Poppie se ma in hof

Louisa Koekemoer. Foto: Facebook

Louisa Koekemoer. Foto: Facebook

Louisa Koekemoer, Poppie van der Merwe se ma, verskyn Maandag in die Brits-landdroshof in verband met die dood van haar dogter.

Koekemoer is Donderdag omstreeks 15:00 by haar huis in Mamogaleskraal naby Brits in hegtenis geneem. “Halleluja! Prys die Here! God slaap nie,” het Christo van der Merwe, Poppie (3) se pa, gesê nadat hy gehoor het Koekemoer is ook in verband met hul dogter se moord in hegtenis geneem. “Vergifnis is in my woordeskat, maar dit gaan nie vir Poppie terugbring nie,” het Van der Merwe gesê in reaksie op ʼn vraag oor of hy diegene wat verantwoordelik is vir Poppie se dood sal kan vergewe.

Poppie se stiefpa, Kobus Koekemoer (43), is reeds in aanhouding vir dié moord. Poppie is die aand van 25 Oktober na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat sy vermoedelik aangerand is. Sy is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem.

Tydens Koekemoer se borgtogaansoek verlede maand het hy in die hof ontken hy het Poppie ooit aangerand. “Ek het haar hier en daar pak gegee, maar Louisa het my gevra om haar pak te gee. Ek het ʼn goeie verhouding met my stiefdogter gehad, daar was geen probleme nie,” het hy gesê.

Die patoloog se bevinding tydens die nadoodse ondersoek, was dat die hoofoorsaak van Poppie se dood, ʼn harde hou teen haar kop was. Die patoloog het verder bevind Poppie het ronde kneusplekke aan albei hande, voorarms en voete gehad en albei haar oorskulpe was gekneus, “wat dui op oormatige aanranding van die kind”. Die patoloog het ook aangedui daar was bloed aan die onderkant van Poppie se skedel en bloeding aan die linkerkant van haar brein.

Kobus Koekemoer. Foto: Maroela Media

Kobus Koekemoer. Foto: Maroela Media

ʼn Verklaring van Louisa is ook aan die hof voorgelees. In dié verklaring voer sy aan Koekemoer het Poppie en haar vyfjarige broer verskeie kere aangerand. Sy het ook gesê Koekemoer het haar verbaal en emosioneel mishandel sedert hulle in 2015 getroud is nadat hulle in Orania ontmoet het.

Sy het in haar verklaring gesê Koekemoer het haar die dag van Poppie se dood gedreig hy sal haar doodmaak indien sy die waarheid vertel oor wat met Poppie gebeur het. Louisa beweer sy het toe uit vrees vir die verpleegsters by die hospitaal gelieg en gesê Poppie het die kneusplekke aan haar lyfie in die bakkie op pad na die hospitaal opgedoen.

Kobus Koekemoer is borgtog geweier en sal op 25 Januarie weer in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

snoefie ·

vir Poppie was daar nooit borg wanneer “mamma” die vaderfiguur geroep het nie. sy is skuldiger as koekemoer.

Ada ·

Moenie borgtog toestaan nie – dit sal sooo verkeerd wees!!!
Dink aan Poppie, oor hoe verniel sy en haar boetie was en oor hoe sy gesterf het.
Niks kan daardie poppietjie terugbring nie.

treurgrond ·

Jesus ons moet net dink aan Poppie van der Merwe en wat sy deurgegaan het. Sy het ‘n mamma gehad wat vir haar kon opstaan my Jesus. Sy is nou veilig veilig veilig by U Jesus. Amen

al ·

Hoekom moet n kind aan soveel lyding blootgestel word? Laat die kind eerder aangeneem word. Ek is bly geregtigheid geskied

Arsène Lupin ·

Kyk net die kruis om haar nek, en die Jesus armband!
Louisa Koekemoer – jy is ‘n vrot verskoning vir ‘n ma, en nog ‘n vrotter verskoning vir ‘n Christen.

Annatjie Kruger ·

Wat my aanbetref is sy net so skuldig as wat sy sou wees indien sy self die aanranding gepleeg het. Hoe kon sy toelaat dat ‘n man haar kinders so aanranding dat dit een van hulle se dood veroorsaak. Hoekom nie die kinders na hulle pa stuur toe sy besef dat die man so wreed is?

Christa ·

Louisa, my kleinseun was gebore met breinkanker. Sy 5de maand hier op aarde, het ons sy diens in die kerk gehou, met die klein wit kissie voor in die kerk. Ons harte is stukkend.

Besef jy wat jy gedoen het? Jy kon nog jou dogter by jou he, my kinders treur oor hul seun.

Hoop dit laat jou dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.