Poppie se stiefpa getuig

Kobus Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Kobus Koekemoer (44), wat saam met sy vrou, Louisa (46), teregstaan op aanklagte in verband met die mishandeling van en moord op Poppie van der Merwe (3), het Dinsdag in die Pretoria-hooggeregshof sy weergawe van die gebeure die dag van Poppie se dood vertel.

Kobus was die eerste van die verdediging se getuies wat geroep is om te getuig. Hy en Louisa staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Kobus het Dinsdag getuig hy het Louisa ontmoet toe hy in 2014 na Orania in die Noord-Kaap verhuis het. Hulle het in September 2015 saam by ʼn huis ingetrek en is op 14 November 2015 getroud.

Kobus het gesê hy het aanvanklik dissipline toegepas en die kinders sou ʼn pak slae kry as hulle onder meer met hul kos speel en mekaar daarmee gooi. Hy beweer hy het egter in ʼn stadium opgehou om dissipline toe te pas toe die Orania Maatskaplike Raad (OMR) die egpaar oor merke aan die kinders se liggame aangespreek het.

Poppie van der Merwe.

Hy het aangevoer die kinders het die kneusplekke by hul dagsorgsentrum opgedoen. Hy het aan die hof gesê hy sou ʼn paplepel gebruik om die kinders ʼn pak slae te gee en “soms met die plat hand” op die kinders se boude of hande. Hy het egter daarna opgehou om die kinders te dissiplineer en dit in Louisa se hande oorgelaat “aangesien die OMR gereeld ingemeng het”.

Kobus het ook getuig, soos die hof voorheen gehoor het, dat Poppie in Augustus haar voet gebreek het toe sy by ʼn trappie by hul koswinkel in Orania geval het. “Sy moes op haar voet gesit het en haar voet het geslaap. Sy het toe by die trap geval toe sy op die voet trap. Ek het eers die volgende dag gesien daar is fout met haar voet,” het hy gesê.

Hy het ook getuig hy en Louisa het besluit om aan die einde van September 2015 uit Orania te verhuis, juis weens die inmenging van die OMR. “Ons het gatvol geraak. Ons het glad nie ʼn private lewe gehad nie. Nie by die winkel nie en nog minder by die huis,” het hy getuig.

Die Koekemoer-egpaar se destydse buurman het vroeër getuig die aand wat Poppie vermoedelik ʼn besering aan haar been opgedoen het, het sy bloedstollend geskree nadat hy gehoor het hoe Kobus op Poppie skreeu omdat Poppie haar bed vuilgemaak het. Koekemoer beweer egter sy het dié betrokke aand gegil aangesien sy “gereeld nagmerries gekry het”.

“Sy sou wakker word en skreeu en daarna in die huis ronddwaal en dan van die trappies afval. Louisa sou haar dan gaan bystaan,” het Kobus gesê.

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Hy het ontken dat hy die kinders met die vuis geslaan, geskop of op die grond rondgesleep het. Hy het ook ontken dat hy ooit vir Poppie teen ʼn muur of kas gegooi het, of dat die kinders gereeld hul beddens natgemaak of bevuil het.

Kobus het gesê die enigste beserings wat hy sien gebeur het, was toe hy en die seuntjie gespeel en gestoei het en die seuntjie sy oor teen ʼn tafel se hoek “stukkend geslaan” het.

Oor die dag van Poppie se dood op 25 Oktober 2015, toe hulle reeds op die kleinhoewe naby Brits gewoon het, het Poppie en die seuntjie die oggend normaalweg soos ander dae opgestaan. Die kinders was meestal in Louisa se sorg aangesien hy as nutsman begin werk het en gereeld Brits en Pretoria toe is om pamflette van sy dienste te versprei.

“Ons was toe besig om Poppie te potty train. Sy het ʼn glips gehad. Louisa het haar gevat, gaan afspoel, skoon klere aangetrek en haar straf was om in haar kamer te gaan sit. Ek het klaar geëet. Ek het toe ʼn verskriklike lawaai gehoor soos wat Louisa met Poppie baklei. Louisa het met haar geraas en gesê dat sy haar hele bed [bevuil] het. Toe ek in die gang gaan staan, toe sien ek hoe Poppie hande-viervoet uit die kamer kom, so asof sy gegooi is. Sy het probeer regop staan, maar haar balans verloor en teen die muur vasgehardloop,” het hy gesê.

