Poppie-saak: ‘Seuntjie wil weet dat iemand hom glo’

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

ʼn Seuntjie, nou ses jaar oud, wat na bewering saam met die driejarige Poppie van der Merwe mishandel is, het Donderdag in die Pretoria-hooggeregshof getuig.

Staatsaanklaer Salomé Scheepers het regter Bert Bam versoek dat die seuntjie, wie se identiteit beskerm moet word, in camera getuig.

Bam het die gepastheid van die jong seun se getuienis bevraagteken en gevra of Scheepers die impak daarvan op die kind oorweeg het. Sy het gesê die seun het ʼn behoefte om te vertel wat gebeur het, want “hy wil weet dat iemand hom glo”.

Bam het daarna toestemming verleen dat die seun vanuit ʼn ander kamer deur middel van ʼn kamera en ʼn tussenganger wat hom bystaan, getuig. Scheepers het bygevoeg indien sy opmerk die situasie verloop moeilik, sal sy die hof versoek dat die getuie nie voortgaan nie. Die publiek en media moes daarna die hof verlaat.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van die seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

In die verhoor, wat Maandag begin het, het die hof gehoor Louisa het in 2014 van Westonaria aan die Wes-Rand na Orania in Noordwes gevlug nadat haar vorige lewensmaat haar glo aangerand het. Die Orania Maatskaplike Raad (OMR) en die gemeenskap het haar en die kinders finansieel en met kospakkies bygestaan totdat sy weer op haar voete kon kom. Finansiële bystand is gestaak toe Louisa ʼn werk, onderhoudgeld en pensioengeld uit haar vorige verhouding ontvang het.

Kobus het later na Orania getrek en vir Louisa ontmoet. Hulle het in September 2015 saam ingetrek en is op 14 November 2015 getroud.

Die OMR het in April 2016 opdrag gegee dat die gesin “gemonitor” en die kinders onder meer weekliks deur ʼn geneesheer ondersoek word nadat ʼn buurman, Jaco Roux, bewerings van “oordadige dissipline” aangemeld het.

Nadat die OMR die kinders begin monitor het, het die OMR se berader, Heidi Smit, glo gereeld ʼn maatskaplike organisasie buite Orania en die streek se maatskaplike werker in Hopetown van die situasie ingelig, aangesien Orania nie ʼn polisiestasie het óf die nodige regte om kinders uit sorg te verwyder nie. Die OMR het toe nie meer ʼn amptelike maatskaplike werker gehad nie.

Volgens Smit het die plaaslike departement van maatskaplike ontwikkeling, in Hopetown, nooit by hulle uitgekom voordat die Koekemoer-egpaar aan die einde van September “oornag” uit Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits in Noordwes verhuis het nie.

Adv. Adrian Nell, vir Louisa, voer egter aan dat daar nêrens in die hele Noord-Kaap ʼn klag oor die mishandeling by die polisie ingedien is nie. Die polisie het eers begin ondersoek instel nadat Poppie in die Brits- provinsiale hospitaal dood verklaar is. Hy het gesê Hopetown se maatskaplike werker sal ook getuig dat sy nie van die beweerde mishandeling ingelig is nie en eers in die media daarvan gelees het.

Christo van der Merwe, Poppie se biologiese pa wat in Westonaria woon en by al vandeesweek se hofverrigtinge was, is van mening sy “blouoog-dogtertjie is deur die wêreld in die steek gelaat”.

“Ons wil berusting kry dat die skuldiges aan die pen sal ry. Maar ons is ook hier vir al die Poppies daar buite wat nog lewe, en as ons kyk na dié week se staatsgetuies is dit baie duidelik dat daar nie net twee beskuldigdes voor die hof moet wees nie. Wie weet hoeveel ander mense het versuim om ʼn helpende hand uit te steek,” het hy aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het laat in Oktober 2016 die nuus gebreek van Poppie se tragiese dood, wat skokgolwe deur die land gestuur het. Sy is op 25 Oktober 2016 na ʼn hospitaal in Brits gehaas en met haar aankoms daar dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem.

Louisa is op 15 Desember in hegtenis geneem. Albei is sedertdien in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Die verhoor is tot Dinsdag uitgestel wanneer ʼn patoloog opgeroep gaan word om oor die nadoodse ondersoek en die oorsaak van Poppie se dood te getuig.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Kobus en Louisa Koekemoer in die Pretoria-hooggeregshof (30 Oktober 2017). Foto: Phillip Bruwer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Louwboepens ·

Christo van der Merwe,Poppie se biologiese pa sê nou dat sy blouoog dogtertjie is deur die wêreld in die steek gelaat.Lees asseblief `n vorige berig op Maroela van 4 November 2016.Daarin beweer Anja le Cornu, woordvoerder van CMR in Brits,daar is `n bestaande beskermings bevel teen Poppie en haar broer weens `n geskiedenis van gesins geweld teen hom.
Hy is dan mos deel van die wêreld waarvan hy praat wat vir Poppie in die steek gelaat het.Praat van dubbel standaarde.

snoefie ·

as Poppie se pa sy kinders gereeld gesien het of net met hulle iir die foon gesels het_ sou hy die mishandeling oogetel het. hy het sy kinders in die steek gelaat.

Petro ·

Dit is so bitter hartseer. Seker mense moet NOOIT ooit kinders he nie. En dis dit. Ek moet glo dat Poppie nou op n beter plek is en datgeregtigheidsal geskied (hier op aarde of dan in hulle volgende lewe).

Sonja ·

Wens so di doodstraf kom terug!!!! Ek ht ni woorde nie.

Geen kindji verdien dit om so behandl te word ni.

Alida ·

ALMAL insluitend die biologiese pa het hierdie kindjie in die steek gelaat. Hoop Regter Bam stuur altwee van hulle vir baie lank tronk toe waar hulle hoort.

Beatrix Rademeyer ·

Hoop hulle boet lewenslank vir wat hulle gedoen het.

Reynete ·

Liefste Poppie se pa, die wêreld, en ook JY het haar in die steek gelaat!!

Poplap ·

Ek stem saam met jou. Agv sy mishandeling is die ma weg van hom af. Nou maak hy asof hy n engel is.

Ella Bella ·

Poppie se pa is reg. Die wereld het haar in die steek gelaat, maar hy is beslis deel van daardie wereld. ‘n Groot deel van die skuld is op sy skouers.

Maar dat ‘n ma so iets toelaat, is vir my onverstaanbaar. As ma sal ek my kinders hand en tand beskerm. Party mense moet net nie ouers wees nie.

Marna ·

Vir wat staan die vrou so en smile. Ook geen berou nie… ek sal so ding iets aan doen.

Ma ·

Ons stelsel laat hierdie kinders in die steek. Mense wil nie sommer polisie toe hardloop nie want wat word van die ander boeties en sussies? Baie keer sal hulle in ons haglike stelsel beland en dit sal baie erger wees. Ons maatskaplike mense moet asb hier lees. Mens het mense nodig wat met sulke kinders en gesinne kan werk. Een aanranding word nog een en nog een en elke keer word erger. Ons kan nie bekostig dat ons kinders so verniel word en op die ou end met hule lewens moet boet vir ‘n stelsel wat hulle faal nie. Dit moet nie gebeur nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.