Poppie-saak: Ouma in trane in hof

Louisa Koekemoer Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

ʼn Emosionele Helena Susan Bothma (70), Louisa (46) Koekemoer se ma, het Dinsdag in die Pretoria-hooggeregshof getuig waar Louisa en Kobus Koekemoer (44) tereg staan vir die moord op die driejarige Poppie van der Merwe.

Die staat het reeds in November sy saak gesluit. Bothma is Dinsdag as die verdediging se enigste getuie opgeroep om te getuig.

Die Koekemoer-egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

“Ek wil net sê dat Louisa nooit aggressief was nie. Sy was altyd ʼn baie sagte mens gewees. As iemand iets verkeerd sou doen, sou sy eers die persoon probeer reghelp het. So sy het probeer om hom [Kobus] reg te kry voordat sy hom sommer net sou laat vervolg. Dit is hoe ek haar geleer het. As sy vandag daarvoor gestraf word, dan is dit my skuld,” het ʼn emosionele Bothma in die getuiebank gesê.

Bothma het getuig voor die Koekemoer-egpaar in November 2015 in Orania in die Noord-Kaap getrou het, was daar nooit voorvalle waar Louisa haar kinders aangerand het nie. “As hulle stout was, sou sy hulle van mekaar skei en hulle laat stil sit,” het sy gesê.

Bothma, wat self ʼn Orania-inwoner is, het getuig dinge het dadelik ná die troue begin versuur en die kinders het begin om bang op te tree.

“Kobus het my ná die troue uit die staanspoor laat verstaan dat ek nie meer ʼn sê in haar [Louisa se] lewe het nie. Voor dit was ons baie na aan mekaar en toe word ek belet om hulle te besoek. Hy wou nie hê ek moet weet wat in die huishouding aangaan nie. As ek en Louisa oor die telefoon praat, moes sy die foon se luidspreker aanskakel sodat hy kan hoor waaroor ons praat.”

Bothma het onder kruisondervraging erken dat hoewel sy die huis belet was, daar wel by die kerk geleenthede was waar Louisa haar van die probleme in die huis kon inlig. “Maar sy het dit nie gedoen nie, want sy was bang omdat Kobus haar gedreig het.”

Kobus Koekemoer Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Op ʼn vraag oor of owerhede in Orania vir Louisa en die kinders teen Kobus sou beskerm, het Bothma geantwoord: “Ek wil die plek nie sleg praat nie, maar die prosesse daar duur baie lank. Die welsyn, veiligheid en Orania se raad moet eers genader word, voor enige optrede van buite geneem word.”

Regter Bert Bam het ná Bothma se getuienis die staat en Louisa en Kobus se regsverteenwoordigers se slotbetoë aangehoor.

Poppie is op 25 Oktober 2016 na ʼn hospitaal in Brits gehaas waar sy met aankoms dood verklaar is weens ʼn harde hou teen haar kop wat erge bloeding en drukking op haar brein veroorsaak het. Kobus is kort daarna vir haar moord in hegtenis geneem. Louisa is op 15 Desember in hegtenis geneem. Albei is sedertdien in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Poppie van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

nossob ·

Dit wil vir my voorkom of Louisa die 1rste les van ouerskap (staan op vir jou kinders). Nie by haar moeder ge-erf het nie.

Liesbet ·

Waar is al die hofgangers (Poppie se ondersteuners)? Die saak kan tog nie in camera geskied nie?

Bossie ·

Hoe kon julle? Wat het jul besiel? Die brose klein dogtertjie, ‘n geskenk van God. Mag God jul vergewe want mense gaan nie. GEMORS, boos, laag, geneem, is al wat ek aan kan dink. Glo my, jul gaan betaal!

O jinne ·

O jinne Ouma jou trane beteken boggerol, jy kan skree soos jy wil, jy is die Ma van daai gemors en jy kon ingegryp het, geen genade vir enigeeen van julle. Skop, stamp en slaan ‘n 3 jarige dogtertjie. Ek is sooo kwaad.

alwyn burger ·

Die doodstraf geld nie meer in die RSA nie maar ek dink dit behoort seremonieël oor Koekemoer uitgespreek te word, voordat hy sy afgewaterde vonnis kry. Oscar se daad kon miskien ñ daad van passie gewees het maar hierdie is ongekende, irrassionele wreedheid.

