Poppie-saak: Uitspraak vandag gelewer

Kobus en Louisa van der Merwe. Foto’s: Phillip Bruwer

Regter Bert Bam gaan na verwagting Woensdag uitspraak lewer in die veelbesproke verhoor ná die moord op die driejarige Poppie van der Merwe.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), staan in die Pretoria-hooggeregshof tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016 in Orania in die Noord-Kaap en in Brits in Noordwes. Albei beskuldigdes het skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.

Die hof het tydens die verhoor gehoor Kobus en Louisa is op 14 November 2015 in Orania getroud. Bewerings van mishandeling is later onder die Orania Maatskaplike Raad (OMR) se aandag gebring, maar is nooit amptelik by die polisie aangemeld nie. Die egpaar het aan die einde van September 2016 uit Orania verdwyn toe die OMR begin ondersoek instel het en die gesin het na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits in Noordwes verhuis.

Adv. Salomé Scheepers, staatsaanklaer, het Dinsdag in haar slotbetoog gesê die staat kon daarin slaag om bo redelike twyfel te bewys dat albei beskuldigdes met ʼn gemeenskaplike oogmerk opgetree het en dat hul optrede tot die dood van Poppie op 25 Oktober 2016 gelei het. Poppie is dié middag met haar aankoms by die Brits- provinsiale hospitaal dood verklaar.

Die hof het tydens die verhoor, wat op 30 Oktober vanjaar begin het, gehoor Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nié die tipiese beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie. Die beserings is veroorsaak deur verskeie stomp voorwerpe soos ʼn hand, ʼn vuis of ʼn skoen. Die kind het ook verskeie merke aan haar lyf gehad waar sy vermoedelik gewelddadig geskud is.

Kobus is kort ná Poppie se dood in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember in hegtenis geneem. Albei is sedertdien in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Adv. Lana Augustyn, vir Kobus, het in haar slotbetoog aangevoer die moontlikheid dat Kobus vir Poppie die oggend van haar dood aangerand het, is onwaarskynlik, aangesien hy volgens ʼn spesialisgetuie se tydsberekening toe nie tuis was nie.

Adv. Adrian Nell, vir Louisa, het Dinsdag aangevoer Louisa was bang vir Kobus en dat die stelsel haar in die steek gelaat het. Hy het aangevoer daar is geen direkte getuienis gelewer dat Louisa die kinders in Orania aangerand het nie, ook nie voor die troue nie. Sy wou nie tydens die aanrandings inmeng nie, anders sou dit sake vererger.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Dank die Vader hiervoor. Dis n absolute sielswroeging om die berigte oor die saak te lees.

Genieve ·

Dankie Vader so bly die saak maak klaar..was en is altyd hartseer om oor haar te lees…straf hulle asb.

JA NEH! ·

MY HART IS SO SEER AS EK NA DIE BLONDE POPPIE KYK! OM TE DINK IN HA KLEIN LEWE MOES SY SOVEEL HARTSEER EN VREES DEUR GAAN! Ek kan nie verstaan hoekom kinders dit moet ervaar nie. Ek weet die Here het haar kom haal want sy verdien nie die sort lewe nie. EK judge niemand nie maar ek wil net sê dat ouers ten volle en maak nie saak wat nie altyd jou kinders eerste moet stel in alle opsigte! My kinders is my lewe en ek al nooit enige mens op Aarde bo hulle en hulle belange kies nie, die Here leen hulle vir my en ek sal hulle beskerm! Poppie meisie mens die tannie weet jy is op ‘n baie beter plek. EK volg die storie van dag 1 af ek kan nie verstaan hoekom nie maar die Here doen alles met ‘n rede. ***Mag jy sag Rus… ***

julius ·

Ek wonder net hoe dit moontlik is dat Kobus nie vir Poppie daardie oggend aangerand het nie,maar hy het haar hospitaal toe geneem en sy was reeds oorlede toe sy by noodgeval ingebring is.

Kowa ·

Hoekom het die kind wat nou 16 is nie gepraat nie? Sy kon mos vir die ouma gesê het wat gaan aan in daardie huis. Dis erg dat almal vir die arme twee kleintjies in die steek gelaat het en een nou dood is.

Alki ·

Ai my popolap, die Liewe Vader het jou kom haal, want die hopelose maatskaplike werkers het jou telkemale gefaal, hulle sou jou in elk geval na ‘n paar maande net weer aan jou ouers terugggegee het en daardie ou kleine lyfie kon nie meer langer al die houe en skoppe verduur nie. Jy is nou veilig in Jesus se arms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.