdat daar “geen vervolging op die huidige beweerde aanklagte” kan plaasvind nie.

Maroela Media het vroeër berig Go Purple het in Desember ʼn strafregtelike saak van kindermishandeling teen sewe mense aanhangig gemaak wat hulle meen medepligtig was aan die moord op die driejarige Poppie.

Poppie is op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus Koekemoer, haar stiefpa, is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa, Poppie se ma, is op 15 Desember 2016 in hegtenis geneem.

Regter Bert Bam het Louisa (46) en Kobus (44), in Desember 2017 in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die mishandeling het oor ʼn tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek, in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes, en behels ook ʼn sesjarige seun.

Jaco Kleynhans, woordvoerder van Orania, het destyds ná die skuldigbevinding gesê: “Ons is besorg oor Sy Edele regter Bam se sydelingse opmerkings dat Orania meer kon gedoen het om Poppie te beskerm. Talle individue en instellings was aktief by die maatskaplike probleme van die gesin betrokke en ons is op ʼn diep persoonlike vlak deur haar moord geraak.”

Hy het bygevoeg omvattende berading en moniteringsprosesse het oor ʼn tydperk van maande in Orania plaasgevind en daar is na buite-instansies vir bystand uitgereik.

Poppie van der Merwe.

Du Plessis het gesê dat hul volgende stap nou is om die NVG te versoek om vir hulle ʼn amptelike kennisgewing met redes oor hul besluit te verskaf en dit dan van daar af verder te neem.

“Ons gaan ook binne die volgende maand ʼn bekende advokaat gaan sien,” het sy gesê.

Du Plessis vertel dat sy by navraag uitgevind het dat die transkripsies van die sewe persone se getuienis tydens Louisa en Kobus se verhoor ook nie in die dossier was nie omdat “die polisie nie geld het om dit aan te vra nie”.

Die persone het volgens haar ook geweier om verklarings af te lê. “Hierdie mense het sélf getuig dat hulle gesien het wat aangaan, maar nooit die polisie gekontak het nie. Regter Bam het daardie dag gesê daar moet eintlik meer verdagtes voor hom daar staan.”

Du Plessis sê hulle het geweet hierdie pad gaan nie maklik wees nie, maar dat hulle nie sal opgee nie. “Kinders sal nooit gehelp word nie. Die wet het skuiwergate, dit meld byvoorbeeld dat jy verplig is om mishandeling aan te meld, maar nie dat jy vervolg sal word indien dit nie gedoen word nie.”

Louisa en Kobus word 24 Mei in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eish ·

Nou hoekom sou n mens weier om n verklaring in n moordsaak af te lê? Inkriminering? Van jouself?
Ek stem heelhartig saam met regter Bam dat daar meer verdagtes voor hom moes gestaan het.
Go Purple, go!

Gemsbok ·

Waarom het Go Purple nie klagte teen die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanhangig gemaak nie? Die Oraniërs het immers getuig dat hul die beweerde kindermishandeling by die Departement aangemeld het en ook dringende versoeke gerig het dat die kinders uit die sorg van hul ouers geneem moet word.

Casper Labuschagne ·

Ek voorspel dat hierdie saak verder gevoer sal word, en dat reg of verkeerd, die sewe na wie hierbo verwys word ook aangekla sal word. Die politieke munt wat uit so ‘n saak sal volg is eenvoudig te groot om nie tot die uiterste te ontgin nie. En wees verseker, die regsbeginsel sal nie toegelaat word om met politieke doeleindes ter wille van demagogie en populisme in te meng nie, ‘n skuldigbevinding is so te sê verpligtend in so ‘n saak met ‘n politieke wins daarin.

Eish ·

Verskil weinig van die Life Esidimeni saak.
NALATIGHEID!!!
Orania of te not.

elise vertue ·

sou dit in die toekoms nodig wees kan Annari du Plessis met my in aanraking kom om die transkripsies gratis te doen van die sewe persone se getuienis. sy kan my kontak deur Maroela.

PJC ·

Miskien moet hierdie Go Purple klomp sorg dat almal in die land hulle telefoonnommer het sodat mense hulle kan kontak indien daar vermoed word dat kinders mishandel word. Die polisie veral op klein dorpies is nie meer bevoeg of toegerus om die publiek met sulke klagtes te help nie en dan weet die publiek nie waarheen nie. Die dame van Go Purple se houding gaan nie help om hierdie tipe probleme op te los nie. Dit gaan mense nog meer afskrik om betrokke te raak.