Piet ·

Skuldig is hul skuldig maar is verbaas oor Orania wil nou nie meer soontoe gaan nie. N Nasie wat nie vir hul kinders kan opstaan nie is nie vir my nie.

Leon ·

Piet ek stem saam met jou ek dink mense moet net met ander oog begin kyk na die dorp dan sal hulle besef waaroor alles gaan maar dit is nou te laat n kind het haar lewe verloor

Lida Crouse ·

Net hoe hulle die hele aangeleemtheid hanteer het, het my so afgesit van die plek. Die tipe mense wat die dinge gesien gebeur het en niks gedoen het nie. Ag nee wat, nie my soort mense nie.

Arend ·

Piet, Lida en Leon. Ek verstaan nie julle ” logika” nie. Hoe op dees aarde kan Orania en sy mense hierby ingesleep word? Veronderstel die dorp wat ter sprake was, was Kroonstad of Ermelo of Pofadder of Springbok: sou julle op grond daarvan ook negatiewe besluite betreffende die betrokke dorpe geneem het? Sou die Kroonstadters en Springbokkers dan ook “ag nee wat, nie my soort mense nie” gewees het? Die onskuldige kind is blykbaar in Brits oorlede: is die inwoners van Brits nou ook nie julle soort mense nie? Kyk julle nou ook met ‘n “ander oog” na Brits? Was julle al in Orania?

Luzan ·

My hart is gebreek oor kleine Poppie…. Hoekom? Hoe kan dit gebeur? Ek verstaan nie!!!!!!! Wat kon so n dogtertjie so verkeert gedoen het om haar lewe te moes verloor!! Daai dingetjie spook by my????

Joy ·

Hoop die pyn-krete van die kinders sal vie ewig in jul ore weergalm

Simoné ·

Poppie is veilig in Jesus se arms. n Perel vir Jesus se kroon.

Landi ·

Wat skokkend is, is dat Poppie nie die enigste kindjie is waarmee dit gebeur nie. Mense dis tyd dat ons weer betrokke moet raak met wat om ons aangaan. Niemand stel meer belang om betrokke te raak nie maar wanneer n kind eers sy/haar lewe verloor wil almal opspring en hulle stemme dik maak, miskien moet ons….die sameleweing meer oplet en meet betrokke raak by sulke goed en dalk moet ons welsyn weer op standaard kom

anje ·

Ek hoop werklik dat albei lewenslank sit. Hulle verdien geen lewe na hulle klein Poppie sn geneem het nie. Hulle is albei ewe skuldig.

susan ·

Orania waar almal gaan wegkruip wat ‘n agenda het. So hoekom iets doen aan die marteling van ‘n brose klein blou oog dogtertjie? Ma ouma almal het geweet NEE NEE NEE julle het gefaal.

Marthie ·

OUMA as jy verbied is om daar te kom het jy mos geweet daar gaan iets aan Waarom het jy ook net weggekyk Rus sag liewe Poppie niemand sal jou ooit weer seermaak nie

Rina Pretorius ·

Orania se mense het ingetree maar die ma en pa het getrek daar en in Brits gaan bly, die ouma is belet om by haar kinders te kuier so ek dink dis onregverdig om te se mense wat in Orania bly is mense met ‘n agenda, moenie almal daar onder dieselfde kam skeer as die pa en ma wat daai mooi dogtertjie vermoor het nie. moenie sonde soek wat daar nie is nie.

JOHAN ·

Die ouers sal in die hel brand. Lekker, julle dag kom nou vinig.

susan ·

Hierdie is so erg
Wens dit wil nou agter die rug kom kan net nie meer in daardie blou ogies vaskyk en weet die samelewing het haar gefaal

Gerhard Bezuidenhout ·

Susan dit is n ernstige aantyging teen die mense van Orania . Was jy al daar ? Ek bly nie daar nie maar oornag soms daar en ry deur die dorp . Gaan vergewis jou eers van die feite voordat jy n oordeel oor die inwoners van Orania uitspreek. Hulle is beslis nie die twee aangeklaagdes se tipe nie.

Genade ·

Ja Ouma, deur die Liewe Heer se genade volg hierdie Regter die regte pad, nie deur jou blindheid vir jou kind se foute nie, anders was 2 moordenaars vandag vry. Ek hoop die ander 2 word ver van jou ook weggehou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.