Kobus het gesê Louisa het Poppie aan die arm gegryp en badkamer toe geneem. “Sy het die kraan oopgedraai en haar half in die bad laat val. Toe Poppie gegly het, het sy haar kop en arm gestamp.” Louisa het daarna die sproeier oopgemaak en haar afgespuit. “Sy was baie kwaad.”

Kobus het omstreeks 11:00 Brits toe gegaan om inkopies te gaan doen. Hy het op pad huis toe by ʼn kroeg stilgehou en was teen sowat 16:00 terug by die huis.

“Poppie het toe in die hoekie van die kombuis langs die asblik gelê. Louisa het gesê sy maak nou weer asof sy dood is, want sy het dit ʼn week vantevore ook gedoen.”

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

Hy is na buite om ʼn braaivleisvuur aan te steek, waarna Louisa hom vanuit die huis geroep en gesê het dit lyk nie of Poppie asemhaal nie.

Kobus beweer hy het Poppie opgetel en geskud, maar kon haar nie wakker kry nie. Hy het haar badkamer toe geneem en water oor haar kop gegooi, wat ook nie gewerk het nie. “Ons het daarna beurte gemaak om die CPR-ding te probeer doen. Ons het haar op haar bors gedruk en asem in haar mond geblaas.”

Die egpaar het daarna met haar na die hospitaal gehaas waar sy teen 17:00 dood verklaar is. Louisa het tydens die rit na die hospitaal agter in die bakkie saam met Poppie en die seuntjie gesit. “Ons het vinnig gery; dit was voet in die hoek.”

Kobus is ná Poppie se dood foto’s van haar talle beserings gewys en hy het gesê hy was nie van die helfte daarvan bewus nie, aangesien hy nie die kinders gebad het nie.

Die hof het ná Kobus se getuienis vir middagete verdaag. Hy sal vanmiddag onder kruisverhoor geplaas word.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Marius ·

So ‘n klein ou poppie. Hoe vreeslik bang moes sy nie gewees het nie…

Charmaine ·

Ek hoop hulle kry lewenslank tronkstraf. Die hel waardeur die arme kinders is….slegte ma!!!

William ·

Om die te lees maak my woedend hoop hulle kry lewens lank my hart bloei vir daai pragtige kind wat so behandel is ek haat enige vorm van kindergeweld ek was self n slagoffer van kinder geweld sulke ouers verdien nie om kinders te he nie hoop die Here straf daai ouers wat so pragtige mens en onskuldige kind se voorreg en lewe ontneem het ek huil vir elke kind wat seer gemaak word dat die Here hulle sal toe vou in Sy beskerming en liefde

Ina ·

En hoe in die lewe gaan hy verduidelik hoekom hy nie iets gedoen het om die dogtertjie te beskerm nie ? Nie hy nie en ook nie haar ma nie.Sy was alleen teen n groot man en vrou. Hulle altwee moet baie lank sit,en nooit weerdie voorreg he om in n kind se geselskap eers te wees nie. ?

Genade ·

Ons ontvang elke dag genade en tog vra ons nie elke dag daarvoor nie. Verder is daar geen verskil in die grootheid van sonde nie. Sonde bly sonde. Daars wel ń uitsondering en dit is die herhaaldelike ontkenning van die Heilige Gees.
So of ons nou die taxi voor ons toesnou in ń woede-bui of ontug pleeg of net begeer sonde bly sonde.
Voor ons iemand met snedige taal wil aanvat, dink net in watse verhouding staan ons nou met ons Heer. En buig in dankbaarheid vir elke dag se genade.

Lisa Coetzee ·

Ek is n christen en glo daaraan om te vergewe – maak nie saam hoe erg die daar is nie. Moet my asb nie verkeerd verstaan nie, my hart is in stukke oor die pragtige kind. Wat Ek graag by die ouers wil weet is: As julle nie na die kinders kan kyk nie of hulle is te veel vir julle, hoekom hul nie omgee vir aanneming nie. Daar is 100de paartjies wat kinders soek. Hierdie kindertjies van God het nie verdien wat met hul gebeur het nie. Maar Ek glo daarin dat ma en stiefpa regverdelik gestraf moet word!!

Vrou wees ·

Ek stem saam met jou Lisa Coetzee. Ek is 1 van daardie vrou wat alles sou wou gee vir n bondeltjie lewe van n kindjie klein. Dit is iets waarmee ek baie worstel. Hoekom hoekom gebeur sulke dinge met ons Pappa se geskenk van bo dat die ouers wat nie weet hoe om n kindjie groot te maak so baie kinders moet hê nie. En ons wat daagliks smag na ons eie bondeltjie liefde in ons arms dit nie kan kry nie.

