Poppie-saak: Uitspraak volg dán

Kobus en Louisa Koekemoer Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Poppie van der Merwe se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), sal binnekort hoor of hulle skuldig is aan die moord op die driejarige blondekopdogtertjie wie se tragiese dood die land geruk het.

Die staat het in November sy saak gesluit en Louisa se ma, Helena Susan Bothma (70), is Dinsdag as die verdediging se enigste getuie opgeroep om in die Pretoria-landdroshof te getuig waar die Koekemoer-egpaar teregstaan op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Adv. Salomé Scheepers, staatsaanklaer, het in haar slotbetoë gesê die staat kon daarin slaag om bo redelike twyfel te bewys dat albei beskuldigdes saam opgetree het en dat hul optrede tot die dood van Poppie op 25 Oktober 2016 gelei het.

“Al die staatsgetuies [meestal van Orania in die Noord-Kaap] was geloofwaardig. Al het hulle nie opgetree soos wat verwag was nie, was hulle eerlik en geloofwaardig oor wat hulle waargeneem het,” het sy gesê.

“Al twee beskuldigdes het in ʼn stadium beserings aan die kinders toegedien. Die staat voer aan dat al twee [vir Poppie] aangerand het.”

Scheepers het aangevoer in die laaste maand van Poppie se lewe op ʼn kleinhoewe buite Brits in Noordwes, waarheen die Koekemoer-egpaar aan die einde van September 2016 verhuis het, het die aanrandings erger geraak.

“Dinge het vir hulle in Orania te moeilik geraak en dit is hoekom hulle skielik daar weg is.  Hulle is die heeltyd daar dopgehou en kon nie doen wat hulle wou nie. Hulle het die laaste maand [voor Poppie se dood] probeer inhaal op dit wat hulle nie kon doen toe hulle dopgehou was nie.”

Scheepers het voorts gesê as Louisa so bang was vir Kobus soos wat sy beweer, sou sy ʼn plan kon maak soos toe sy in 2014 van Westonaria aan die Wes-Rand na Orania gevlug het nadat haar destydse lewensmaat haar glo aangerand het.

“Daar was geleenthede dat sy hulp kon soek. Sy het dit nie gedoen nie. Nie een keer by haar ma of by die Orania Maatskaplike Raad nie. Dit is omdat sy deel was [van die aanrandings]. Die beskuldigdes plaas nou die blaam op mekaar. Dit maak nie saak wie die finale hou toegedien het nie. Hulle het haar aangerand en nie omgegee wat die nagevolge gaan wees nie,” het sy afgesluit.

Adv. Lana Augustyn, vir Kobus, het in haar slotbetoë aangevoer die moontlikheid dat Kobus vir Poppie die oggend van haar dood aangerand het, is onwaarskynlik. Sy het gesê volgens die spesialis getuienis van die patoloog, prof. Gert Saayman, kon Kobus nie die aanranding wat tot Poppie se dood gelei het toegedien het nie, aangesien hy volgens tydsberekeninge toe nie by die huis was nie.

“Die beskuldigde het nie daardie dag aan die kind geraak nie. Oor die ander voorvalle waar hy erken het hy hardhandig opgetree het, kon hy nie voorsien dat sy optrede dood kon veroorsaak het nie,” het sy gesê.

“Beskuldigde twee [Louisa] het haar weergawe van gebeure daardie oggend aangepas en gesê die kind het uit ʼn kamer gestruikel en haar kop gestamp.”

Kobus het tydens sy getuienis aangevoer Louisa was “woedend” omdat Poppie die betrokke oggend vir die tweede keer haar bed vuilgemaak het en het gesien Poppie “kom hande-viervoet uit die kamer gevlieg, asof sy gestamp is”.

“Louisa het [vir Poppie] rof behandel en ʼn paar houe in die proses gegee. Sy het Poppie ook in die bad laat val en Poppie het haar kop gestamp. Ek het niks gesê nie, want ek wou nie inmeng nie,” het Kobus vroeër getuig.

Louisa het in haar getuienis beweer Kobus het Poppie se kop die aand tevore teen ʼn kombuiskas gestamp omdat sy nie haar kos wou eet nie. Hy het haar glo ook geskop.