Se maar net ·

In ons dorp het n ma n klag by sapd laat terug trek teen haar man wat nou nog haar kinders aanrand. Wonder net hoe gebeur dit. Mens kan sien wat jy wil maar sulke mense staan altyd saam.

Max ·

Orania is die veilgste plek in Afrika. Doen jou familie n guns, besoek Orania en ervaar die Vrede daar.

Eish ·

Wie se vrede?
Bestuur?
Watter een van die 8 kerke?
Beslis nie n kindervriendelike omgewing nie.

Gerhard ·

Eish. Die enigste rede waarom enigsins verwys word na mense wat betrokke was is reeds omdat dit Orania is en agv. politiek. Daar word kinders op elke dorp en elke stad in SA mishandel, maar jy sal nooit hoor van mense wat vervolg word omdat hulle glo niks doen daaraan nie.

Reguit ·

In ‘n klein dorpie ken almal mekaar.

Watter tipe “samelewing” draai hulle koppe weg wanneer ‘n klein wit dogtertjie mishandel word totdat sy uiteindelik sterf?

Is dit dalk ‘n klein “konserwatiewe” samelewing van sowat 1400 wittes en agt kerke?

Is dit dalk die einste samelewing wat in 2009 vir Saint Mandela genooi het vir tee en koeksisters en daarna weer vir eerwaarde Malema in 2014 en 2016?

Casper Labuschagne ·

@Reguit – Ek woon juis in so ‘n klein dorpie. Dit is baie maklik om na die tyd vingers te wys. Ek is betrokke by ‘n nasionale organisasie wat hulp en bystand verleen in ons dorp. ‘n Voorval van ‘n powere maatskaplike toestand asook die aanduiding van voortdurende mishandeling het onder ons aandag gekom, maar dit is glad nie so maklik nie. Vergadering na vergadering bespreek ons die geval, en dit is onder die maatskaplike werkers, kerke, die skool en die SAPS se aandag gebring. Daarby help ons waar ons kan, alhoewel sulke bystand nie onder ons kernfunksie val nie. Maar ek weet dit is nie genoeg nie, nie eers naastenby genoeg nie. Maar wat, en hoe? Totdat daar ‘n insident plaasvind wat bewyse lewer sodat ingryping regverdigbaar is, is jy effektief ‘n toeskouer. Dan is daar ook die faktor dat maak nie saak hoe sleg dit in ‘n huis gaan nie, wil die kinders veel eerder self by Ma en Pa bly as by ‘n vreemde oom en tannie.

Piet Snot ·

Dié mense mors hul tyd. As daar óf geen regsplig is om iets te doen, óf geen sanksie as jy versuim nie, kan daar niks aan gedoen word nie. ‘n Sydelingse opmerking deur ‘n regter het geen regskrag nie.
Spandeer jul tyd aan kinders vir wie julle iets kan doen.

Nel ·

Soos die spreekwoord sê; “charity begins at home”.
Ek glo ook nie om ses mense voor ‘n regterstoel te laat paradeer en aan te kla van versuim ‘n oplossing gaan bied nie. Spandeer eerder tyd daar waar jy self ‘n huisgesin het om die verotting en die insinking van morelestandaarde wat ons tans beleef te bekamp.

Koeks ·

AMEN!!! Daardie is heeltemal waar!!! Ons mag nie opgee nie!!!

PJC ·

Reguit dit wil voorkom of jy nie juis op hoogte is met die nuus nie. Die persone wat jy noem wat Orania besoek het het hulle self genooi en uit die aard van die saak kon Orania hulle besoeke nie weier sonder dat ń helse kabaal los bars nie. Ja Gerhard jy is doodreg. Die enigste rede hoekom daar so ń groot bohaai opgeskop word is omdat Orania betrokke is. Ek wonder nog al die jare hoekom Orania so ń dring in die vlees vir sommiges onder ons is. Ek ding dit is afguns. Terloops ek woon nie daar nie al sou ek graag wou want ek dink dit sal wonderlik wees.

Annoniem ·

Wys net hoe pateties is ons land se regs-stelsel, dat mense weg kom met moord… :-/

Ebert Terblanche ·

Volgens getuienis van Oraniërs is die saak by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld en dringende versoeke is aan die Departement gerig om Poppie van haar ouers te verwyder.

So waarom word daar gepoog omdie Oraniërs te vervolg en nie die Departement en sy amptenare nie?

Dit klink vir my na selektiewe vervolging.

Gerhard ·

Hulle het die naam Orania gehoor. Dit is waaroor dit gaan. Verder vermoed ek daar is ook geen poging aangewend om agter die waarheid te kom nie en word daar op gerugte gereageer en/of bloot aannames gemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.