Willem ·

Vrou wees, want ons “vader” is genadeloos. En tog bid ons elke dag om ons te spaar van al die haat en gemors van ons daaglikse lewens. Ek het nie gevra om so groot te word nie en het ELKE LIEWE DAG van my jongmens lewe gebid en gevra waarom ek so gemartel word deur my sleg ouers maar ek was nooit gespaar nie, ek droom gereeld oor wat gebeur het en waardeur ek was as kind. Is hierdie genade? Ek raak kwaad vir die mense wat so bid en “amen” se en glo die vader gaan ons te redding kom.

Henda Oosthuysen ·

Ek verstaan jou heeltemal reg. Jy vergewe. Ek weier om so iemand te vergewe. Nog minder vergeet. Hierdie pa en ma is kriminele. Ek vergewe geen moordenaar nie. Hoekom laat God so n verregaande vieslike daad toe? Weerlose kindjie teen siek ouers! Die ouers is gespaar..

Clowy ·

As Ma maak hierdie storie my so hartseer. Ek kan my nie indink hoe daai klein mensie moes voel nie. Elke keer wil ek net huil as ek dit lees. Hierdie ouers verdien nie om ouers te wees nie en ek hoop hulle gaan lank sit.

Bianca ·

JESUS slaap nooit!! Julle sal hard gestraf word. Hoe kan julle dit aan ‘n onskulige kindjie doen. Julle moet tronk toe gaan en mag daar aan julle gedoen word wat julle aan Poppie gedoen het. Julle kan nie mense genoem word nie

jan_alleman ·

nee wat hierdie twee se stories is beter as bladerunner sin , ek dink hulle moet vir n lang tyd gaan sit , hulle lyk in elk geval nie soos tipe mense wat die samelewing gaan mis nie

Phillie ·

Sou wonderlik gewees het as RSA doodstraf gehad. Hulle verdien niks minder

Ore ·

Rerig??? Die skuldige sal altyd die blaam op ‘n volgende persoon afdruk. Jy en Poppie se ma is daardie mense wat aan ‘n minderwaardigheids kompleks ly. Raai, sulke mense haal hulle frustrasies en haat op onskuldige kinders uit. Jy is nie mans genoeg om jou eie portuur aan te vat nie, nee JOU hande is mos gemaak om die weerloses aan te val en te vermoor. Meneer, se dankie jy ken my nie. Genade van my af is ‘n ronde NUL. Tronk is julle voorland

Theresa ·

Mens lees van gedurige water op kinders uitgooi of hul daarin gooi. Wat se onsinnigheid is dit!! As mens in elk geval nie bewus is van kneusplekke en waar jou kind pyn het nie – het jy reeds ouerskap gemis. Mens straf ook nie ‘n driejarige oor ‘n glipsie nie!!!
Gaan my verstand te bowe dat kinders by sulke mense gelaat word, terwyl daar reeds bewyse was dat die kind gereeld seerkry???

Me ·

Ek is nou sommer onsteld. Ek self het ‘n dogtertjie van Poppie se ouderdom. HOE doen iemand dit??????
My hart bloei vir hierdie arme kind wat in haar kort lewe soveel hartseer moes trotseer :(
So onskuldig en so onnodig.

ansie ·

Ek voel hul onregverdig wat hul daar gesoek want gaan vir plaasboere

G ·

Ansie, MM beperk elke persoon se kommentaar tot 250 woorde. Probeer volgende keer bietjie meer daarvan gebruik jong – dan sal almal verstaan wat jy probeer sê sonder om weer te moet lees.

Gesiggie ·

My hart spad in skerwe…. soveel mense sou wat wou gee, om so n mooi dogtertjie te kon gehad het… jul het haar verwoes, haar lewe van haar geneem om so n wrede manier… ek glo ook nie al jou sop stories Kobus”’ jy en Poppie se Ma Louisa is die oorsaak dat die kindjie dood is. En ja Kobus… nou wil jy als op die Ma blameer, nadat ek die buurman se verhaal gelees het van al die gevalle en hoe jul die kinders en Poppie hanteer het, is jul nie werd om ooit eers ouers genoem te word… ek hoop jul gewete pla jul vir ewig … as jul ooit so iets het.. Mag die saak gou opgelos word… en Poppie jy is veilig waar jy nou is… by Jesus sal geen iemand jou ooit weer kan seermaak.