Adv. Adrian Nell, vir Louisa, het Dinsdag aangevoer Louisa was bang vir Kobus en dat die stelsel haar gefaal het.

“Daar is geen direkte getuienis gelewer dat [Louisa] die kinders in Orania aangerand het nie, ook nie voor die troue nie. My submissie is dat dit [aanrandings deur Louisa] nooit gebeur het nie. Hoekom sou sy ná die troue in ʼn tiran verander? Sy het nie regtig die kinders aangerand nie. Sy het dit gelos sodat hulle nie verder aangerand word nie. Sy het nie gedink dit sal so ver gaan of dat die kind sal sterf nie. Sy was op die ergste nalatig, maar dit is nie moord nie,” het Nell gesê.

Regter Bert Bam het gesê Louisa het gesien wat gebeur het en het die geleentheid gehad om iets daaraan te doen, maar het nie. “Gemene reg maak voorsiening dat dit die ouers se regsplig is om voorsiening te maak dat kinders nie mishandel word nie,” het hy gesê.

Bam het bygevoeg op die oog af blyk dit of die rolspelers van Orania “bitter min” gedoen het oor die situasie, asof hulle “apaties was”.

“Die kinders is ernstig aangerand. Die verantwoordelikhede is in Orania rondgeskuif tussen onderwysers, dokters, ʼn berader, predikant, maar nooit is die polisie ingebring nie.”

Bam het kort daarna die hof laat verdaag om sekere aspekte in die slotbetoë te oorweeg. Die verhoor is tot Woensdag uitgestel wanneer hy na verwagting sy uitspraak sal lewer.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

O jinne ·

O jinne, Regter Bam maak asb die regte besluit, beide is ewe skuldig, toe daai gemros terugkom het hy die finale skoppe toegedien, beide het daardie arme goedjies aangerand. O jinne, ek sluk liewer alles wat ek wil uiter, dit sal nie geplaas word. wens sooo die doodstraf was daar.

Alida ·

Regter Bam het ook seker kinders of kleinkinders. Hy sal reg beslis. Daai 2 gaan lank sit.

Jollie ·

Regter Bam jy sal my Superhero wees as jy hierdie 2 gewetenlose dreksels vir ewig tronk toe stuur. Ongelukkig word die doodstraf mos nie meer in ons land toegelaat nie, want dis wat hulle verdien. Ek wag in spanning vir Woensdag.

Linda ·

Lewenslange vonnis is hopeloos te min vir hierdie mense !!! Hoop hul kry lewenslank elk plus nog 40 jaar daarby. Hul sal uit die tronk uitkom en meer kinders mishandel en dood maak ! Eintlik kan hul nie mense genoem word nie. Die ma is nou eweskielik soooooo onskuldig !!!! Sy was net so sleg gewees !!!!

Shorty ·

Mense wat sê dat die doodstraf moet terugkom dink nie mooi nie. Ek sou dit ook graag wou hê maar met die omstandighede in ons land sal di nie werk nie. Almal sien dat daar net een kleur in hierdie land is wat erg gestraf word soos met die doodskis saak. So wat dink julle gaan gebeur as doodstraf terug is? Net ons gaan dit kry die ander gaan tronkstraf kry.

Anoniem ·

Jy is ongelukkig reg.

Maar wragtag, hierdie mishandelde dogtertjie se dood roep om die doodstraf!!!

Suzie ·

Geen stelsel het Louisa “gefaal” nie – sy het self gefaal in haar plig as ouer

Zettie ·

Sopas uit – ma en stiefpa skuldig bevind……… rus sag klientjie. Jy’s beter af waar jy nou is.

Lizanda ·

Die beskrywings wat hier ter sprake is, is soos dele uit ‘n riller…….. jy kan eintelik nie glo dat 1 mens dit aan ‘n ander kan doen nie, wat nog te se aan jou eie kind.

Geesie ·

Ai kleine liefiekind, so baie mense in die “stelsel” het jou gruwelik gefaal. Jy het nooit eens ware moederliefde ervaar nie, maar tannas hoop daar waar jy nou is voel jy liefde. Rus in vrede liefste Poppie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.