Elize C ·

“…in ‘n hoekie langs die asblik gelê….” nee Nee NEE!!!! Arme weerlose klein kindjie, sak inmekaar langs die asblik soos ‘n weggooi-poppie. Ek het SO groot knop in my keel hier waar ek sit. Ek gaan nooit daardie beeld uit my gedagtes kry van ‘n gebreekte blondekop lyfie wat haar laaste lewende rusplek op aarde langs ‘n asblik gekry het nie. Wat was die laaste wat daardie pragtige sprekende blou ogies gesien het…? ‘n Woedende volwasse hand of voet wat in haar rigting gemik word….?

LMF ·

Julle gaan brand in die hel Jul het n geskenk van GOD liederlik in die steek gelaat natuurlik het poppie nagmerries gehad met julle in die huis ek is kwaad vir almal wat poppie se pad gekruis het jul almal is skuldig RIV kleine engelkind jy op n baie beter plek al kon dit so anders gewees het

Hanli ·

Ek moet nie eens ‘n opmerking maak nie, want ek sal vloek! Daar is ‘n 1000 dinge wat ek wil sê, maar dit sal nie hierdie Engel-kind terug bring nie! Ek bid net dat geregtigheid sal geskied en dat hierdie twee “mense” die straf sal kry wat hulle verdien!

Adele ·

Elke berig wat ek oor die klein mensie lees voel dit of my hart uitgeruk word. Hoe bang moes sy nie gewees het nie. Ek glo sy is gelukkig nou by haar Vader se voete. RIV klein mensie. Xx

rafel ·

Ek kan Ni eers di berigte klaar lees nie. Skuim vd aarde verdien die dood. Arme liewe kind. Kyk die hartseer ogies. Hoe kan ouers dit aan kindertjies doen. Geen erger sonde as dit

rafel ·

Hulle gaan seerkry in die tronk..baie. Glo my. Verdiende loon.

sharon mills ·

Hulle moet lewenslank kry Kannie glo dat n ma so haar eie kinders kan hanteer nie Sieklike mens

Adel ·

Kinders is n blessing! Weet nie hoekom moet die verkeerde mense kinders kry nie! Daar is soveel mense wat smag na n kindtjie. Breek my hart in stukke as ek net dink waardeur sommige kinders moet gaan. Mag elke kindtjie in hierdie deurmekaar wêreld beskerm word deur ons Liewe Here!!!

Andrea ·

Is dit nie vreeslik nie? Dood gemoor. Soos n ou mishandelde hondjie langs die asblik gelê en doodgaan. Alleen. Met die slegte ma wat daar rond was. Mag hul gestraf word.

Elsa ·

Maak seker almal in die tronk weet wat hulle gedoen het!! Ek is seker hulle sal daar ook uitgesort raak!!

Tracey ·

Dis ‘n skande meneer dat jy, as grootmens, absoluut niks gedoen het om daai weerlose kindjie te help nie.

Riana ·

Dis verskriklik! Geen normale mens kan sulke nuusgebeure hanteer nie. En die skrikwekkendste is dat daar nog sulke ouers is wat so optree teenoor hul kinders. Arme poppiekind… en die stiefpa is net so skuldig soos die nikswerd ma. Geen wonder die regering verbied lyfstraf … dis omdat grootmense hulself nie kan beheer en soos barbare raak. Die vrug van hul saad sal hulle eet en dit sal bitter wees. Hulle gaan een of ander tyd verantwoordelikheid MOET vat….

Sonneblom ·

Woorde ontgaan my… wat ek te sê het oor die gemors verskoning van ‘n ma en pa sal nie hier toegelaat word nie!
“Ons het beurte gemaak om die CPR-ding te probeer”. WAT DE FLIP, die manier hoe jy praat sê sommer vir my watter groot teleurstelling jy is. En jy “ma” die Here het jou met ‘n kind vertrou, een van Sy kindertjies… Die wêreld sal ‘n beter plek wees sonder julle.

Cacophony ·

Kom vertel nou weer hoe “goed” dit is om jou kind te dissiplineer met lyfstraf. Hoe goed die paplepel belt of plathand werk om kinders te dissiplineer. As hy van dag 1 af toegesluit kon word vir sy “dissipline” was daai kind dalk nog lewendig

Johann ·

Gewetenlose boosheids …altwee van julle! Mag julle goed verwelkom word in die tronk en julle elke nag vrees vir wat more voorlê vir julle. Vervloek is julle onheiligheid!

Tot jul ook ·

Tot jul ook jul nat & vuil maak uit vrees dat jul kan voel wat jul aan 2 klein kindertjies gedoen het.

Meisie ·

Ek verstaan nie hoe ouers dit aan hul kinders doen nie….. Die Here slaap nie. Daai ou lyfie het nie n lewe gehad nie…. om elke dag mishandel te word… hoe kom n ma nie agter haar kind le bewusteloos nie. En hoekom het die stiefpa nie die ma gestop toe hy sien hoe kwaad sy is nie… nee julle twee verdien mekaar en die tronk…. en mag julle vol vrees elke aand gaan slaap.

Seun ·

Kom lig jou hand vir n man …,hoekom n weer lose kind seermaak,daar is mense wat bitter graag n klein kindjie wil he,en jy maak hulle seer,,,,,jy sal voor God moet staan en antwoord..

Indien ·

Indien jy spot dryf of aandag soek is jy baie siek, net soos die 2 ouers. As so iets regtig met jou gebeur het, is jy veronderstel om n saak teen jou Ma te maak, maar ek twyfel of dit wel die geval is.

Neilia ·

Hoekom word hulle ouers genoem ? N ouer het deernis en liefde vir hulle kinders. Hulle het haat en mishandeling getoon . Hoe kan sy n ma genoem word ? Dis nie te se as jy geboorte gee dat jy n ma is nie. Mag die reg geskiet en daai monsters jare lank boet. Poppie kind ek wens jy was myne want hier sou jy net liefde gekry het.

Henda Oosthuysen ·

Jammer ek het per ongeluk by Willem se kommentaar “rapporteer” in plaas van “antwoord”.. Ek wou intik ek stem saam met hom

Ada ·

Moet ook nie die arme boetie vergeet nie. Net 5 jaar oud en so mishandel.

Suzie ·

Kobus, ek wil nou net weet….. jy beweer nou dit was jou vrou wat vir Poppie mishandel het. Hoekom het JY dan nie vir Poppie teen haar ma beskerm nie? Ek hoop daai arme kind se blou ogies is 24/7 voor julle en in jul gedagtes

nojoke ·

ek kan nie beskryf hoe daai pop moes voel nie maar as n 28jarige en ma myself van 2wonderlike kids is ek self deur mishandeling en selfs verkragting onder die hande van my ma se boyfriend van 14jaar en my ma was bewus van dit als maar het nogmaals gebly ek sl nooit haar besliute goedkeur nie dit het my lewe verwoes en my n paranoid ma gemaak oor my kids maar ek kon sien die ding het weggeeet aan my ma lke liewe dag en alhoewel ek nie weet hkm dit haar besliut was om tebly nie was my hemelse vader haar genadig en het haar kom wegneem na n beter plek toe 11jaar terug en so ook het ek verlossing gekry uit n hel uit so sterkfe aan enigeiema.d wat deur abuse gegaan het of gaan ek bid vir julle

Jakkie ·

haar laaste paar minute was langs n asblik, ek dink die Here het daai kind kom haal want hy weet sy lei en is beter af by Jesus se voete, julle plek is klaar geboek daar bo vir die ouers en ek hoop sy spook by julle

Retief ·

Die twee kom draai nog teen mekaar, haar ouer kinders lewe dan nog, sien hy het darem tyd gehad om te dink aan ‘n sogenoemde verduideliking.

anje ·

Ek wil glo die Here vergewe als maar NIE die seermaak van n kind nie. Ek bid dat hulle nooit weer die buitekant van tronk mure sal sien nie. Ek hoop en bid ook dat poppie se boetie nou in n beter huis grootword?

Francois ·

Ja kyk…geen mens kan die arme kind(ers) se pyn fisies en emosioneel beskryf nie. Wat my n knop in die keel gee is hoe sy gegaan het, en dat sy alleen gegaan het sonder n ma of pa wat haar vashou – sulke goed hou my nagte wakker!

Willem, ek kan net beaam wat jy se, en glo my ek weet hoe jy voel – ek het darem self hel gehaad in my jonglewe met n stiefpa. Dit gee my gemoedsrus en maak die seer van my jongdae draaglik omdat ek nou my lieflike kind grootmaak en hanteer soos ek gewens het om groot te word en ge hanteer te word. Vat jou seer en draai dit om en gee jou alles vir iemand waarvoor jy lief is – dis dit werd en begrawe die seer herinneringe – vat dit van n man wat verstaan hoe jy voel.

Linda ·

My hart bloei vir haar, dit is so hartseer, so n pragtige dogterjie om al so baie pyn te gehad het in haar kort lewetjie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.